Deur: Sakkie Spangenberg

Nie in my wildste drome het ek vermoed dat 2003 met ‘n hewige godsdiensdebat gaan begin nie. “Waarom sou mense hulle tyd en energie op so ‘n sinlose bedryf verspil?” kan mens vra. Vir my is dit duidelik ‘n bewys dat mense moeg is om ‘n rat voor die oë gedraai te word. Ons leef in ‘n wêreld wat totaal anders lyk as die wêreld van die mense wat vir die Bybelverhale verantwoordelik was. Ons leef ook in ‘n wêreld wat anders lyk as die wêreld van die teoloë wat vir die meesterverhaal van die Christendom verantwoordelik was. Noem die een pre-modern en die ander een postmodern – of wat ook al – maar weet net dis nie dieselfde nie.

Verskeie teoloë wat hulle teenoor die nuwe-hervorminggespreksgroep opstel, gaan van die standpunt uit dat daar al vir eeue ‘n standaardverhaal van die Christelike godsdiens bestaan. Voorts beklemtoon hulle dat mense nie hierdie verhaal uit hulle duime gesuig het nie – dis ‘n verhaal wat presies só in die geskiedenis afgespeel het en presies só in die Bybel opgeteken staan. Hierdie mense werk byna deur die bank met ‘n korrespondensieteorie van die waarheid. Verhale en gebeure word gelykgestel.

Die standaardverhaal (ons kan dit ook die meesterverhaal van die ortodokse Christendom noem) kan soos volg weergegee word:

Die ganse mensdom stam van een vader en moeder af, naamlik Adam en Eva. Hierdie eerste ouerpaar het egter ons almal se lot verseël toe hulle na die Satan geluister en God se gebod oortree het. Ons almal was bedoel om vir ewig te lewe, maar vanweë hulle ongehoorsaamheid in die tuin van Eden is ons almal bestem om te sterf. Die hele Ou Testament vertel die verhaal van hoe God die weg voorberei het vir die koms van sy Seun wat bestem was om die mag van die Satan en die dood te verbreek. Jesus het op die bestemde tyd as die ewige Seun van God uit die hemel gekom en mens geword. Hy het plaasvervangend onder God se oordeel aan die kruis vir die sondes van die ganse mensdom gesterf. Omdat Hy gehoorsaam was aan God se verlossingsplan en die kruisdood gewillig aanvaar het, het Hy die mag van die Satan en die dood verbreek. Die resultaat van hierdie soendood is dat ons almal nou vir ewig kan leef soos God dit van die begin van die skepping bedoel het. Die bewys dat Jesus se sending geslaagd was, is bevestig deur sy hellevaart, sy opstanding en hemelvaart. Jesus sal aan die einde van die tyd weer kom om diegene wat in Hom geglo het – en dus sy soenoffer aanvaar het – met die ewige lewe te beloon, maar diegene wat Hom en sy soenoffer verwerp het, met die ewige dood in die hel te straf. Dáár heers die Satan en sy engele.

Intensiewe studie van die Ou en die Nuwe Testament die afgelope meer as vier eeue, het klinklaar uitgewys dat die meesterverhaal nie voorgehou kan word as ‘n presiese weergawe van die Bybelverhale nie. Die meesterverhaal is die produk van die Griekse en Latynse kerkvaders wat gedurende die tweede tot die vyfde eeu geleef het. Dis niks anders as húlle kreatiewe vertolkings van die Bybelverhale nie. Drie van hulle, naamlik Hieronimus (342–420), Ambrosius (339–397) en Augustinus (354–430) het ‘n groot aandeel gehad in die finale afronding van die meesterverhaal. Hierdie drie staan ook bekend as die Latynse kerkvaders, want Hieronimus het die Bybel in Latyn vertaal en al drie se teologiese werke is in Latyn geskryf. Latyn sou vir meer as ‘n millennium die kerktaal van die Westerse Christendom bly en die teologie vir eeue domineer. Selfs Karl Barth (die groot Protestantse teoloog van die twintigste eeu) het hom nie toegelê op die studie van Hebreeus en Grieks om die oorspronklike verhale te lees en te bestudeer nie, maar op Latyn. Die rede hiervoor? Hy wou weer Augustinus se werke bestudeer. Sy Kerklike Dogmatiek is dan ook deurspek met aanhalings uit Augustinus se werke.

