Vorige Midrandbyeenkoms: Sondag 19 Augustus 2018. Ds Albert Cruywagen oor: “Spirituele ruimtes vir gesprek: Oop of toe?”

Hierdie is ‘n geredigeerde weergawe van Albert se aanbieding:

Ek praat vandag in opsetlike dun, vae potloodstrepies, soms in breë, ewe vae kwashale, sodat julle wat toekyk self die prentjie kan voltooi! My hooftema is “Om ruimte te maak en om daardie ruimte toe te maak”. Hierbinne vertel ek vier verhale: 1 – Taal; 2 – Die onsigbare/Religie; 3 – Tempel; 4 – My eie verhaal.

1. Taal

Uit David Hopkins en Tom Mason se ‘The Story of Poetry’ wil ek hierdie verhaal as illustrasie uitlig (soos vertaal deur Wilhelm Jordaan):

Dit was die winter van een of ander ystydperk. Pas het al die kinders gesterf. Die leier van die trop is deur ‘n beer verbrysel. Die vuur, wat so sorgsaam aan die gang gehou is, was dood. Maande lank het die sneeu en hael geval. Daar was nie meer kos nie en niemand kon die son sien nie. Dit was donker. Die troplede het gekerm, geweeklaag en gekreun.

Aan die voorpunt was ons held, wat dit voortreflik kon doen terwyl hy vanuit die grot na buite staar… en wens dat die son uitkom. Terwyl hy al wiegend weeklaag, kerm en kreun, het hy ‘n ritme bespeur – dat hy saam met die wuiwende grassade, waaiende bome in beweging is. Die trop het dit gesien en saam met hom begin weeklaag en wieg.

Toe, eensklaps, het daar uit die gesamentlike gemoedsbeweging ‘n nuwe klank gekom. Dit was soos wanneer hulle in onderdanigheid aan die tropleier se voete rondgekruip het, maar dié keer was dit gans anders. Dit was nie meer ‘n geweeklaag nie – net ‘n helder, aangrypende klank.

Desperaat, uitdagend, smekend het ons held die nuwe klank stemhebbend na buite in die donker geroep. Toe breek die son deur. Ons held het iets gevoel wat anders was; iets wat gelyktydig vanuit sy binneste en dié van die groep gekom het. Dit het gevoel of die klank na hulle terugkom – vanaf die son, die grassade, die bome, die voëls en die bokke.

Dit was asof die hele wêreld deur die klank omhels is. Trane van uitgelatenheid het oor hulle wange gevloei. Dit was die groot triomf – die eerste klank wat woord kon word.

Oor en oor het ons held die klank laat dawer terwyl hy en die groep lag en huil en dans soos die son al hoër teen die hemel klim. Alles was onder die betowering van klinkende klank. En hulle het begin vermoed dat hulle iets gekry het waarmee hulle die wêreld kon begryp en beheer. Met iets soos ‘n kliktaal wat in die jagtyd vir die wild gerusstellend was – iets wat soos gras geritsel het…

In daardie eerste verruklike klank was ook die saad van die eerste insig, die ritme van die eerste danslied, die roeringe van die eerste gebed, die grondstof van die eerste mite, die embrio van die eerste gedig en die belofte van die eerste wetenskap.

Taal het die wêreld oopgemaak.

2. Die onsigbare

Die mens het êrens in die verre verlede onderskeid begin maak tussen die sigbare en die onsigbare. Die sigbare was die leefwêreld. Die mens het gesien dat die natuur patroonmatig is: reën/droogte, dag/nag, warm weer/koue weer, ensovoorts. So ook die mens self: geboorte, ouer word, sterf, ensovoorts. Die mens het hulle leefwêreld daarvolgens georden. Maar wat van die onsigbare?

