Midrandbyeenkoms: Sondag 7 Mei 2017

Johan het verduidelik dat hy ‘n mediese dokter is met ‘n belangstelling in die regte, maar dat hy homself nie as ‘n kenner van genetika beskou nie, hoewel hy baie oor die onderwerp navorsing gedoen het.

 

Getrou aan die vereistes vir ‘n goeie PowerPoint-aanbieding, het Johan sy praatjie ingelei met ‘n kunswerk uit die 17de eeu wat wys hoe die siel die liggaam verlaat. Dit het hy met ‘n video opgevolg wat in versnelde tyd eers die ontsaglike omvang van die heelal wys. Daarna beweeg die ‘kamera’ tot binne die menslike liggaam om tot in die sel en selfs die kern van die atoom te gaan.

 

Wanneer ons besin oor die brein en sy funksie, en verder oor wat bewussyn is, moet ons tot die slotsom kom dat die brein ook die setel van ons bewussyn is.

 

Die definisie van bewussyn, soos in die Webster’s woordeboek uiteengesit, is dat dit ‘n persepsie is van ons innerlike, insluitend die spirituele, ook na buite wat ons sensories waarneem, en derdens ‘n konsepsuele wêreld rondom ons.

 

Dit skep soms juridies-gesproke ‘n dilemma om te bepaal of ‘n persoon wat in ‘n vegetatiewe staat is, enigsins ‘n bewussyn het of nie. Jy is by jou bewussyn as jy mense rondom jou kan laat verstaan dat jy bewus is.

 

Wat hiermee saamhang, is die ‘mind-body’-probleem. Is dit moontlik dat die menslike verstand die menslike verstand kan verstaan? Is jou ‘mind’ – wat nie dieselfde as jou brein is nie – losmaaklik van jou brein, of is dit integraal tot die brein?

 

Aristoteles (384–322 VHE) het gesê: “…mind is a faculty of the soul” en oor die siel: “it is not necessary to ask whether soul and body are one.”

 

Moderne teoloë, soos John Searle, sê weer: “the mind-body problem is a false dichotomy; that is, mind is a perfectly ordinary aspect of the brain.”

 

Dus het ons te make met breinfunksie en die ‘mind’ en ‘siel’ is die gevolg van hierdie breinfunksie. Johan laat dit in ons midde om te besluit of daar sprake van ‘n siel kan wees in die afwesigheid van bewussyn.

 

Dit bring ons by die neurowetenskap, waar ons met die fenomeen te doen het wat ons ‘siel’ noem en probeer verklaar aan die hand van die neurofunksie. Menslike denke en optrede word immers uitsluitlik veroorsaak deur fisiese prosesse wat in die brein plaasvind. Die vraag is of enige metings, soos MRI-skanderings, kan bepaal wat die dieperliggende meganisme is wat ons die ‘siel’ noem.

 

So, wat is die siel en waar kom die konsep vandaan?

 

Die woord ‘soul’ het ontstaan uit Oud-Engels “sáwol / sáwel” soos in die 8ste eeuse gedig Beowulf, en in Oud-Germaans “sêula / sêla” en Oud-Saksies “sêola”. Die konsep was dat die ‘siel’ uit die heilige meer of see gebore is, waarnatoe dit teruggaan met die dood.

 

In die westerse filosofiese denke is geglo dat die siel juis die liggaam ‘lewe’ gee; die spirituele asem wat animeer, soos in Latyns ‘anima’ – wat te sien is ‘animal’ of lewende organisme.

 

Vervolgens het Johan die vraag gestel, wat onbeantwoordbaar is, of die siel en liggaam één of twee goed is. Op hierdie punt het hy die kompleksiteit van genetika en die samestelling van die sel, wat die basiese struktuur van lewe is, en die rol van gene en chromosome, uitvoerig bespreek. Hieruit het die veelvuldige lewensvorme op aarde volgens presies dieselfde model ontstaan. Met hierdie bouplan lyk dit of evolusie so plaasgevind het.

 

Al sou jy jouself kloon, wat deesdae moontlik is, is dit tog nie jy nie. Johan laat die vraag oop of só ‘n persoon ook jou siel het, of is dit twee siele? Is ons menswees in die gene vasgelê? Kan die gene daardie misterieuse kenmerke soos moraliteit, liefde en die dryfveer vir kuns soos musiek ontsluit?

 

“Ons is eintlik maar ‘n dans van die gene binne die milieu waarin ons leef,” het Johan gesê. “Dus die antwoord op ‘nature’ of ‘nurture’ is ‘Ja’.

 

Dit onderlê die oorsprong van evolusie.

 

Is die siel dan gesetel in die gene? Al wat ons van ander lewensvorme soos groot ape – met wie ons 99% gene deel – is dat óns weet ons gaan dood. Daar is nie gene daarvoor nie, behalwe die gene wat oor die algemeen groot breine tot gevolg het.

 

Ter afsluiting het Johan na Ludwig Wittgenstein verwys wat gesê het: “The human body is the best picture of the human soul.”

 

[Baie dankie aan Mollie vir die klankgreep wat hierdie opsomming moontlik gemaak het.]