Uit Gerrit Brand se stuk “wanneer teoloë dokter-dokter speel” blyk dit duidelik dat hy ook nog glo dat die meesterverhaal ‘n presiese weergawe van die Bybelverhale is. Klaarblyklik het hy nog nie gehoor van die groot paradigmaverandering aan die einde van die negentiende eeu op die terrein van die Ou-Testamentiese wetenskap nie. Gedurende daardie jare het verskeie vooraanstaande Ou-Testamentici eenvoudig begin wys dat dit wat tradisioneel in verband met die Ou Testament geglo is, nie steek hou nie. Die Ou Testament is nie maar net ‘n voorhof van die Nuwe Testament nie en die verhale is nie maar net verhale van Jesus in ‘n ander gedaante nie. Verskeie van hierdie Ou-Testamentici is dan ook van leerdwaling aangekla. Wat hulle verkondig het, het nie meer met die tradisionele Protestantse belydenisse gestrook nie. Aanvanklik het dit gegaan oor sake soos of Moses vir die hele Pentateug verantwoordelik was, of Dawid al die Psalms geskryf het, en of Jona letterlik in die vis was, maar mettertyd het leerstukke soos die erfsondeleer en die moederbelofte in Genesis 3:15 ook in die spervuur beland.

Ou-Testamentici het nie meer die Ou-Testamentiese verhale in terme van die meesterverhaal gelees nie, maar as selfstandige verhale wat uit ‘n ander tyd en kultuur kom. Dit het dan ook gelei tot die geboorte van Ou-Testament teologieë. Let wel nie Bybelse teologieë nie. Hierdie teologieë is nie geskoei op die lees van die meesterverhaal nie en vertel ook nie ‘n verhaal wat onafwendbaar op Jesus as Verlosser uitloop nie.

Ou-Testamentici het ook uitgewys dat geeneen van die sogenaamde messiaanse profesieë in die Ou Testament Jesus werklik voorspel nie. Nóg Jesaja 7:14, nóg Jesaja 52:13-53:12, nóg Daniël 9:26 voorspel Jesus. Wat wel gebeur het, is dat die skrywers van die Nuwe Testament bestaande godsdienstige literatuur gebruik het om Jesus te “preek”. Die Nuwe-Testamentiese verhale bou op die Ou-Testamentiese verhale. Bybelverhale gryp altyd terug – nooit eeue vooruit nie.

Ou-Testamentici het ook besef dat Israel se godsdiens nie van Moses se tyd af monoteïsties was nie. Israel het ook nie in ‘n drie-enige God geglo nie. Die idee van die opstanding het voorts maar eers teen die einde van die tweede eeu vC deel van hulle godsdienstige oortuigings geword. Die godsdiens wat Jesus beoefen het, was ook nie ‘n embrionale vorm van die Christelike godsdiens nie. Daardie godsdiens word tans omskryf as Judaïsme van die Tweede Tempeltydperk (of vroeë Judaïsme). Jesus het nie rondgeloop en verkondig dat hy maagdelik ontvang is en uit twee nature bestaan nie. Hy het God se koninkryk gepreek, d.w.s. God se heerskappy hier op aarde!

Waarop loop my argumente uit? Dat na vier eeue se intensiewe studie van die Ou en Nuwe Testament heelwat teoloë nie meer die meesterverhaal van die Christendom beskou as ‘n perfekte vertolking van die Bybel en as ‘n vertolking wat ons ten alle koste orent moet hou nie. Beter gestel: Die meesterverhaal kom ook maar net uit ‘n spesifieke tyd in die geskiedenis van die Christendom. Dit verwoord nie ewige waarhede nie. Bybelwetenskaplikes vertel ander verhale. Natuurlik is hulle verhale ook kreatiewe vertolkings van die Bybelverhale, maar hierdie vertolkings berus op intensiewe studie van die ou Nabye-Oosterse en Grieks-Romeinse kulture. Dit is dus ingeligte vertolkings. Voorts is dit kultuursensitiewe vertolkings. Alhoewel maagde in ons samelewing nie swanger raak nie, weet ons dat dit vir dáárdie mense ‘n realiteit was. Net soos wat ek nie in die tokkelossie glo nie, maar weet dat hy vir baie van my medelandgenote ‘n realiteit is, so was maagdelike geboortes vir daardie mense ‘n realiteit. Hoekom is hy nie vir my ‘n realiteit nie? Want ek deel nie daardie kultuur nie.