Die onsigbare was ‘n bakermat vir ‘n soort oerspiritualiteit. Die onderliggende rede was ‘n soeke na waardes, reg/verkeerd en om die lewe te verstaan. Eintlik is dit steeds ‘n ineengevlegte behoefte aan sin en betekenis. Sommiges meen dat dit oerwetenskap was. Die begrippe goed en boos spruit daaruit voort. Die doderyk was aanvanklik die bestemming van alle dooies, maar mettertyd het hemel en hel ontstaan. Hemel is die gode se adres. Vir sommige is hemel ‘n toestand/plek wat die mens kan bereik deur beter te leef/word. Die goderyke was soort van replikas van die lewe op aarde – net beter; dit is georganiseer deur ‘n soort politeïsme. Later het monoteïsme ontstaan, waarvan die Christendom deel is.

Toe verskyn tussengangers op die toneel, soos byvoorbeeld ‘n sjamaan. Hy het kontak gehad met die goed en kwaad van die bo-natuurlike wêreld. Hy kon hierdie sfeer betree deur in ‘n trans te gaan om vergoddeliking en genesing te bewerkstellig. Later het die priesterdom ontwikkel.

Die transendentele (religie, godsdiens, kerk, geloof) het die lewe oopgemaak vir die mens met die soeke na verhewe beginsels, maar dit weer toegemaak met dogma.

3. Tempel

In die suidooste van Turkye staan die oorblyfsels van die oudste tempelkompleks waarvan die mens weet, die Gobekli Tepe wat 12 000 jaar gelede opgerig is. Dit was ‘n samelewing sonder skrif, metaal of erdewerk.

Kunstenaarsvoorstelling van die konstruksie van Göbekli Tepe in hedendaagse Turkye

Hulle handewerk of kuns was monolities (hulle het ‘n stuk klip bewerk as ‘n eenheid). Die mense was jagters/versamelaars. Die voorganger in die tempel was ‘n sjamaan.

Volgens aanduidings was die tempel sowat 2 000 jaar in gebruik en toe later, toe aktiwiteite daar gestaak is, is dit sorgvuldig onder lae en lae vullingsmateriaal toegegooi. Hoekom? Die samelewing het al meer kompleks geword: die neolitiese tydperk het aangebreek met die domestisering van landbou en ontwikkeling van erdewerk, meer komplekse gereedskap en dies meer.

4. My verhaal (hoekom ek deur die kerk se drade geklim het…en weer terug)

Ek het in die NG Kerk grootgeword. Ek het liefgeword vir die NG Kerk. Ek wil graag eendag doodgaan en ‘n roudiens hê in die NG Kerk. Ek sien nie enige nut daarin om na ‘n ander instansie te verhuis nie. Om te wat?

Dit beteken nie dat die NG Kerk my vasgevang het nie. Inteendeel. Ek is van jongs af ‘n rebelse soort mens – die vraerige, siniese soort, die nonkonformis.

My eerste herinneringe aan hinderlikhede was preke, sekere soorte preke. Ek het ‘n ewige teësin ontwikkel in stereotipiese preke, evangeliese preke, nie-aktuele preke, Bybelwoord-herhalende preke. Ek beskryf dit as ‘n waaier wat warm lug in ‘n bedompige vertrek met toe vensters rondwaai.

  • NG Kerk in Randfontein

Daarby het ek geweier om by die ‘establishment’ se kleredragreëls in te val. In my jong dae het ek kortbroek-safaripakke gedra, tot die argwaan van die ou omies in die kerk en die deursnit Afrikanerdom.

Nog ‘n stormagtigheid in my lewe was vals mense in die kerk, veral in die bediening. Ek kan onnodige vroomheid nog vat, maar vals vroomheid maak my naar.

En so het ek 28 jaar in vier gemeentes gewerk (Skeerpoort, Stilfontein- Sentraal, Soutpansberg en Soekmekaar). As gevolg van finansiële omstandighede, ‘n stormagtige medeleraar en isolasie het ons besluit om eervol uit die gemeente se diens te tree en 16 jaar gelede Pretoria toe getrek. Met ‘n ander inkomste kon ek vir ‘n jaar Sondae langs die swembad sit en kerk toe verlang in plaas van in die kerk sit en swembad toe verlang.

