Deur: Pieter Craffert

Een van die grootste misverstande in die huidige debat rondom die Nuwe Hervorming is dat dit slegs handel oor die ontkenning van en aanval op sekere van die sentrale leerstellings van die Christelike geloof. Daarom word die sogenaamde Nuwe Hervorming verketter en verdag gemaak asof hulle teen die Christelike geloof gekant is. Maar die debat handel in wese oor die sosiale en politieke implikasies van verskillende soorte christelike godsdiens; met ander woorde, oor die soort samelewing en etos wat deur godsdiens geskep en in stand gehou word. Daar is duidelike verbande tussen spesifieke godsdienstige oortuigings en sekere samelewingsstrukture en denke en dit is waar die brandpunt van die debat lê.

Afrikaanssprekendes se ervaring van en kennis oor godsdiens kom veral via die Ortodokse voorstelling van die Christendom. Daarvolgens dink mense dat die essensie van godsdiens eintlik net met die aanvaarding (of verweping) van sekere leerstellings, soos byvoorbeeld, die leerstelling rondom die vraag, Waar en hoe gaan jy die ewigheid deurbring, te doen het? Die basiese struktuur van die soort godsdiens wat gemik is op wat kan mens daaruit kry, word treffend verwoord in een van die mees algemene opmerkings by seminare oor die Nuwe Hervorming: “As julle nie meer glo in ‘n hemel nie, waarom julle nog met godsdiens bemoei?” Die aanname is, godsdiens het te doen met wat gebeur met jou na die dood. Nog ‘n element van dié soort godsdiens is die voorstelling van God as ‘n outydse soort koning, wie se eer en waardigheid deur sy onderdane beskerm moet word en wat oor dood en lewe (veral ewige lewe) beskik. Die lys leerstellings van hierdie soort godsdiens kan maklik uitgebrei word.

Hierdie soort godsdiens leen sigself maklik tot fundamentalisme en fanatisme. Jy moet dit wat eens en vir altyd vasstaan glo soos dit aan jou voorgehou word. Dit is slegs mense wat reeds die volle en finale waarheid beet het, wat met vliegtuie in geboue vasvlieg. Dit is hierdie selfde soort fundamentalisme wat in Isak Burger se pleidooi na vore kom (Godsdiensaktueel in Beeld, 26 Augustus 2002) om maar solank die swepe (en gewere?) uit te haal om God se eer te beskerm. Die onlangse “hit list” van verregse aangeklaagdes is ‘n voorbeeld van dié mentaliteit wat mense laat glo dat diegene wat nie presies sê en glo soos hulle nie, moet in die bek geruk of kan maar “uitgehaal” word.

Soos ander vorme van godsdiens, het hierdie soort gelowigheid sekere implikasies vir die samelewing. Stelsels van oorheersing en hiërargie kom veral voor waar God as monarg uitgebeeld word. Vroue word makliker geminag en as tweederangse burgers gesien wanneer God slegs as ‘n manlike figuur/wese uitgebeeld word. Die skerp skeiding van ‘n goddelike figuur wat buite die natuur staan en veral besorg is oor mense se ewige heil, lei veel makliker tot ‘n minagting van die natuur as in ‘n voorstelling waar die goddelike ook in die natuur aanwesig is. ‘n Goeie saak kan uitgemaak word dat een van die sterkste invloede in die ekologiese krisis wat veral deur die Westerse lewensstyle en verbruikersmentaliteit gevoed word, te doen het met die ideologiese rol van ‘n goddelike wese wat buite die natuur staan tesame met die idee dat die mens moet heers oor die natuur (namens die heerser). Hieruit volg dan die mentaliteit dat godsdiens eintlik oor die lewe hierna gaan.

