Midrandbyeenkoms Sondag 15 Mei:

Francois Durand illustreer sy siening van die mens se natuurbeskouing aan die hand van ‘n Brueghel-Rubens-skildery wat die Tuin van Eden voorstel as alles net mooi en goed. Volgens hom is dit ‘n verkeerde beeld. Ons misreken ons as ons dink dat die voëls vir óns sing. Hulle sing vir mekaar. Eintlik bedreig hulle mekaar en maak ‘n geraas om hulle gebied te beskerm. Hy merk op dat die Paradysskildery net soogdiere, verskeie voëls, enkele visse, reptiele en die mens uitbeeld, terwyl die natuur grootliks uit organismes soos insekte en bakterieë bestaan.

 

Om sin te gee aan die vreemde wêreld, gaan die mens patroonsoekend te werk. Die patrone wat hulle identifiseer, maak vir hulle die wêreld ‘voorspelbaar’. Die sogenaamde ‘golden ratio’ van 8:5:3:2:1 wat hulle in skulpvorme, blomme, ruimtekolke en selfs in orkaanspirale kry, sien hulle as ‘intelligente ontwerp’, of ‘God se plan’. Maar dan soek hulle verder en sien selfs dinge wat daar nie is nie, soos die ‘Bible Code’. Nog voorbeelde is sterretekens, of ‘n ‘menslike gesig’ op die oppervlak van Mars.

 

Ons perspektief is skeef: die vegetariër wat eerder ‘n appel eet as ‘n dier, verorber onnadenkend die ‘baba’ van ‘n organisme. Ons asem met behaaglikheid suurstof in, terwyl dit in suiwer vorm skadelik is.

 

Mens vind dit ook by filosowe en teoloë. “Die wêreld gesien deur die oë van die romantikus, filosoof of fundamentalis lê ver van die werklikheid.” Hy verwys na Karl Rahner wat aangevoer het dat God se gees in die natuur te sien is. Die redes vir hierdie ‘patrone’ is egter geensins metafisies nie.

 

Ons is van kleins af grootgemaak met ‘n wanbeeld van wat biodiversiteit behels. Die waarheid is baie anders: waarskynlik is die miljoene spesies insekte waarvan ons weet maar een-tiende van wat werklik bestaan. Die genetika wys hoe kompleks die natuur is – baie meer as wat ons besef.

 

“Die primêre eenheid van die lewe is die sel,” het Francois verduidelik. “Die meerderheid van organismes bestaan uit ‘n enkele sel. Al die ander meersellige organismes, ten spyte van hul pragtige, interessante, soms groteske vorme, is bloot oordadige en uitspattige natuureksperimente – wat maar kort gaan bestaan.”

 

Volgens Francois sterf sulke lewensvorme gou uit en slegs bakterieë wat al vir miljarde jare oorleef gaan nog vir miljarde eeue voortbestaan. Dis interessant dat wanneer organismes voortplant, word hulle gereduseer tot enkele selle.

 

Ons as mense het 15 triljoen selle, waarvan slegs 10% menslik is. Die res bestaan uit mikro-organismes, soos die dermflora waarsonder geen dier kan oorleef nie. Hierdie dermflora het ongeveer 100 keer meer gene as die mens self.

 

So, wie beheer nou eintlik die planeet? Jy is so afhanklik van die bakterieë, wat nie eens weet jy bestaan nie. Ons leef op aarde danksy bakterieë.

 

Weer haal Francois Karl Rahner aan: volgens hom het God die mens as kognitiewe wese geskep om met Hom te kommunikeer.

 

Maar dan wys Francois op die verskynsel van parasitisme, soos die zombie-mier. ‘n Fungus-organisme dring sy brein binne en beheer die mier tot sy eie voordeel. Dieselfde verskynsel kom by die zombie-krap en ander soortgelyke vorme voor.

 

Jy vra jou af: Wat is die doel van die mens op aarde? Gegewe die ontsettende skade wat ons aanrig, maak die mens droog. Maar as jy êrens op ‘n klip onder ‘n boom sit, “voed jy miljoene organismes. So, moenie jou bydrae onderskat nie”. Ons uitsluitlike doel op aarde is om ander organismes te voed.

 

Volgens Thomas Malthus produseer die aarde altyd ‘n surplus − dit sluit die mens in − met die uitsluitlike doel om as kos vir ander te dien.

 

“As daar ‘n regtig ‘n Intelligensie hierby betrokke was, sou dié Intelligensie werklik afgestomp moet wees ten opsigte van die lyding wat dit veroorsaak,” meen Francois.

 

Ons weet nie hoeveel parasiete op aarde voorkom nie, maar daar is waarskynlik vier keer meer parasitiese spesies as ander. Dan kry ons nog natuurrampe waarin miljoene mense sterf. Konflik, hongersnood en siektes eis eweneens miljoene lewens. As mens die argument volg dat God in beheer is, moet ons aflei dat hierdie rampspoed opsetlik is.

 

Religieuse mense sal dikwels redeneer dat God die enigste bron van moraliteit is. “Geloofsgeskrifte soos die Torah, Bybel of Koran word as die bron van morele gedragsreëls beskou wat deur God self neergelê is.”

 

Volgens Francois is hierdie redenasie ‘n fatale fout, gegewe die gebrek aan konsensus oor die bestaan van God, al dan nie. Daar is talle godsdienste oor die wêreld heen, elk met sy eie dogma. As daar geen God is nie, sal die riglyne van daardie dogmas geen betekenis hê nie.

 

As ‘n mens aanvaar dat God die natuur geskep het, dan sluit dit in dat elke wese op unieke wyse aangepas is om voeding uit sy gasheer te trek, soms op die wreedste manier denkbaar.

 

“Dan moet ons noodwendig tot die gevolgtrekking kom dat God op sy ergste wispelturig is, selfs wreed, en op sy beste apaties teenoor alles staan, ook die mens en sy lyding.”

 

Dis verkeerd om moraliteit in die natuur te soek. Die natuur is ‘wispultierig’, of soos Richard Dawkins dit stel: “Nature is indifferent.”

——-

 

Op ‘n vraag het Francois aangedui dat die inhoud van sy lesing moontlik later as artikel op LitNet kan verskyn.