Tydens ons suksesvolle seminaar op 8 en 9 Oktober 2016, kon ons die insigte van vier gesiene kenners kry oor die tema “’n Blik in die toekoms se Kristalbal.”

Ons sprekers was mnr Pieter Geldenhuys, ‘n professionele toekomskundige; dr André Bartlett, teoloog; dr Frans Cronjé, leidende politieke ontleder en scenario-analis; en dr Abel Pienaar van Renaissance. Weens ruimtebeperkings sal die bydraes in aflewerings in die Nuusbrief verskyn.

Politieke perspektief deur dr Frans Cronjé:  “Suid-Afrika: Die volgende tien jaar”

Die Suid-Afrikaanse Instituut van Rasseverhoudinge (IRV) is in 1927 gestig en is tans ‘n ideesberaad wat ekonomiese en politieke vryheid bevorder (www.irr.org.za). Frans Cronjé is die hoofuitvoerende beampte, wat sy PhD in 2014 by die NWU in scenariobeplanning verwerf het.

Hy wys daarop dat dit nie moontlik is om die toekoms te voorspel nie en dat scenario’s gebruik word om verskillende toekomsmoontlikhede te analiseer en te illustreer. Scenario’s word beskryf as stories oor die toekoms wat intern konsekwent is. Gewoonlik word van meervoudige scenario’s gebruik gemaak om meer as een veranderlike in ag te neem.

Hy meld dat hy hierdie lesing in sy nuutste vorm die afgelope jaar aan ongeveer 200 groepe aangebied het, onder andere politieke groeperings (ook die ANC en EFF). Deurgaans noodsaak nuwe navorsing dat aanpassings daaraan gemaak word.

Volgens sy waarneming het die ANC onder Mandela en Mbeki se leiding ekonomies goed presteer soos blyk uit ‘n stygende reële BBP per kapita, vertroue in die toekoms, stygende huishoudelike inkomste, afname in staatskuld en groot verbeterings aangebring aan huise (elektrisiteit, water en spoelriool voorsien, ens.). SA het selfs in 1996 vir die eerste keer ‘n internasionale skuldgradering verkry. Die fase het ook gepaard gegaan met stygende verwagtings.

Die Zuma-regering het ekonomies/polities beduidend na links beweeg en met hul beleid van die “ontwikkelingsstaat” (‘developmental state’) wou die regering die staat en staatskorporasies gebruik om ekonomiese groei te voorsien. Talle van die positiewe ekonomiese aanduiders van die vorige era’s het omgekeer en daarmee saam ‘n vinnige toename in staatskuld en tekorte op die staat se begroting teweeg gebring. Cronjé toon baie duidelik dat ekonomiese groei omgekeerd korreleer met werkloosheid, vertroue in die toekoms en geweldadige protesaksie. Die pas afgelope plaaslike owerheidsverkiesing het duidelik getoon dat die vertroue in die regerende party afneem.

Die ANC is baie bewus dat ekonomiese groei nodig is omdat talle van die probleme wat in die onlangse verlede en tans na vore kom, insluitende die #FeesMustFall beweging, verband hou met die baie lae ekonomiese groei. Gesien in die lig van hul ideologiese ingesteldheid, weet die Party nie hoe om die ekonomiese beleid te verander om groei te verseker nie.  Cronjé en sy kollegas is van mening dat ekonomiese groei alleenlik deur fundamentele hervorming van drie aksies of hefbome verkry kan word, naamlik: 1) deregulering van die arbeidsmark;  2) skrap van Swart ekonomiese bemagtiging (SEB);  3) beveiliging van alle eiendomsregte.

Cronjé beskryf sy scenario’s aan die hand van twee hoofveranderlikes:

  • ‘n Ekonomiese stelsel wat verander van “Markgedrewe” na die “Intervensionistiese Sosialistiese Ontwikkelingsstaat”
  • Samelewing wat verander van “Sterk Beheer” na ‘n “Vrye en Oop Samelewing”

Hy identifiseer dan vier scenario’s:

  • “Breë Pad” (soos in 1991‒2007) van ‘n gewilde mandaat en markhervormings
  • “Tolpad” van beleidsverwarring te midde van lewendige en aktiewe demokratiese instellings
  • “Klipperige Pad” (soos 1985 en waarskynlik ook 2008‒2016) van sosialisme te midde van verbrokkelende demokratiese instellings
  • “Smal Pad” van gedwonge mark-vriendelike hervormings.

