Midrandlesing  6 November 2016:

Op die vraag of Jesus kon lees en skryf, is mense geneig om onmiddellik positief te antwoord ‒ natuurlik: die Nuwe Testament vertel van Jesus wat vir die skrifgeleerdes in die tempel uit die boekrolle voorgedra het en dat Hy op ‘n ander geleentheid afgebuk het en met sy vinger in die grond geskryf het. Maar wanneer hierdie vraag ondersoek word binne die historiese beskouing van geletterdheid in die Antieke tyd en ook aan die hand van die Jesusverhale van die vroeë Christendom, tree ‘n komplekse reeks vraagstukke na vore wat selde op konsensus tussen geleerdes uitloop.

Om uitsprake oor iemand se vlak van geletterheid te maak is altyd ‘n komplekse saak. Praat ons bloot van lees- en skryfvaardighede, of beoordeel ons ook ander vermoëns, soos kulturele, intellektuele en emosionele vaardighede? Dan hang dit ook af van die perspektief en persoonlike indrukke van die ondersoeker (bv. van wie Jesus was, en met watter soort wysheid en moontlik ook leierskap hy toegerus sou wees).

Met die soort gedisinformeerde debatte wat deesdae aan die bod kom, is dit noodsaaklik om werklike aanhalings in die evangelies en vergelykende historiese gewens te beskou. Pieter noem vier aspekte wat in so ‘n ondersoek ‘n rol moet speel:

Eerstens moet dit duidelik wees dat die ondersoek in die eerste plek oor die tradisioneel historiese Jesus van Nasaret gaan en nie oor die vraag na sy goddelikheid nie. Jesus het opgegroei in Nasaret, ‘n klein dorpie in Galilea, waar hy sy pa gehelp het met sy werk as bouer. Hy het op twaalfjarige ouderdom vir die skrifgeleerdes in die tempel uit die boekrol van Jesaja voorgelees… en dies meer.

Tweedens volg die kontekstuele aspekte, naamlik: wie het wat gesê, wanneer, en waarom ‒ die etiese implikasies. Dat sommige mense gedink het dat hy God was, is sekerlik so. Was dit die waarheid? Watter soort God het die mense in daardie tyd en kulturele opvattings gedink was Jesus? Hierby kom natuurlik ook hoe ons oor God/gode/onsself dink.

Derdens moet ‘n mens die antieke opvatting van geletterdheid in ag neem. Leierskap impliseer kennis wat ‘n sekere groep mense as navolgingswaardig beskou (anders was die persoon nie ‘n leier nie). Was Jesus ‘n leier? Watter soort? Party waarnemers het hom as ‘n heethoof beskou wat die regering bedreig het, ander as ‘n soort sosiale en politieke aktivis, ander weer het geglo dat hy met wysheid kon leer en dus kennis gehad het van die antieke geskrifte van die geloof en daaruit kon aanhaal (of siteer/uit sy geheue kon opsê),ander weer dat hy mense kon genees. Hy was nie ‘n priester nie, maar sommiges het hom as ‘n skrifgeleerde gesien. Of nie? Kon hy skryf? En indien hy kon skryf, kon hy werklik lees?

Ter verduideliking vertel Pieter van ‘n sekere dorpsbestuurder uit die Antieke tyd wat as ‘n skrifgeleerde bekend was. Hy moes amptelike dokumente en verklarings sertifieer en onderteken. Pieter toon ‘n afbeelding van ‘n perkament wat gevind is waarop die man duidelik geoefen het om ‘n enkele reël plus sy eie naam/handtekening na te boots; herhalend het hy die reël met sy naam daarby geoefen, soos in ‘uitskryfwerk’, en by die vierde-vyfde reël nie agtergekom dat daar weglatings van sekere letters ingesluip het wat in sy verdere herhalings bly steek het nie! Hoe goed kon hy dus lees wat hy gekopieer het? Hoe vaardig was hy met die amptelike taal? Maar hy het die aansien en die gesag as skrifgeleerde en leier gehad, sy pligte as sodanig uitgevoer en is daarvolgens besoldig.

Vierdens was dit volgens die tradisie van die tyd net uitsonderlike geleerdes wat kon lees en skryf, nie gewone vakmanne en vissermanne nie. Boekrolle was kosbaar en skaars. Mense wat as skrifgeleerders gaan leer het, het begin deur die maak van papirus en boekrolle onder die knie te kry. Dan het hulle letters en sinne leer naboots om kopieë van dokumente te maak. Die boekrolle is dus met groot omslagtigheid geskep en sorgvuldig bewaar in biblioteke wat slegs in groter dorpe en stede aangetref was en dus nie so gerieflik bereikbaar was nie. Mense in leiersposisies (soos ook Jesus wat klaarblyklik ‘n gevolg gehad het) het bepaalde kundigheid gehad, maar dit was nie vanselfsprekend dat hulle kon lees en skryf nie. Hooggeplaastes en ander geleerdes het vry algemeen van mense gebruik gemaak wat hulle skryfwerk vir hulle kon doen, soos Paulus. Hulle het gewoonweg hulle gedagtes met bekende verwysings wat hulle gememoriseer het, voorgedra terwyl hulle die tegniek van boekrolle op-en-afrol met ‘n mate van vaardigheid kon hanteer.

