MR Byeenkoms: 9 Julie 2017

Die boek Openbaring het al baie vrae ontlok, enersyds oor die uiteenlopende menings oor die dikwels verwarrende beelde en gebeure en andersyds oor die opspraakwekkende insluiting van die vreemd-geweldadige boek as deel van die Bybelse kanon. Was dit bedoel as vingerwysing of profesie? Verwys dit na historiese gebeure of die toekoms van die mensdom in verdrukking? Bring dit hoop of oordeel? Die gehoor by Daniël Louw se lesing was nie vreemdelinge waar dit by studiereekse en verskillende interpretasies van Openbaring kom nie. Tog was hulle ietwat onkant gevang deur die spreker se passievolle en deeglik nagevorste aanbieding.

Vanuit die staanspoor maak Daniël duidelik dat Openbaring ‘n drama is, ‘n narratief, ‘n storie binne tyd en ruimte. Daniël verwys na die belangrikheid van die drama as kontemporêre literêre kritiek, soos mens reeds by die Griekse drama van Sophokles uit die vyfde eeu vC, Koning Oedipus, kan waarneem. Soos met alle mitologiese verhale, tap die skrywer van Openbaring mildelik uit die beelde in die kollektiewe bewussyn van die Antieke mens om sy boodskap oor te dra.

Openbaring werk met die mens-in-krisis en is wesenlik ‘n morele korrektief; die dramatiese, misterieuse beelde word gebruik om die mensdom van daardie tyd te konfronteer met die eise van gehoorsaamheid aan die Woord (Gebooie) van God en aan Jesus as sy Getuie.

Of die skrywer die Johannes van die evangelie was of iemand wat die Johannese teologie verteenwoordig, en of die drama in geestelike of waansinnige vervoering geskep is, is dus nie die belangrikste vrae om te vra nie. Wat wel belangrik is, is dat die boek Openbaring ‘n drama is wat beelde en simboliek gebruik wat by die Antieke mens betekenis dra en dat dit, soos alle verhale en literatuur, ‘n tydgebonde literêre kunsuitdrukking is. Om die storie in die huidige leefwêreld te probeer verstaan, is gans onmoontlik tensy die leser deeglike kennis dra van die sosio-historiese agtergrond van die Antieke mens op wie dit aanvanklik gerig was.

Die Johannese teologie werk met Griek-Stoïsynse dualismes, bo en onder (en buite-wêrelds): nuwe skepping, nuwe aarde, die hiernamaals as ‘n geestelike bestaan. Die dood is ‘n transendering van die lewe, van die huidige na die toekomstige bestaan. Visioene wat herinner aan dié uit die boeke van Daniël en Henog (apokriewe boeke) skep die gevoel dat die skrywer kultureel voorbereid was vir sodanige vervoering (verwys “cultural consensus reality”).

Verder wys die visioene wat hy insluit op sy kennis van die apokaliptiewe eskatologie en die astrologie van die Antieke tyd, asook dat daardie tyd se getallesimboliek regdeur Openbaring ‘n belangrike rol speel. Ander simboliek wat gereeld voorkom is dié van metafore, lewende wesens, diere en drake, en kleure (soos die ‘wit’ perd).

Die spreker gee ‘n helder uitleg van die indelingstuktuur van die verhaal in die boek Openbaring, met sy ryke verskeidenheid teologiese motiewe van die tyd, die hoofboodskap van moraliteit, die verskillende visioene, die eerste, tweede en derde bedrywe, met die klimaks van oorwinning, die slot en die sewe briewe aan die sewe kerke in die sewe stede van Asia Minor (Op 2, 3).

Om die briewe laaste te lees (teen die agtergrond van die voorafgaande gegewens) maak dit moontlik om die inhoud van die briewe beter te vertolk. Die skrywer wys op die sewe motiewe in die sewe briewe: dié van die identiteit van die sender; lofprysing; sonde; oproep tot bekering; oordeels- en strafaankondiging; getuienis en laastens die bekroning.