Frans CronjeHierdie scenario’s word in die bostaande diagram uiteengesit en toon die huidige aansienlike onsekerheid en turbulensie. Spesifieke verwikkelings kan aandui in watter rigting die land beweeg en watter scenario dan aan die orde kan kom.

Wiskundige modelle is gebruik om elk van die scenario’s te kwantifiseer vir BBP (bruto binnelandse produk,) groei, rente en inflasiekoers, begrotingstekort, skuld tot BBP verhouding en wisselkoers. Dit is alles op grafieke aangetoon.

Met die Breë/Smal paaie (die dekade ná 2019 beleef ‘n periode van dramatiese ekonomiese ommekeer) styg die parameters tot ‘n maksimum in 2020 en daal dan in 2029 tot die primêre rentekoers van 7.5%, jaarlikse BBP groei van 6%, skuld tot BBP van 30% en ‘n wisselkoers van 11 R/$. Met die Tolpad (SA betree ‘n era van onstabiele stagnering) styg al die parameters tot 2029 met BBP groei van 1%/jr, skuld tot BBP van 60%, rentekoers van 20% en wisselkoers van 28 R/$. Met die Klipperige pad (SA volg in Venezuela/Brasilië/Zimbabwe se voetspore) styg die grafieke tot 2022 en word dan vervang met ‘n groot vraagteken. In daardie stadium (2022) is die BBP groei minus-7%/jr, rentekoers 24%, inflasiekoers 17%, skuldverhouding 75% en die wisselkoers 50 R/$.

Cronjé meld vervolgens dat die ANC verdeeld is en dat die party se regtervleuel reformistiese potensiaal het. Die linkervleuel bestaan uit die kommuniste, Gauteng-provinsie, stedelike lede en die party se administrasie. Hulle het die probleem van die ideologiese bagasie van die Ontwikkelingstaat.

Die regtervleuel bestaan uit Zuma en dié wat deel is van sy patronaatskap, die ‘Premierliga’ (Mpumalanga, Vrystaat, Noordwes, KZN se premiers), tradisionele leiers en landelike ondersteuners, korrupte sakemanne en tenderpreneurs. Sy siening is dat die linkervleuel tans 44% steun in die ANC het met die regtervleuel 56%, en dat die 2017 ANC-wedloop SA se belangrikste verkiesing gaan wees.

Hy dink dat Zuma se uittrede waarskynlik in 2018 gaan wees en sy voormalige eggenote Nkosazana Dlamini-Zuma vanaf 2019‒2024 die posisie van President sal vul met Ramaphosa as haar Adjunk (om natuurlik dan in in 2024 President te word). In die tydperk sal Zweli Mkhize as die ANC se Sekretaris-generaal ‘n toonaangewende rol speel wat fyn dopgehou moet word.

Spiritualiteit: Abel Pienaar ‒ “Betekenis en sin vir die toekoms”

Spiritualiteit gaan in essensie oor hoe om wys te leef, om diepte en sin te vind te midde van ‘n wêreld wat meestal oppervlakkig en kunsmatig is. Dus is die groot vraag wat spiritualiteit betref nog altyd: Hoe leef iemand wat wys is? En vandag vra ons dieselfde vraag: Hoe leef ons wys in ‘n onwyse tyd,  ‘n tyd van geweld, korrupsie en magsmisbruik? Wat beteken wysheid in vandag se omstandighede?

Let wel, voor ons verder gaan: Daar is ‘n onderskeid tussen wysheid en om reg te wees. Om reg te wees, is meestal konteks gebonde, iets wat reg is vir ‘n Eskimo, is dalk heeltemal nutteloos en verkeerd vir ‘n woestynbewoner. Net so ook is moraliteit in oorlogstyd anders as in vredestyd. Dis presies waarna die vorige drie sprekers ook verwys het. Tye verander, seisoene kom en gaan. Frans Cronjé het begin deur te sê dat alhoewel dit nie tans goed gaan in ons land nie, dit voorheen al erger was. Dit wat was, gebeur weer en so herhaal die geskiedenis homself die heeltyd deur. Pieter het ook hieraan geraak met sy verwysing na hoe iemand wat wys is die tekens in die verlede en hede kan lees om daardeur beter insig in die toekoms te vind. En André se gesprek rondom die kerk se huidige posisie in die samelewing wys ook duidelik dat niks stilstaan nie. Alles is die heeltyd besig om te transformeer en iets anders te word. Evolusie. En juis daarom is dit nodig om nie vas te val in wat tans in ons wêreld afspeel nie. Om wys te leef vra juis van ons om vloeibaar en wakker te leef, sonder om in te koop in vandag se sienings as die enigste en onveranderde waarheid. Dis presies wat Bertrand Russell bedoel het met: “Do not fear to be eccentric in opinion, for every opinion now accepted was once eccentric.”

