“Life begins at the end of your comfort zone.”  – Neale Donald Walsch

Miskien is dit wat met my gebeur het die afgelope 13 jaar.  Ek het begin lewe – as ‘n getroude straight vrou in die gay wêreld.   Oor die afgelope jare het die gay samelewing my begin vertrou en hul harte aan my toevertrou.  Dit het my natuurlik voor kritiese vrae te staan gebring en my gedwing om antwoorde op moeilke vrae te begin soek.  Saam  met lede van die NHN, asook met ds André Muller (oud-NG predikant en stigter van die gay kerk in Pretoria), sou ek graag verskillende aspekte van gaywees wou verken.

  1. Inleiding.

Ontmoet ds André Muller, iemand wat by al sy gewone werk as predikant in die gay kerk, ook eiehandig die gebeure wat aanleiding tot die wettiging van gay huwelike gelei het, geinisieer en aangevuur het. Dis vir ons albei ‘n voorreg om vandag hier met julle oor gaywees te kan gesels.

Ons gebruik vandag die term “gay” as ‘n sambreelterm vir alle mense wat nie in die heteronormatiewe diskoers inpas nie, en wat fisies, emosioneel, spiritueel en kognitief in terme van aangetrokkenheid van heteroseksuele persone verskil. Die akroniem  LGBTI word algemeen gebruik:

  • Lesbiër (vrou)
  • Gay (man)
  • Biseksueel (tot mans en vrouens aangetrokke)
  • Transgender (genderidentifikasie: beleef jouself bv as man in ‘n vrou se liggaam of andersom)
  • Interseks (word met manlike sowel as vroulike geslagsorgane of dele daarvan gebore)

Reeds in 1948 het Kinsey op ‘n 7- punt skaal probeer wegbeweeg van binêre opsies van gay x straight.  Volgens hom lê seksualiteit op ‘n kontinuum.  Jou posisie op die kontinuum word bepaal deur oa. jou seksuele fantasieë en die aantal en aard van jou seksuele ervarings. Kinsey meen dat slegs ‘n klein persentasie van die bevolking volledig homoseksueel of volledig heteroseksueel is.  Soek gerus ook op die internet na ander voorstellings van moontlike seksuele opsies wat bestaan (The Buell Review: being gay, is it really a choice?).

  1. Belewenis: Uit die “comfort zone”

Indien navorsing oor die voorkoms van gays (tussen 4%-16% van die bevolking) in ag geneem kan word, behoort hier vanoggend ook gays, of ten minste iemand met ‘n gay kind of ‘n gay nefie of – niggie teenwoordig te wees.  Indien niemand na aan jou gay is nie, wonder ek tog of elkeen nie ‘n gayverhaal het nie?  Al is dit net ‘n opinie oor gaywees.  Indien jy nog altyd oor aspekte van gaywees gewonder het, hoop ek  vanoggend sal jou die geleentheid bied om met ons almal daaroor te kan gesels.

Mense wonder dikwels hoekom ek aan gays se kant kom staan het.  Ek en al my gesinslede is heteroseksueel.  Tog het ek met feitlik geen kennis of ervaring van gays in ‘n terapeutiese opset die onreg wat teen hul gepleeg word, gehoor.  Die een na die ander het hul verhale van pyn en verwerping vir my kom vertel.  Ek het begin besef dat dit nie ‘n keuse kan wees nie, want nie een van hulle het vir my siek of na masochiste gelyk nie.  Hul was gesonde, normale mense wat net vir my kom vertel het dat hul gay is.  Sonder uitsondering het elkeen ook vir my vertel van die moeilike pad wat hul geloop het om te probeer verander.  Sonder sukses.  In die 12 jaar wat ek met gays oppad is, het ek nog nie een persoon raakgeloop wat regtig gay was, wat wel verander het nie. Ek het wel al saam met ‘n paar na kerke, organisasies, ens gegaan om te kyk of hul nie kan straight word nie.  Sonder sukses.  Sommige het al in groot gemeentes opgestaan en getuig dat hul verander het; net om dan maar weer later by my in sak en as te kom sit (dikwels na aan selfmoord) en te huil omdat hul weet die getuienis was ‘n leuen.

Aanvanklik was ek baie nuuskierig oor hoekom mense gay word. Daar is boeke vol geskryf oor navorsing om hierdie vraag te probeer beantwoord. (vgl bv Wilson & Rahman 2005:Born Gay). Soms raak ‘n mens skoon vestrengel in al die verskillende bevindinge. In 2005 het navorsers aan die Karolinska Universiteit, Swede, o.l.v. Ivana Savic, bevind dat gays se brein verskillend van hul heteroseksuele eweknieë reageer wanneer hul geabstraheerde feromone (hormone wat seksuele opwelling laat plaasvind) ruik. Dit word beskou as ‘n aanduiding dat daar biologiese verskille tussen gay persone en straight persone mag wees waaraan niks verander kan word nie.  In 2010 bevestig navorsing op die gebied van epi-genetika dit waarskynlik wanneer die oorsaak van hierdie verskille verduidelik word.