Die sosiale en politieke rol wat spesifieke vorme van godsdiens op die samelewing uitoefen word treffend uitgebeeld in die rol van superhelde in die populêre kultuur. Dit wissel van die John Wayne figuur wat soveel vinniger is as sy opponente tot die Rambofigure wat bomenslik sterk is tot die Spiderman en die karakters in Touched by an angel wat bo-menslike vermoeëns besit om probleme te hanteer (en die lys kan aangevul word). Terwyl dit onskuldige vermaak is vir baie, bevestig elk van die uitbeeldings ‘n soort mentaliteit. Probleme word nie op ‘n demokratiese manier deur gemeenskapsbetrokkenheid aangepak nie, maar deur ‘n heldefiguur opgelos of uitgewis. Dit is net samelewings met ‘n baie lang tradisie van die soeke na verlossing waar aan verlosserfigure so ‘n belangrike plek toegeken word. Die plek van Jesus as verlosser, word in die polulêre kultuur vervang met heldefigure wat buitengewone magte het. Die verskynsel bevestig dat ‘n sekere soort godsdienstige patroon ook die kulturele norm geword het in die hantering van probleme. ‘n Sekere soort godsdienstigheid het hier die maatstaf geword van ‘n kulturele patroon van “iemand sal voorsien” en probleme word uitgewis deur superhelde. Die alternatiewe patroon in ‘n demokratiese samelewing is eerder die soeke na gemeenskapsoplossings vir probleme en die erkenning dat probleme nie noodwendig verwyder of uitgewis word nie.

Na 11 September, en die destydse moord op prof Johan Heyns, en die onlangse “hit list”, moet besef word dat godsdienstige diskoerse waarskylik die sterkste stel simbole en meesterverhale is wat sosiale en politieke invloed op gemeenskapswaardes, houdings en patrone uitoefen. Die tyd is verby dat alles wat mense in die naam van “God” sê of oor “God” sê maar net aanvaar en gerespekteer moet word. Nóg godsdiensvryheid nóg vroomheid is ‘n verweer teen ‘n kritiese ondersoek en debat oor die sosiale en politieke impak van godsdienstige diskoerse op die samelewing.

Daarom sou dit onverantwoordelik wees van ‘n koerant soos Beeld om ‘n artikel te plaas soos die een van Isak Burger in Godsdiensaktueel wat fundamentalisme en fanatisme kan bevorder, maar sonder om ook ‘n kritiese analise van die soort godsdiens wat daar gepropageer word, te plaas. Die verskil tussen ‘n vaste oortuiging in jou eie standpunt en ‘n fundamentalistiese aanspraak op “die waarheid”, is die aanvaarding dat jou standpunt onderhewig is aan korreksie. Laasgenoemde bestaan nie in ‘n skema wat berus op die ooreenstemming en aanvaarding van ‘n vaste stel dogmas en leerstellings nie. Dit is ongelukkig die enigste soort godsdiens wat Afrikaanssprekendes oor baie jare heen leer ken het en daarom word gedink dat die Nuwe Hervorming maar net teen sekere dogmas en leerstellings gekant is.

Die Nuwe Hervorming verwoord talle leerstellings anders, verwerp ‘n letterlike lees van tekste buite konteks en verkondig inderdaad ‘n ander weergawe van die Christelike geloof. Dit gryp terug na van die oudste tradisies in die Ou- en Nuwe Testamente wat oor God praat anders as in beelde van ‘n manlike wese wat veral eendag met die oordeel as regter sal optree. Dit ontwikkel ‘n geloofstandpunt waarin die goddelike met ‘n verskeidenheid van metafore benoem word en wat berus op ‘n lewensoriëntasie eerder as ‘n wat-kry-ons-daaruit skema. Hierdie patroon van godsdiens het ook duidelike implikasies vir hoe die samelewing moet lyk en funksioneer.

Die debat gaan ten diepste oor watter soort samelewing ons in wil leef, een van fundamentalisme en fanatisme of een waarin ‘n demokraties etos en waardes geld. Dit beteken nie dat indien die meerderheid mense ‘n siening aanvaar, dit ook goed en reg is nie (soos slawerny of die onderdrukking van vroue nie), maar een waar respek vir ander sieninge, dialoog en kritiese oordeel deel van die etos is.
Opgedateer op : So 07 Aug 11