Maar net soos waarhede veranderend en verbygaande kan wees, net so vas staan wysheid. Wat bedoel ek met wysheid? Wysheid is die vermoë om te weet wanneer iets reg is, en wanneer dit die regte tyd vir iets is om reg te wees. Dit is dus om die regte insig te hê en die regte oordeel aan die dag te lê. Iemand wat wys is, is nie noodwendig altyd reg nie, en iemand wat reg is, is nie noodwendig wys nie. Maar iemand wat kan leer uit sy foute, wat kan erken as hy verkeerd was, wat kan luister, leer en selfs ont-leer, is ‘n WARE WYSE. Dit is hoe die Chinese leermeester Lao Tzu was   ̶ ‘n Ware Wyse. Dis seker waarom ek soveel aanklank by hom vind, veral by sy waadevolle filosofie soos opgeteken in die Tao Te Ching. En ja, daar is vele ander wysheidstekste wat ook groot bydraes lewer, maar ek vind die Tao Te Ching die helderste rigtingwyser. Dit is ‘n aardse spiritualiteit en wysheid in werking. ‘n Praktiese filosofie. En soos ons weet, is filosofie die soeke na en liefde vir wysheid. Iemand wat wysheid met sy lewe en dade beliggaam, is ‘n Ware Wyse. Hiermee help Lao Tzu ons, en meer as enigiets anders is sy wysheid tydloos. Hier is ‘n voorbeeld in die Tao Te Ching, vers 30:

Hy wat in die Tao wandel,

dwing nooit sy eie wil af of gebruik geweld nie.

Want vir elke aksie is daar ’n teenaksie.

Geweld, selfs goed bedoel,

bring altyd meer geweld.

Die Ware Wyse doen sy deel,

en staan dan terug.

Hy verstaan dat geen beheer

oor die heelal uitgeoefen kan word nie.

En om enigiets te probeer oorheers

gaan teen die vloei van die Tao.

Omdat hy in homself glo,

probeer hy niemand oortuig nie.

Omdat hy in vrede met homself leef,

het hy niemand se goedkeuring nodig nie.

Omdat hy homself aanvaar,

aanvaar die hele wêreld hom.

Net ‘n vinnige verduideliking: Die Tao Te Ching (‘Die boek van die weg’) is die titel van ’n bundel van 81 kort Chinese wysheidstekste.  Dit is reeds sowat 500 jaar voor Christus geskryf. Dit is ’n poëties-filosofiese werk van ongeveer 5 000 woorde (“Die wat weet, praat nie. Die wat praat, weet nie.” TTC 56)…wat vir die afgelope 2 500 jaar ’n leidende rol in die Oosterse denke gespeel het. (Oosterse gevegskunste, Tai Chi, akkupuntuur en die grootste deel van hulle mediese vooruitgang, feng su, ens). Dit is natuurlik heeltemal anders as die Christendom of die Islam, want hulle maak geen aanspraak op goddelike gesag of inspirasie nie. Dit is veel meer  ’n natuurlike en aardse spiritualiteit. “Tao” word dalk die beste vertaal met “weg” of “pad”.