Daardie jaar langs die swembad en langs die kerk het my die kerk se heining laat raaksien. Ons het toe pas ‘n seminaar bygewoon, aangebied deur Piet Muller oor die lewe en die ouderdom en die lewe ná aftrede… toe ek begin besef het dat die heining my gedagtes en denke vaskeer.

Die volgende twee jaar het ek in drie gemeentes afgelos. Vir die eerste twee vakante poste het ek aansoek gedoen en geleer hoe ‘vroom’ kerkmense is as hulle sê: Die Heilige Gees het ons gelei om jou nie te beroep nie. Ek het vroeër vir talle poste aansoek gedoen om van Louis Trichardt weg te kom… en geleer hoedat die Gees nogal lief is om die ‘glamour boys’, die indrukmakers, die grootbekke voor te trek vir beroepe.

In 2005 doen ek weer aansoek vir ‘n pos in Kemptonpark (waar ek tans nog werk). Die stemme staak tussen my en nog iemand. Die lot word gewerp. En ek kry die pos.

Toe vang my oog eendag ‘n klein advertensie van ‘n byeenkoms van SASAP (South African Society for Amateur Palaeonthologists). En daar gaan my leefwêreld oop vir die ontsagwekkende vakgebied van evolusie. Francois Durand het my gehelp om ‘n greep te kry op die konsep en evolusie te begin verstaan. Die ontstaan van die aarde en die ontstaan van lewe het my brein erg gerek. ‘n Reeks lesings van Francois en besoeke aan Sterkfontein het my gedagtes herrangskik.

Eendag sien ek weer ‘n advertensie raak. Flip Schutte gaan by UP ‘n lesing gee oor die antieke agtergrond van die Bybel en Bybeltyd. Die sluise van kennis en inligting en insig het oopgegaan. Ek raak aan die gesels met verskeie vryer denkers: Julian Muller, Andries van Aarde… en lees boeke van Ben du Toit, Karen Armstrong, Richard Dawkins, Izak du Plessis, Marcus Borg, Willie Esterhuyse. Ek ontmoet ateïste soos Piet Croucamp, George Claassen. My wêreld raak al groter.

Ek tob aanhoudend oor die godsbegrip. Wie en hoe en wat is Hy? Ek kom godsbeskrywings teë: teïsme, a-teïsme, nie-teïsme, non-teïsme, ateïsme, deïsme, postteïsme, panenteïsme, nieu-teïsme… saam met al die nuwe kennis en inligting oor die ontstaan van die heelal, die aarde, die mens; saam met al die nuwe inligting oor die religieë, kulture, geskiedenis, skryfstyle, mitologieë van die antieke tyd (ingebou in die Bybel), saam met nuwe kennis oor die geskiedenis van die kerk. Ná talle gesprekke met ongelowiges kom ek tot die slotsom dat ek weer en aanhoudend moet dink oor (my) godsdiens.

Ek raak betrokke by Facebook en skryf gewaagde dinge, lok debatte uit, maak fundamentaliste kwaad, vra onbeantwoordbare vrae. Veral die saak van gebed kielie my. Ek skryf dinge daaroor wat mense laat saamstem of laat stik in hulle koffie. Neels Jackson kontak my en vra of hy my kan besoek vir ‘n onderhoud. Die artikel word toe ‘n voorbladberig op Beeld van 1 Maart 2011 met die opskrif: ‘Dominee sê gebed werk nie’. Dit was in ‘n sekere sin my “weergeboorte”. Ek word verguis en vereer. Ek klim deur die kerk se drade.

Mense daag my uit om te bedank as leraar van die kerk. Dit daag my uit om ernstig daaroor na te dink. Moet ek my ervaring en kennis weggooi en bedank? Kan ek sonder die salaris klaarkom? Nog ernstiger: Is ek eerlik as ek Sondae op die kansel klim? Het die Bybel nog enige betekenis vir my? …En ek kom uit by ‘n enorme groot JA!