Ons moet ons afvra: “Maar wat wou daardie mense met sulke verhale kommunikeer?” Ek verwag van geen mens wat wat iets weet van die menslike anatomie en fisiologie om te glo dat maagde swanger kan raak nie. Binne my kultuur en leefwêreld gebeur sulke goed nie. Wat ek wel verwag, is dat so ‘n persoon oop sal wees vir die oortuiging dat daar mense in antieke tye was vir wie sulke verhale waarheid was. Daardie waarheid het met hulle kultuur en tyd saamgehang. In die woorde van John Shelby Spong in sy boek A new Christianity for a new world (2002:118):

The early Christians simply did not understand the woman’s role in reproduction. They reasoned not from scientific knowledge but from an analogy drawn from their common life. The knew that a farmer planted his seed in the soil of the earth and that Mother Earth nurtured the seed into maturity. This was the analogy that shaped the way the ancient Jews understood human reproduction. The life of any new born baby was believed to dwell in the seed of the male. The woman’s contribution, like that of Mother Earth, was only to provide a nurturing womb. She did not add to the substance of the new life.

As gevolg van hierdie siening het teoloë later jare hulle koppe gebreek oor die vraag of Jesus dan nou ‘n God, ‘n mens of ‘n God-mens was. As die Gees die embrio gegee het (Maria was net ‘n vat) kon Jesus mos nie werklik ‘n mens gewees het nie? Die hele dosetiese stryd het voortgevloei uit daardie teoloë se gebrekkinge kennis van die vrou se rol in die verwekking van kinders.

Ons kan vandag die saak anders beredeneer omdat ons meer van die vrou se rol in die voortplantingsproses weet, maar as ons ons kennis in daardie verhale inlees, lees ons die verhale anachronisties.

Die Christendom gaan deur ‘n krisistyd en staan ook in ons land in die spervuur, maar ek koester die hoop dat intelligente mense hulle rug nie op die Christendom sal draai nie. Bybelwetenskaplikes kan hulle help om Bybelverhale kultuursensitief te lees. Wie dit doen, ontdek ‘n ryk skat van spirituele verhale met ‘n ryke verskeidenheid van ervarings – weliswaar geklee in die klere van mense wat eeue gelede geleef het.

Dis vir my immoreel om Bybelverhale aan swart vroue onder doringbome te vertel maar hulle nie te leer om kultuursensitief te interpreteer nie. Dis om hulle intelligensie te onderskat en van hule te verwag om in ‘n land te leef en te oorleef waar wetenskaplike kennis daagliks oor die TV en radio uitgespoeg word. Ek wonder of diegene wat so hamer op die vraag of die nuwe hervomers mense gesond kan maak die verhaal van biskop John Colenso (1814-1883) ken. Die Zoeloe wat biskop Colenso gehelp het om die Bybel in Zoeloe te vertaal, wou hom breek vir die verhaal van Noag en het kritiese vrae aan Colenso begin vra. Dit het Colenso laat besluit dat hy nie onwaarhede aan mense sal verkondig nie en hy hom tot die kritiese studie van die Ou Testament gewend. Hy is natuurlik ook as ‘n ketter gebrandmerk. Dalk het sekere mense nog nooit die volgende limmeriek raakgeloop nie:

There was a bishop of Natal
who had a Zulu as his pal.
Said the Zulu: “My dear,
don’t you think Genesis queer?”
Which converted me Lord of Natal.

Die kritiese Bybelwetenskap is nie so vreemd aan Afrika soos baie dogmatici en sendelinge ons wil maak glo nie. Selfs Afrikane kan hulle gesonde verstand gebruik en het ‘n ingeboude “spiritual bullshit detector”!
Opgedateer op : Wo 25 Jan 12