Midrandbyeenkoms Sondag 29 Mei: 2016

In sy inleiding gee professor Kotzé ‘n vinnige oorsig oor die Suid-Afrikaanse politiek en die probleme wat dit die hoof moet bied. Die prinsipiële waardes van ons Grondwet en demokratiese beginsels word toenemend met probleme van leierskap, armoede, regte-aansprake en opgerigte magsbasisse gekonfronteer. Aan die positiewe kant wys hy dan verder op die wigte en teenwigte wat teenwoordig is en hoe sekere konsepte assimileer om meer sin te maak.

Die media as rolspeler in die verband is belangrik, aangesien dit die “groter prentjie” analities benader en probeer verduidelik hoe almal behoort mee te werk aan die bou van ‘n sterker demokrasie. Wat feitelike ondersoeke in die soeke na waarheid betref, is die media ‘n belangrike vennoot in die vestiging van demokratiese waardes. Tog beskou die regering die media dikwels eerder as spreekbuis van die opposisie, dus Vyand #1. Dit is wel so dat baie in die sterk teenwoordigheid van negatiewe beriggewing (oor die Guptas, “state capture”, Nkandla en gewelddadige betogings) dikwels bedreiging en verbrokkeling raak lees. Verder ondermyn die Parlementêre deurmekaarspul hulle eie geloofwaardigheid, wat weer ‘n negatiewe invloed op die komende verkiesing het.

Konstitusionalisme in die geheel, nie net die Grondwet nie, maar alle staatsmeganismes, se doel is om geregtigheid en regstelling in die hand te werk en misbruik te beperk. Suid-Afrika het ‘n gesonde Grondwet, die skeiding van magte, ‘n handves vir menseregte (hoofstuk twee van die Grondwet) en die Konstitusionele Hof wat as waghonde vir onafhanklikheid en geregtigheid kan dien. En al beskou sekere mense met magte hulleself sodanig as ‘onafhanklik’ van die staatsmeganismes dat hulle direk die reg omseil, is dit goed om te weet dat die teenwigte wel deeglik bestaan … soos met die uitspraak in die al-Bashir saak, toe daar duidelik gewys is dat nie eers die belangrikste onder ons die reg mag misbruik nie. Met die beginsel van ‘Reg as Oppergesag’ (“Rule of Law”) word die hof se uitspraak selfs bo appél gestel en behoort selfs appél slegs toegestaan te word waar die hof reken dat ‘n ander hof moontlik met meer gegewens tot ‘n ander konklusie kan kom. “Rule of Law”, wat self hoër geag word as die stemming van kiesers (the People!) is deel van die instelling en moet net toegepas word.

Wat die regsbank betref, raak die konstitusionele bedeling al meer prominent. Mense vra: Is daar ‘n Grondwet-krisis? Nee. Politieke krisisse is daar wel, soos die President se afdanking einde verlede jaar van die Minister van Finansies Pravin Gordhan en sy eensydige aanstelling van meneer Des van Rooyen in sy plek. Presidensiële afdankings, aanstellings en skorsings is natuurlik grondwetlik. Maar dan moet die besluit eers deur ‘n grondwetlike komitee gaan. Daar is jaarlikse hersiening van sake wat die Komitees hanteer en insette mag deur enige persoon gelewer word vir oorweging, soos oor die wyse van die aanstelling van die President. Tans is dit ‘n parlementêre aanstelling (indirek dus ‘n verkose pos). Ander meganismes van beheer is die Mosie van Wantroue en Staat van Beskuldiging (“Impeachment”) ‒ twee maniere om iemand uit ‘n pos te verwyder.  Ander klagtes wat aanleiding gee tot onsekerheid is: dat die regerende party alleenlik seggenskap het en die res van die mense dus niks nie; dat die President te veel mag het (is dit waar? …toegegee, meneer Zuma het sy eie styl); dat  die Grondwet te stil is oor die ekonomiese bedeling;  en klagtes oor grondbesit en die onteieningswet-debat.

