(Opsomming – Babs Basson)

Die titel verwys na een van die beste essays wat Betrand Russel geskryf het, “Why I am not a Christian” (1927), ‘n onderwerp wat direkte betrekking het in hedendaagse gesprekke oor geloof en moraliteit. Vir Russell gaan ontwikkelende kennis hand-aan-hand met persoonlike groei en kan hy onmoontlik sy denke aan algemene formulerings vir Christenskap gelyk stel. Tegnies was hy dus, volgens Pieter, agnosties hoewel hy volgens praktiese oorwegings van sy tyd as ateïsties beskou is.

Pieter se vertelling van die komplekse lewe en prestasies van Bertrand Russell kaats soos ‘n draaiende kaleidoskoop die lig, donker, skel en sagter skakerings van die dikwels sombere dog briljante kritiese denker en digter.

Komende uit die Britse adelstand, ontvang hy uitnemende tuisonderrig as kind en later aan Trinity College, Cambridge. Hy verwerf sy eerste graad in Wiskunde en die tweede in Filosofie. Hy word lid van die invloedryke Bloomsbury Group waar hy in die dampkring van bekende vrydenkers, skrywers en kunstenaars beweeg, soos Virginia Wolf en haar suster Vanessa Bell, DH Lawrence, John Maynard Keynes (ekonomiese teoretikus), Ludwig Wittgenstein (filosoof) en ander. Hulle werke en lewensuitkyk het ‘n groot invloed op die letterkunde, estetika, kritisisme en ekonomie van die 20ste eeu gehad, asook op moderne benaderings tot feminisme, passivisme en seksualiteit.

Bertrand Russell was ‘n ywerige skrywer oor vele onderwerpe. Filosofie het hy op ‘n gewilde manier toeganklik gemaak. Wiskunde was volgens hom ‘n normale uitvloeisel van logika. Sy imposante Volume I van “Principia Mathematica” (900 pp), waarin hy sy filosofiese benadering tot wiskunde uitgelê het, is later in samewerking met AN Whitehead voltooi en in 1913 gepubliseer.

In teenstelling met sy familie se tradisie in die politiek (sy pa was ‘n Burggraaf en hy was die Derde Graaf Russell), was hy ‘n onwrikbare liberalis en passivis. Selfs al het sy lewensloop twee wêreldoorloë oorspan, was hy tot by sy dood ‘n aktivis vir beide kernontwapening en humanitêre aksies. Al was hy dikwels uiters kontroversieel, het hy met sy kreatiewe en rasionele benadering respek afgedwing.

Bertrand Russell was vier keer getroud. Sy eerste huwelik was met die puriteinse Alys Smith, ‘n verhouding wat gou sy fleur verloor het en hulle is uiteindelik geskei na ‘n lang tyd van vervreemding. In hierdie tyd het Russell vele verhoudings gehad, maar die vrou wat vir baie jare sy belangstelling gevange gehou het, was Ottoline Morrell. Bewyse daarvan was ‘n briewewisseling van meer as 2000 liefdesbriewe!

Sy tweede huwelik (1921) met die skryfster Dora Black was ‘n ‘oop’ huwelik. Dora het reeds twee kinders geha, so ook Russell. Toe hulle twee trou, was sy reeds ses maande swanger met sy kind.

Bertrand het sy eertydse oorvloed en erfgeld mettertyd uitgeput met rojale skenkings en bedrywighede met humanitêre bedrywighede. Skrywersvoorskotte was beperk en lewensmiddele al moeiliker bekombaar. Dora kon nie vrede maak met Bertrand se asketiese lewenstyl  en toegewydheid aan hulpaksies vir minderbevoorregtes nie. Hulle huweliksverhouding het al meer gespanne geraak, veral weens die versorging van hulle groeiende gesin. In 1927 het hulle ‘n progressiewe skool begin en hoogstaande onderrig aangebied. Hulle het behoeftige kinders geleer om tussen irrasionele en rasionele denke te onderskei en die tradisionele sienings van voorgeslagte rasioneel te benader. Hierdie onderwysbenadering het Dora Russell in haar boek “In Defence of Children” verduidelik. Sy was ook ‘n voorstaander vir vroueregte en geboortebeperking. Hierdie huwelik het egter ook nie stand gehou nie.