Lao Tzu word beskou as die skrywer van die Tao Te Ching. Hy was ’n tydgenoot van Confucius, ‘n ander bekende Oosterse leermeester en staatsman in die sesde eeu voor die huidige era. Confucius het op ‘n keer by Lao Tzu, wat op daardie stadium reeds ‘n baie ou man was, gaan kuier. Na die tyd het Confucius aan sy volgelinge die volgende gesê: “Ek weet dat ‘n voël kan vlieg, ‘n vis kan swem en diere kan hardloop. Om dié wat hardloop te vang, stel jy ‘n wip; vir dié wat swem, ‘n vangnet; en vir dié wat vlieg, gebruik jy ‘n pyl en boog. Maar om ‘n draak wat sweef op die wind te vang is bo my begrip. Vandag het ek Lao Tzu ontmoet, en hy is ‘n draak!” Die simbool van ‘n draak (vir Oosterlinge) is die van wysheid, heelheid en goddelikheid, ál vier elemente waaruit lewe bestaan: water (skubbe soos vis), wind (vlerke soos voel), vuur (vuurspoeg) en grond of klip (kloue soos die reptiel in die aarde self grawe en in grot en aardse holtes bly). Die legende vertel:  Teen die einde van Lao Tzu se lewe het hy besluit het om alleen weg te gaan. Nadat hy alles ingepak het, het hy op die rug van ‘n waterbuffel geklim en na die berge vertrek. By die Han-ku pas (op pad na Tibet) het die grenswag met die naam Yin His (wat glo net die vorige aand van Lao Tzu gedroom het) hom voorgekeer en geweier om hom deur te laat as hy nie vir hom iets op skrif stel van sy filosofie en insigte nie. Lao Tzu het toe die Tao Te Ching (uitgepreek Dow deh Jing) geskryf. Daarna het hy vertrek en niemand het hom ooit weer gesien nie. Mense het hierdie bundel begin bestudeer en daaruit is Taoisme gebore, ‘n filosofie wat opgesom kan word as ‘Die weg van minste weerstand, of weg van vloei, of weg van harmonie/balans’.  Wat interresant is van Lao Tzu se filosofie, is dat hy al sy wyshede bekom het uit sy waarnemings van die natuur en die lewe self.

Byvoorbeeld, alles is in ‘n delikate balans; alles in die natuur werk saam om hierdie balans te behou. Jin/Yang (of manlike/vroulik, hard/sag). DIE DANS TUSSEN DIE TWEE IS LEWE. Niks bestaan op sigself nie, alles is in netwerk met alles. Dit is waarna Frans, Pieter en André ook verwys het, die netwerk van die lewe. En dit is waarna die Tao Te Ching verwys:

Vers 51:

Alles in die heelal is die uitdrukking van die Tao.

Die dans van materie,

die dans van vorm…

‘n Ware Wyse (dis hoe ek Sage/Master vertaal het), weet daarom hoe om saam te dans.  Selfs te kan dans en vloei binne sy/haar eie verstaan van geslag. Want as Lao Tzu praat van ‘n wyse, is dit manlik en vroulik, geen onderskeid.

Tao Te Ching, vers 59:

Die teken van ‘n wyse mens

is die vermoë om los te kan staan van eie idees.

Oop soos die hemele,

deurdringend soos die son,

ferm soos ‘n berg,

soepel soos ‘n boom in die wind,

sonder enige eindbestemming in die oog,

saak die wyse mens van enige iets gebruik

wat die lewe oor sy pad bring.

Yin = oop soos hemele en Yang = ferm soos ‘n berg, soepel soos ‘n boom in die wind. Dit is waarna die dans tussen yin en yang verwys. “’n Ware Wyse kan dus die tekens lees en weet wanneer om oop en soepel te wees en wanneer om deurdringend, gefokus en ferm te wees. Die geheim is egter om soos ‘n rivier te wees; vloei saam met die minste weerstand.

Presies dit is waarna vers 40 verwys:

Vloei is die beweging van die Tao.

Sagtheid is die weg van die Tao.

Alle dinge kom voort vanuit wees.

En wees kom voort vanuit nie-wees.

Dit gaan eerder oor die lewenskuns van ’n diep lewe en hoe om saam met dit wat is, hier en nou, in harmonie te vloei saam met dit wat voor jou ontvou  – as wat dit iets dogmaties of resepmatigs probeer verkondig. Eerder as baklei, veg, forseer, ontevrede wees, onvergewendgesind, hard en onbuigbaar wees. Dis die hele konsep waarna die beginsel van WU WEI (“nie-wees”)wys. Die Chinese uitdrukking Wu Wei (uitgespreek woo way) kan direk vertaal word as “inspanningslose aksie” of “om te doen sonder om te doen”  (in Engels vertaal “effortless action”). Met ons Westerse uitkyk van produktiwiteit en prestasie sal ons dalk nie heeltemal hierdie insig verstaan nie ‒ eenvoudig gestel: dat ons minder dinge moet forseer en meer vloeibaar en buigsaam moet wees. Dit wat Byron Katie probeer sê met: “Stop forcing life to be the way you want it to be; rather accept and let it be the way it is.” En Benjamin Hoff beskryf dit in sy boek, “The Tao of Pooh”: “Wu Wei is something we can learn by watching water. When a stream comes to some stones in its path, it doesn’t struggle to remove them. It just goes around them. And it goes singing.” In die Tao Te Ching word daar verduidelik hoe presies die dans /Wu Wei werk.