Gedagtes oor waghond-instellings: Die Openbare Beskermer het ‘n groeiende prominente rol. Haar optrede bring al meer wigte en teenwigte in werking. Die prosesse word gekenmerk met ‘n ontwikkelende sofistikasie. Die vraag is tans wie haar gaan opvolg wanneer haar termyn binnekort verstrek. Dan is daar wel ‘n swak punt in die verskillende waghond-kommissies: die profiel van betrokkenheid is te laag. Die verkiesing van 3 Augustus 2016 gaan byvoorbeeld ‘n toets wees vir die geloofwaardigheid van die ‘Onafhanklike’ Verkiesingskommissie.

Wat ons Demokrasie betref, heers daar nog debattering oor wat ‘n demokrasie werklik is en of dit wel hier bestaan. In die prosedurele sin is al die formele aspekte van ‘n demokrasie wel daar: Oppergesag; verkiesings; gelyke speelveld; menseregte (‘n Grondwet) en noue uitvoering daarvan; die Presidentstermyn wat ‘n beperkte termyn moet wees; ‘n Parlement ‒ ten spyte van die chaos en gebrekkige vertroue wat dit in kiesersgemeenskappe wek. Dis party teen party; partystrategieë ontken verdeeldheid terwyl faksies en binnepolitiek prosedures ontwrig. Ten spyte van die rumoer, is daar egter tekens dat die Parlement wel ernstiger opgeneem word: Voorbereiding vir debatte raak beter; debatsontwikkeling word bespeur; daar is meer erkenning dat die uitvoerende gesag aan die grondwetlike gesag verantwoording moet doen (met verwysing na die Polisieverslag oor Nkandla wat uitgegooi is) en die telkense dooiepunte tussen die Speaker en die EFF. Hoewel die prosesse dus gekompliseerd is, is daar genuanseerde suksesse wat op ontwikkeling dui.

‘n Pluspunt is die burgerlike gemeenskap wat hulleself bewys as ‘n steunpunt vir ons Demokrasie. Tekens daarvan is te vind in ons onafhanklike media, die vele NROs (“NGOs”) as navorsingsinstellings met aktivistiese elemente, kerke se legimiteit en morele hefboom (met verwysing na die Vredesakkoord van 1991 wat die eerste veelparty-ooreenkoms was wat geweld voorkom het), aktiewe inwonersverenigings as tussengangers tussen plaaslike behoeftes en raadslede, sosiale media wat die potensiële stem van Suid-Afrika se mense laat klink, en ander voorbeelde.

As ons kyk na elemente wat die demokrasie onderdruk, dan is die hoofprobleem seker die sosio-ekonomiese geregtigheid wat ontbreek. Die saak is egter almal se verantwoordelikheid om reg te stel, nie net die regering s’n nie. Daarmee saam kom verdraagsaamheid, waarvan politieke onverdraagsaamheid die eintlike onderdrukker is. Ook moet daar ‘n sterker kultuur van menseregte in die samelewing na vore kom. Beide die staat en sakewêreld kan meer empaties aan die groeiende werkloosheid en tallose afdankings aandag gee.

Nog ‘n aspek wat die demokrasie benadeel, is die verhouding tussen die regering en opposisiepartye. Die aanvanklike relatiewe samewerking het sedert 1999 verswak toe die ANC te dominant geword het. Met die verkiesing in 2004 het die DA aansienlik gegroei. Cope was in 2009 ‘n “flash in the pan”. Maar in 2014 het die driepartystelsel tot ‘n opposisie van 40% gelei, weliswaar meer divers maar ook meer gefokus. Algaande het die ANC meer defensief geword en korrupsie meer prominent. Hierteenoor het die aksies van OUTA (gedryf deur die media), Seksie 27 en die Treatment Action Campaign relatief suksesvolle weerstand gebied. Ook studentebewegings het bygedra dat meneer Zuma (verw. hier na 13 Desember 2015 se gebeure) vir die eerste keer moes begin toegewings maak. Ons sien dus dat die rol van opposisiepartye buite sterker figureer as binne die parlementêre situasie (soos hofuitsprake al meer bewys).

Zuma-politiek is ons grootste probleem, veral die intrekking van sekerheidsinstansies deur meneer Zuma. Hopelik kan daar herstel kom ná hom, maar die vraag of dit nie al endemies geword het nie, is ‘n geldige een.