Midrandlesing 20 November 2016

Hein vra of ongelowigheid ‘n keuse is wat enigeen kan maak … en of dit noodwendig die beter opsie is. As ‘n mens vry is om so ‘n keuse te maak, waarom word dit soms vir die meer sensitiewe mens ‘n lewensworsteling? Kan dit aan persoonlikheidstipes gekoppel word en is dit moontlik om uitsluitsel te vind?

Hein beskou die vrae uit die hoek van sy persoonlike lewe. Hy het as gelowige grootgeword en was vasberade om eendag op die kansel te staan. Daarom het hy vir predikant gaan studeer, ten spyte van sy opvallende tegniese en wiskundige vaardighede. Tog raak hy jongtyd al bewus van die diskrepansie tussen die geestes- en natuurwetenskap en bevraagteken gedurig dinge wat hom by sy dosente en die kerkraad in die moeilikheid bring. Hy stem saam met Nietsche dat Christene die plesierige wêreld in ‘n jammerdal verander het en met Jung wat sê dat die moderne mens met gerigte denke toegerus is wat die mens instaat stel om uit die greep van emosies en groepsdruk te ontsnap. Met ‘n vrye bewussyn gee jy moeiliker toe aan ‘n onkritiese volgelingskap.

Maar die proses van vryraking gaan vir Hein nie sonder ‘n persoonlike dilemma gepaard nie. Selfs in die Bybel vind hy vele tekens hiervan. Soos die onafhanklike menslike denke en bewussyn toegeneem het, so het die ongemak tussen die mens en die God wat die mens om hom/haar opgestel het, gegroei. En die hunkering tussen die bekende veiligheid van gehoorsame volgelingskap en waagsame eie oordeel, tussen blinde gehoorsaamheid en vrydenkende persoonlike bewussyn sal altyd ‘n groeiende leemte laat.

Hein bekyk ook die verskillende opvattings oor menswees, groeiende vaardighede en inligtingstoeganklikheid wat verskille al meer bedreigend en opvallend maak. Baie mense ervaar ‘n groeiende gevoel van agterstand. Hy wys op die kognitiewe vooroordeel by individue, ‘n metakognitiewe onvermoë om ‘n mens se eie vaardighede na waarde te skat. Dit is, byvoorbeeld, soos persone met lae vaardighede wat aan ‘n interne illusie van superioriteit ly. Net so kan individue met hoë vaardighede hulle kompeterende vermoëns ligtelik beskou en aanvaar dat dinge wat vir hulle maklik is ook vir alle ander mense maklik behoort te wees.

Hy volg met kritiese vrae oor die toepassing van beginsels soos gelykheid en menseregte, politieke korrektheid en stelsels vir opleiding wat sogenaamd gelykheid moet bevorder maar dan die belangrikheid van gedifferensieerde vermoëns en opleiding oor die hoof sien.

Hy lê besondere klem op temperamentsverskille en gedrag, ook die menslike neiging om jou eie manier as standaard te verhef, en wonder: “Is al die temperamente ewewaardig in terme van oorlewing? Is enige samevoeging van temperamente komplementêr tot ‘n samelewing? Is daar die ‘regte’ proporsie van temperamente in elke generasie? Behoort daar voorkeure te geld vir spesifieke temperamente? Kan ‘n sosiale stelsel dit bekostig om so ‘n groot verskeidenheid van temperamente te akkommodeer ‒ in ‘n gesin, ‘n organisasie, ‘n staat, ‘n beskawing?” … En hy vra ten slotte: “Het ons nie ‘n sterk god nodig om die spulletjie bymekaar te trek nie (met verwysing na ‘Pous Johanna II’)?”

(Opsomming: Babs Basson)