  • Die redes:
  1. Ek verstaan die ontstaan van die mensheid soveel beter. Van die oertyd af ontwikkel die mens, deur die eeue, dan die antieke era, die Middeleeue, die Renaissance, die Modernisme wat steeds voortduur. Die mens voel aan daar is ‘n bo-natuurlike, onverstaanbare, onverklaarbare, onbekende sfeer. Die mens vul dit met die begrip van ‘n ‘sky god’. Die mens weef talle verhale daaromheen om alles te ‘verklaar’ (mitologieë). Gode en duiwels, hemel en hel word gebore.
  2. Ek verstaan die Bybel se ontstaan soveel beter – gesien teen die lig van die antieke dekor. Ek loop deur die Bybelverhale, van die verre verlede af die toekoms in en nie meer van die hede af terug na die verre verlede nie. Die Bybel maak dan baie meer sin, veral as dit nie letterlik-histories verstaan word nie. Ek gebruik die verstaankunde om die Bybel oop te sluit.
  3. Ek verstaan die moderne mens soveel beter. Ons het vandag ondenkbaar meer kennis, inligting en begrip as in die Bybeltyd. Meng dan die antieke skrywes met die moderne mensheid en jy het ‘n groot bron van lewenslesse, noem dit godsdienslesse, vir mense.
  4. Baie mense het ‘n transendentele dimensie nodig. Ek gebruik dus die kerk as ‘n bestaande instansie om dit te bevorder, maar dan met realistiese inhoude.

En toe klim ek weer terug deur die drade – terug na die kerk! Ek het vrede in my gemoed. Ek geniet my werk. Ek wil aanhou werk tot ná 70 jaar. Ek voel ek is besig met die werklikhede van die lewe self. Georganiseerde godsdiens is vir my net nog ‘n faset van die lewe (soos kultuur, gesondheid, finansies, ens). Maar soos ek gesondheid, finansies, kultuur en dies meer met die (my) lewe geïntegreer het, so is ek elke dag besig om (my) diens-aan-God met die lewe te integreer. Die lewe is ‘über alles’. Ek lewe.

Slotopmerkings

Ek het opsetlik enkele vae potloodstrepies vanuit die verre verlede getrek met betrekking tot taal, die onsigbare en die tempel, as voorlopers van my eie verhaal. Hier volg nog ‘n paar strepies vir die toekoms:

  • REM se Everybody Hurts – Kyk dit op YouTube, en dink diep.
  • ‘Neuroscience of Changing Your Behavior’ (https://www.thebestbrainpossible.com/the-neuroscience-of-changing-your-behavior/) – Kerkmense se opvattings is diep gesetel.
  • Righteous Mind: Why good people are devided by politics and religion – Jonathan Haidt.

Godsdiens/kerk het oop deure, maar dikwels staan hulle ‘onsigbaar’ toe. Baie mense buite die kerk het dit dalk al ervaar. Baie is al daaroor geskryf en gesê – oor en weer. Dit help min, indien enigsins. Die kerk beur voort, met dalende syfers. Die nie-kerklike deel van die samelewing beur ook vorentoe – al meer sonder die kerk.

Kom ons praat met mekaar waar ons so beur-beur vorentoe gaan! Soek gemeenskaplikhede!

Eksperiment: Kyk na die terminologie of kerklike ‘jargon’ in godsdiensboeke, liedboeke. Vervang telkens die term “God” met “die lewe”. Dit maak ruimtes oop, nie net vir jou nie, maar veral vir die kerkmens; dit kan die buitekerkmens se taak word om so beur-beur te gesels met kerkmense.
WANT… God se koninkryk is nie die hemel nie; dis hier op aarde, in die lewe. Dit het vier terreine: 1 – liefde; 2 – vrede; 3 – heiligheid; 4 – regverdigheid/geregtigheid. In hierdie ruimtes kan die lewe dieper asemhaal. Dit is die goddelike!