Vers 43:

Dit wat sag is,

verweer dit wat hard is

(SPREUKE 15:1 “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.”)

Dit wat vormloos is,

vind ‘n pad deur alles.

En prakties kom dit neer op die vermoë om nie oorhaastig te wees nie, om met geduld en kalmte elke situasie te benader. Dit is waarna vers 15 verwys met:

Het jy die geduld om te wag

dat die modder afsak

en die water deursigtig word?

Kan jy roerloos en stil wag

totdat die regte oomblik

hom voordoen?

Iets van wat Leo Tolstoy (War and Peace) geskryf het:  “Everything comes in time to those who knows how to wait . . . there is nothing stronger than these two: patience and time, they will do it all.” Want dié wat nie kan wag nie, maak foute, dwing, manipuleer en forseer… en die gevolge is pyn en dikwels mislukking.

Vers 61:

Die strateeg het ’n gesegde:

Dit is beter om te wag en te kyk

as om die eerste skuif te maak.

Gee eerder aan die begin ’n paar treë agtertoe,

om later vorentoe te kan beweeg.

Ware wysheid is dus soos Eddie Cantor verduidelik: “Slow down and enjoy life. It’s not only the scenery you miss by going too fast  ̶  you also miss the sense of where you are going and why.” Dit is ‘n ingesteldheid van geduldig wees en bereid te wees om te luister en te leer… oop te wees vir die vloei van die lewe, tevrede om te wag dat dinge, situasies eers ryp word. Forseer en ryp druk werk nooit nie! Daarom, ongeag die makrosituasie van die land en die wêreld waarin jy jou bevind,  of die mikrosituasie van jou persoonlike lewe en verhoudings, leer om saam met dit wat voor jou ontvou te vloei. LEEF LIG. LEEF EERLIK. LEEF WYS. Hoe? Die ingesteldheid en vaardigheid om die tekens van die winde van die lewe, verhoudings, jou liggaam/gesondheid, politiek te kan lees en met wu wei daarop te reageer.

Dit is presies waarna Frans en Pieter verwys het aangaande hulle voorspellings van ons land se toekoms: om te word soos ‘n goeie branderplank ryer, iemand wat die golwe en seestrome kan lees en nie die golwe teenstaan nie, maar eerder daarmee saamry. Dit is wat Lao Tzu met ’n “Ware Wyse” bedoel: iemand wat geduldig en in harmonie met wysheid kan vloei en iemand wat uit sy eie pad uit kan beweeg, sodat die Tao haarself kan openbaar.

Vers 2:

Die Ware Wyse vloei saam met die dinge wat manifesteer,

die Ware Wyse laat gaan die dinge wat oplos.

Die Ware Wyse hét sonder om te besit,

gee sonder om iets terug te verwag.

Wanneer die Ware Wyse haar werk voltooi het,

vergeet sy dadelik daarvan.

Daarom het dit ewigheidswaarde.

Dit is wat Rainer Maria Rilke ook sê met: “May what I do flow from me like a river, no forcing and no holding back, the way it is with children.”

Met ander woorde, iemand wat: ophou inkoop in sy of haar eie egostorie en drama, ophou om sy of haar wil te probeer afdruk op ander, ophou glo net hulle is reg of verkeerd.

Dit is waarby die opvolger van Lao Tzu, Chuang Tzu ook voeg: “It is when we give up our personal views that we see things as they truly are. In seeing things as they truly are we arrive at complete understanding. To reach complete understanding is to reach true happiness. To reach true happiness is to reach completion. To reach completion is to enter the Tao.” Kom uit jou eie pad. Hou op dat jou “storie” van die lewe die lewe versmoor. Gryp aan wat Pieter gesê het met die belangrikheid van innovasie, Frans wat verwys het na ons wat beter moet luister na mekaar en André wat gesê het ons moet nederiger word. Dit is ware wysheid, dit is om eerstehands, lig en wys te leef,  soos ‘n Wyse:

Vers 81:

Ware woorde is nie altyd mooi nie.

Mooi woorde is nie altyd waar nie.

’n Wyse mens het nie nodig

om ’n punt te bewys nie;

iemand wat nodig het

om ’n punt te bewys is nie wys nie.

Die lewe word heilig daar waar mense wakker word vir dit wat is, en daar waar mense hulleself toelaat om spontaan en vry te leef.

 

 

SONY DSCSONY DSCSONY DSC