Midrandbyeenkoms: Sondag 10 Julie 2016: Die lewe is nie soos ‘n Powerpoint-aanbieding nie; alles is nie netjies ingeryg en verduidelik nie, sê Petrus. Dis ‘n reis deur ‘n vreemde landskap, sonder ‘n GPS. (Hy verwys na Willie Esterhuyse se boek Geagte Jahwe, ‘n reisverhaal.)

Petrus stel dit onomwonde: sy reis wat met sy geboorte in Uniondale begin het, is nog nie klaar nie. Dis soos die Komodo-draak se byt – dis nie giftig nie, maar die effek is onontkombaar.

Hy dink terug aan al die voorskriftelikheid van die verlede, hoe maklik almal dit aanvaar het, soos die wit das, die swart pak… Hoekom? Sê wie? Dis by vrae vra wat hierdie reis begin het.

Hy herroep ‘n kindertydse vriendskap wat hy met ‘n onderwyser gehad het, een so eerlik en vol vertroue dat die vriend een nag aan sy venster kom klop het om sy uit-die-kas-belydenis met hom te kom deel. Hulle het lank gesels, ook oor wat die Bybel daaroor ‘sê’ en nie ‘sê’ nie, maar die aanvaarding was onmiddellik en liefdevol. Die Bybel? God haat gays, is hulle geleer, en al die ander argumente. Weer lees hy die Bybel, en hy ‘lees’ sy vriend… en hy glo sy vriend.

Ná skool gaan studeer hy onderwys. Een maand as onderwyser gee hy gehoor aan die roeping in sy tienertyd, soos hy geglo het, en gaan studeer vir dominee.

Maar… “Hoe lank hou muurpapier?” Dis ‘n vraag van iemand in ‘n vriendskapsgroep in Bloemfontein, eerlike mense wat gereeld saam gesprek voer, sonder maskers. Ís die Bybel die fondament vir die lewe? Onderworpe aan so baie vrae het Petrus se ‘Bybel’-fondament begin kraak, ‘n groeiende aftakeling wat uiteindelik die ‘muurpapier’ sou skeur (soos in ‘Priscilla, die mooi rot’ se storie).

Toe word God vir Petrus god.

Hy neem ‘n beroep aan na Verkeerdevlei. Die pleknaam kom van ‘n vertakking van die rivier wat op ‘n manier ‘n ander draai gooi en in ‘n ander rigting as die rivier wegvloei. Op die walle van die wegdraairivier het die water opdrifsels gestoot ‒ soos die lewe ook in hierdie dorpie maak. Petrus kry die mense lief. Onder die liefde en ondersteuning wat daar heers, begin die neerslagtigheid te lig, opdrifsels spoel skoon en wegdraaimense raak gesond.

Wie is ek, vra Petrus, as die geloofsverhale vir ander mense sin maak? Maar telkens het sy voorgeegeloof aan hom geknaag en geleidelik is “So sê die Here” met “So sê Petrus” verplaas. Hy was altyd eerlik en het gesê dis hoe hý dink en dat hy nie altyd antwoorde het nie; dat die lewe nie altyd uitlêbaar en oplosbaar is nie. Dit het al moeiliker geword om vir mense vir wie jy innig omgee as dominee dinge te leer wat jy self nie meer glo nie.

Tot die vraag vir hom te dringend geword het: “Wie ís ek nou?” En toe haal hy sy masker af, hy klim uit die ‘kas’, en ná ‘n innige preek met vele tranerigheid… bedank hy as dominee en as Christen.

Een ding wat hom altyd kwaad en hartseer maak, is mense wat die liefde blokkeer, veral as hulle dit op die Bybel as ‘Woord van God’ baseer. Dit is ‘n soort sanksie wat tot vernietiging lei. Liefde en verdraagsaamheid vereis balans, ‘n toenadering van albei kante. Hy gebruik die gepaste uitdrukking: “I’ll bake you an omelette, but you have to break the eggs!” en verwys daarmee, soos vele ander beelde wat hy aanhaal, na ‘n rolprent, die aandoenlike kunsprent van versoening, ‘The Hundred Foot Journey’.

Die reis van die lewe na mekaar se harte toe maak nie ruimte vir etikettering nie. Ons word gebore as mense. Hy is ‘n mens.

Gebeure langs sy lewenspad is vol verrassings en veranderings. Die ou GPS werk nie meer nie. As hy terugkyk, was veral die jaar 2013 soos ‘n tornado in die lewe van sy gesin, met ervarings wat hul lewe omgekeer het. Maar die omwentelinge het hom oop gemaak vir ander mense. Hy stap maklik sommer oor na vreemdes en groet. Hy moes ‘n ander taal aanleer. Hy kon nie meer in die ou narratief vir mense bid met wie dit sleg gaan nie. Met ‘n vonkel in die oog verduidelik hy: “Almal vir wie ek bid, gaan dood!” Sy fyn humor bring gereeld verligting in ‘n swaar moment. Die lewe is hard, maar vir hom is liefde die wondermiddel vir genesing. Ook het hy begin skryf, skets en skilder, verruklike uitbeeldings van mens en lewe. En bevryding.

Hy erken sy reis is baie keer pynlik en eensaam. Dis moeilik om sy storie te vertel. Maar daar is ook baie vreugde en betekenis. Sy belangrikste medereisigers is sy vrou en seuns, asook sy Facebook-vriende (sê hy met sy kenmerkende laggie). Hy het ‘n nuwe terrein van ‘bediening’ gevind. Die lewe is heilig en inspireer hom. Beelde van God en Jesus sal hom altyd bybly. En eendag, wie weet, sal hy dalk ‘n “spesiale openbaring” kry. Sy reis is nog nie klaar nie. Hy reik uit na ander mense en hoor hulle aan. “Gode wil oorleef, en mense help hulle daarmee.” Hy sê dit met soveel deernis. Die lewe het nie plek vir arrogansie nie. Hy wil die vrede en vreugde wat hy ervaar met ander deel, liggies lewe, iets soos die “unbearable lightness of being”. Hy sluit af met: “Angels can fly because they take themselves lightly.”