Pieter verwys na die randstandigheid van Jesus, dat hy met sy handel en wandel waarskynlik groter blootstelling in die samelewing beleef het en ontroer is deur die humanitêre nood. Hy het volgens Lukas 4:16 in Nararet gekom waar hy opgegroei het en “soos dit sy gewoonte was, op die sabbatdag na die sinagoge (dalk in nabygeleë Kapernaum?) toe gegaan”… waar hy hom, met die boekrol van Jesaja wat die skrifgeleerdes voor hom neergesit het, oor die nood van die armes en onderdruktes uitgespreek het. Dis seker betekenisvol dat die mense wat hom aangehoor het, verbaas was dat hy, ‘n boorling van Nasaret, ‘n vakman se seun, in daardie tyd en omstandighede uit die boekrol kon voordra.

Pieter wys ook op die meerderheidsiening van Bybelwetenskaplikes oor hoe die samestelling van die evangelies gebeur het, naamlik dat skrywers aanvanklik Markus se evangelie (45‒ 50 nC geskryf) en die Q-bron gebruik het en hulle eie insetsels bygevoeg het om Matteus en Lukas se evangelies  te formuleer, met die evangelie van Johannes wat eers veel later (hier by 70‒80) gevolg het. Ander menings is dat die boeke nóg later  geskryf is, met Johannes in die tweede helfte van die 2de eeu. Dit is natuurlik hier waar die betroubaarheidsfaktor of geskiedkundigheid van die skryfwerk in die gedrang kom: in die tydsverloop na die gebeure met gepaardgaande hoor-sê en oorvertellings, kopiërings en redigeringsprosesse, vertalings en teologiese ontwikkelings wat vanselfsprekend interpretasieaanpassings veroorsaak het. Inderdaad was die Nuwe Testament nie joernalistieke berigte om gebeure in tyd vas te lê nie, maar tekste om iets oor Jesus te vertel.

Pieter het sy praatjie met goeie illustrasies toegelig, onder andere oor opgrawings en vroeë foto’s van Nasaret, die omgewing van Galilea, Kapernaum se sinagoge (uit die 4de eeu), Tiberias se biblioteek en artefakte wat aanduiding gee van die kulturele gebruike van die Antieke tyd. Ons het sterk onder die besef gekom van hoe klein dorpies was in daardie tyd en die andersheid van alles. Ons begrip van wat skoling (en skole, universiteite) behels, is totaal anders as toentertyd; selfs die betekenis van ‘skrifgeleerdheid’ sou ons ons anders wou voorstel! Wat lees en skryf betref, kon mens onderskei tussen ongeletterdheid, luister-leesgeletterdheid (nabootsing), opsê-leesgeletterdheid (memorisering), funksionele letterherkenning, skrifgeleerdheid en volle geleerdheid.

Feit is dat geleerdheid van enige aard in daardie tyd baie spesiaal geag en by jong kinders uiters skaars was. ‘n Illustrasie van ‘n kindergraf, kunstig geïllustreer met ‘n uitbeelding van die kind en verskillende betekenisvolle objekte, het die woorde bygehad: “My kind kon lees.” Dit is te sien in Keulen se Museum wat interessante artefakte uit die Romeinse tydperk bevat oor lees en skryf. Pieter verwys ook na skrywers soos John Miles Foley en Catherine Hescher, kundiges ten opsigte van die onderwerp van literaliteit in die Romeinse tydperk. Hescher se werk bevat data uit voorstedelike omgewings waar geletterdheid geskat word op sowat 3% van die samelewings in daardie omgewing en tyd.

Om dus enige uitsluitsel te bereik oor Jesus se vlak van kundigheid, moet ‘n mens dus eers antwoorde probeer vind op vrae na sy opleiding en moontlike ambag, die spesifieke omgewing waaruit hy gekom het, die soort leier wat hy was (‘n lid van ‘n groep met swaarde bewapen, ‘n bende of militêr?), of hy vir geld gewerk het of van aalmoese afhanklik was, sy kulturele agtergrond wat geletterdheid betref, of hy breë aanvaarding in die gemeenskap geniet het (moontlik gearresteer, waarskynlik na die tempelkabaal toe hy die voorhof ontwrig het, later verhoor) … ens. Behalwe dat hy ‘n vaardige debatteerder kon wees, wat blykbaar ‘n bietjie kon lees, was hy seker ook kundig ten opsigte van die Israelse geskiedenis, die mites, ‘n goeie storieverteller en het hy diep indruk op sy volgelinge gemaak.

Watter oortuigende afleidings ‘n mens dan wel kan maak, een ding is seker: Daar bestaan geen dokumentasie wat hom vandag die toets vir geletterdheid of geleerdheid sou laat slaag nie. Dus lyk dit asof enige uitspraak in die verband op ‘n geloofsuitspraak sal rus.