Dit is vanjaar presies 100 jaar sedert die Slag van Delvillebos, ’n klein dog belangrike onderafdeling van ’n groter veldslag bekend as die Veldslag van die Somme. Dié veldslag deur die geallieerde magte van Frankryk en Brittanje teen Duitsland is op 1 Julie 1916 geloods met die oogmerk om die Duitse linies terug te dryf of ten minste ’n bres daarin te slaan.

In hierdie stadium het die Eerste Wêreldoorlog reeds in ’n skaakmat-situasie vasgeval. Die Duitsers was só goed in die verowerde gebiede aan die westelike front ingegrawe dat die geallieerde magte geen hond kon haaraf maak nie. Die oorlog het nou reeds vir twee jaar voortgesleep met geen teken van ’n einde daaraan nie.

Reeds in Februarie 1916 het die Duitse magte ’n aanval op die Franse by Verdun geloods met die verwagting dat hulle die Franse sou verdryf, of ten minste só sou uitdun dat Frankryk sou oorgee. Dit het die Britse magte genoop om in Julie 1916 ’n soortgelyke offensief teen die Duitsers te loods met die hoop om hul aandag van Verdun af te lei en die druk op die dorp te verlig.

Die Britse magte het op 1 Julie ongeveer 20 000 soldate op daardie eerste dag van die veldslag verloor, maar behaal toe wel gedeeltelike sukses met die aanval op die dorpie Longueval op 13 en 14 Julie. Hulle beset ook die dorpie Montauban wat as beheerpos vir die aanval op Delvillebos gebruik is. Die geveg het vanaf 15 tot 20 Julie geduur terwyl dit onophoudelik gereën het. Die Duitsers het met mag en mening geveg om die gebied te behou. Hulle was ook reeds goed ingegrawe met masjiengewere en kanonne.

Op 17 Julie het die hel in Delvillebos losgebars toe die Duitsers met nege battaljons van 800 man elk ’n aanval geloods het. Die bos was na regte ’n natuurlike woud. Die Suid-Afrikaanse magte was in loopgrawe ingegrawe, maar het ten spyte daarvan etlike soldate verloor, insluitend die aanvoerder Kol Roscoe Tanner van 2SAI Battaljon wat ook gewond en afgevoer is. Kolonel Francis Thackewray van 3 SAI het die bevel by hom oorgeneem met nog slegs 800 soldate staande. Hy ignoreer hierna ’n bevel van hoër gesag om met die aanval voort te gaan, wetende dat dit fataal sou wees. Die Duitsers sou hulle soos vlieë afmaai. Hy pleit om versterkings en aflosmagte omdat die soldate ná dae van onophoudelike gevegte totaal uitgeput was.

Op 18 Julie trek die Duitsers met swaar artillerie los wat vanaf 11:00 die bos met 400 kartetse per minuut bestook. Hulle het die bos van hoek tot kant met hul bombardement gevee; van links na regs en dan weer na links. Van voor en dan na agter. Die oogmerk was om die bos met bomme skoon te vee. En hulle het daarin geslaag. Van al die natuurlike bome het slegs een bly staan!

Kol Thackewray het sy bes probeer om die soldate aan te vuur om steeds die bos te behou en voort te veg, terwyl hy ook aanhoudend vir aflosse en versterkings gepleit het. Hy het die geveg ook op 19 en 20 Julie gelei. Hulle is eers toegelaat om te onttrek nadat aflosse aangekom het. Van die 132 offisiere en 3 530 manskappe wat ingegaan het toe die stryd begin het, het slegs 29 offisiere en 751 manskappe die slag oorleef.

Van die Battaljons het ook Bruin en Swart soldate gehad waarvan etlike tydens die oorlog dood is. Diegene wat oorleef het, is egter nooit vereer soos ander Bruin en Swart soldate uit ander lande nie. President Zuma het dan vanjaar tydens die 100-jarige herdenking van die Slag van Delvillebos twee plakette by die monument onthul wat die name van die gesneuwelde Bruin en Swart soldate bevat. Ofskoon hul name nou by die monument self vermeld word, lê hul liggame steeds nie by die blanke soldate nie. Apartheid is duidelik nie slegs deur die Nasionale Party beoefen nie!