Tot op hede is geen “gay geen” gevind nie, maar navorsers aan die Universiteit van Kalifornië o.l.v William Rice suggereer dat homoseksualiteit wel ‘n epi-genetiese skakeling het.  Epi-genetika verklaar waarskynlik hoe genetiese uitdrukking deur tydelike skakels (epi-merkers) gereguleer word.  Hierdie seks-spesifieke epi-merkers reguleer testosteroonvlakke in die baarmoeder tydens die eerste paar maande van swangerskap.  Dit keer dat sekere eienskappe soos genitalië, seksuele identiteit, of seksuele voorkeure van lewensmaats in meisies vermanlik en in seuns vervroulik.  Wanneer hierdie epi-merkers egter oor generasies heen van vader na dogter en moeder na seun oorgedra word, het dit dikwels die teenoorgestelde effek, bv die vervrouliking van die manlike fetusse en die vermanliking van die vroulike fetusse. Epi-genetika het dus die potensiaal om homoseksualiteit sowel as heteroseksualiteit te verklaar, asook ooreenkomste en verskille in familielede: soms is daar bv ‘n hele paar gay persone in een familie, terwyl in ander gevalle selfs identiese tweelinge nie albei gay is nie.  Ons moet natuurlik in gedagte hou dat kennis wat deur navorsing ingewin word, slegs voorlopig is.

In my praktyk het ek gou geleer dat meeste gay mense so gebore word.  Dit is nie ‘n keuse nie. (Sporadiese uitsonderings soms wanneer bv. n vrou in ‘n geweldadige huweliksverhouding met ‘n man was, sou sy soms kies om met ‘n vrou te wees). Die gemiddelde ouderdom waarop gay mans bewus raak van hul “andersheid” is vyf jaar. Die meeste gay vrouens raak gedurende hul puberteitsjare eers daarvan bewus.  Vanweë die boodskap van die samelewing dat dit “verkeerd” is, volg daar nou meestal ‘n lang stryd van ontkenning, valse identiteit en ‘n spanningsvolle lewe agter maskers.  Terwyl ek boeke oor gays verslind het, het die gays my drumpel deurgetrap.  Ek het gou besef dat om kennis oor gays in te win, belangrik is, maar dat hulle nie navorsingsobjekte was nie, maar mense van vlees en bloed met ‘n ongelooflike groot behoefte om aanvaar te word soos wat hulle is.  Hulle wou net menswaardig hanteer word.  Omdat die meeste met wie ek gesels het, Christene was/is wou hul ook sekerheid hê dat hulle vir God aanvaarbaar was.  Ek het besluit dat die fokus wanneer ons oor gay mense praat en dink moet verander van die onetiese vraag:”Hoekom is mense gay?” na ‘n meer lewe gewende vraag: ”Hoe kan ek menswaardig en liefdevol teenoor gay persone optree sodat hulle dit as menswaardig en liefdevol beleef?”  Navorsing alleen is dus nie genoeg om ‘n mens se houding teenoor gays te verander nie.  “n Hartsverandering is nodig.

  1. Probleem: Teen ‘n muur (van glas)

Vir my beteken die metafoor hoop: deursigtigheid, lig, kraking van diskoerse omdat lense waardeur mens na die werklikheid kyk, kan verander

  • Wat is die NGK se standpunt? Gays mag lidmate en predikante wees. Gay Verhoudings, veral vir predikante: “Nee”. Gay huwelike: ”Nee”. Gevolg: Gayvriendelike gemeentes ontstaan, maar gay predikante moet selibaat bly en indien in verhoudings, mag hul nie gelegitimeer word nie.
  • Hoe beleef gays (en hul ouers, kinders) die verwerping van die samelewing? Hul sukkel, seer, gaan meestal deur ‘n proses van ontkenning, verstaan, “fix”, rou oor verlies, tot by aanvaarding en celebration.
  • Hoe impakteer dit op gay predikante?

 

Depressie, woede, seer, 2e klas-lidmaat, 2e klas-alles, Opnuut verwerping, gay predikante word soms selfs nou as pedofiele en as gevaarlik beskou.

  1. Vorentoe: Saam

Hoe versmelt die “ons” en die “hulle”?  Is dit moontlik? Doel: onvoorwaardelike aanvaarding en liefde vir die ander. Wat keer jou om die doel te bereik? Om Verhoudings te bou.  Breek stereotiperings af deur kontak. Ook my eie.

“When you’re scared, especially of something you know very little or almost nothing” about, hatred is a normal reaction.

Dus: kennis plus kontak plus aksie: standpunt teen bullying van gays deur politici, polisie, kerkleiers, skole, onderwyseropleiding, seksopleiding in skole, aksie teen vooroordele, naasteliefde, kennis van die impak van stereotipering en stigmatisering, menswaardige hantering van gays, word hulle vriende.

In my model (dis op die internet beskikbaar: Deconstructing gay discourse in the Dutch Reformed Church) het ek moontlike posisies op ‘n kontinuum aangedui ten einde rigting in die proses van veranderende persepsies teenoor gays voor te stel.  Tusssen twee ekstreme van radikale uitsluiting en radikale insluiting bespreek ek 4 dimensies wat in verhouding met mekaar staan en mekaar affekteer, nl. Dogma, deelneming, konteks en vooroordele.

Dankie vir julle tyd en vrae.  Ons hoop dit het ‘n bietjie bygedra om meer compassion teenoor die sg. “hulle” van die samelewing te kweek.  Is elkeen van “ons” nie ook maar van tyd tot tyd in bepaalde kontekste ‘n “hulle” nie?

 

Marietjie van Loggerenberg (082-3243726)

Andrè Muller (082-3269385)