In 1936 trou hy met Patricia (‘Peter’) Spence, sy derde vrou. Ook hierdie huwelik was ‘n mislukking… ‘n “laagtepunt in ‘n lewe van mislukkings” volgens Ray Monk in sy boek oor Russell se lewe, “The Spirit of Solitude”.

Na die Tweede Wêreldoorlog (1945) verskyn sy baie geslaagde boek “A History of Western Philosophy” wat hom van ‘n goeie inkomste vir die res van sy lewe voorsien het.

In 1950 het Russell die Nobelprys vir Letterkunde verwerf vir sy volgehoue skrywersbydrae tot ‘humanitarisme’ en vrye denke. Hy skei in 1952 van Peter en trou kort daarna met sy vierde vrou, Edith Finch, ‘n dosent in Engels vir wie hy al sedert 1925 ken. Hulle huwelik was volgens alle aanduidings ‘n gelukkige en liefdevolle verbintenis en sy het hom tot sy dood versorg. Bertrand Russell se seun, John, was geestelik siek en dit het baie spanning tussen Bertrand en sy vorige vrou Dora veroorsaak. John se vrou het ook ‘n geestessiekte gehad en uiteindelik het Edith en Bernard die wettige voogde van John se drie dogters geword, waarvan die een later met schizofrenia gediagnoseer is.

Betrand Russell sterf in 1970. ‘n Borsbeeld van hom deur Marcelle Quinton staan vandag in die ‘Red Lion Square’ in Londen.

Ten slotte haal Pieter vir Russell aan:

“Three passions have governed my life: the longing for love, the search for knowledge, and unbearable pity for the suffering of mankind.”

Dus, anders as wat mens in die omgang hoor, gaan humanisme nie alles oor mense nie ‒ ‘n belangrike aspek is die ondersoeke na dit wat waar en regverdigbaar is. Wat kan ons dus hieruit haal? Pieter reken die belangrikste is om te volhard in kritiese denke en voortdurend te besin oor opvoedkundige teorie en praktyk, moraliteit, die nut van godsdiens en die strewe na omvangryke nadenke (“a largeness of contemplation” ‒ Russell).

Kommentaar van die kantlyn: Met opstapelende gegewens oor mense en lewensinvloede wat hierdie kreatiewe en komplekse persoon, Bertrand Russell, beïnvloed en gevorm het ‒ in ‘n tydsgewrig van vernietiging en veranderinge wat onder andere deur twee wêreldoorloë gebring is ‒ het Pieter Botha die gehoor ietwat oorweldig… gedwing?… om te vra: Wat het dít te doen met die essay “Why am I not a Christian”? Wat maak ons hiervan as dit kom by die “waarde en rol van godsdiens”? By nadenke oor Pieter se praatjie, wil ek vra: “Kan enigeen ‘n uitspraak hieroor maak sonder om die kompleksiteit en opofferinge raak te sien van mense wat gewaag het om nuut en rasioneel te redeneer in tye van ontstuimige veranderinge? Hierdie aanhaling uit Dora Russell se “The Right to be Happy” verduidelik hoe sy die reuse-taak benader het om broodnodige sosiale en ekonomiese verandering in ‘n veranderde wêreld te bring:

“It has taken us centuries of thought and mockery to shake the medieval system. – With this in view I have taken as impulses, instincts, or needs certain driving forces in the human species as we know it at present, and argued for such social and economic changes as will give them new, free, and varied expression. To take even this first step towards a happy society is a herculean task. After it has been accomplished, generations to come will see what the creature [us] will do next. We none of us know; and we should be thoroughly on our guard against all those who pretend that they do” (Dora Russell, Author’s Preface, The Right to Be Happy, Harper & Brothers,1927).