1. Tien jaar van Nuwe Hervorming

Tien jaar gelede toe die Nuwe Hervorming Netwerk gestig is, het baie mense gedink dis ʼn teken van die eindtye. Ons is uitgekryt as die eindtydse valse profete en die handlangers van die Antichris. Ongeveer sewe en twintig amptelike verklarings is teen ons uitgereik deur gemeentes, ringe, en persone van aansien.

Ons het gesê ons is moeg om voorgeskryf te word waaroor ons navorsing mag doen, wat en hoe ons moet glo, en waaroor ons mag praat. So ons het sake op die agenda geplaas wat voorheen taboe was:

· Bestaan God? Indien wel, wat is die aard van God?

· Bestaan die duiwel en ander bo-natuurlike wesens? Hoekom het mense ʼn geneigdheid om daarin te glo?

· Is daar ʼn hemel en ʼn hel?

· Is Jesus biologies uit ʼn maagd gebore en het hy letterlik uit die dood verrys?

· Was daar ʼn sondeval? Is daar aanduidings van so-iets in die ewolusie van die mens?

· Wat is die aard van die siel en bewussyn, en is daar iets van ons wat voortbestaan as ons doodgaan?

· Hoe sien en lees ons die Bybel:

o — As ʼn versameling dokumente wat die basis van die Christendom vorm, of

o — as ʼn goddelik-geïnspireerde boek met een enkele outeur?

· Is daar iets soos gebedsverhoring en goddelike ingryping?

· Wat is die verhouding tussen wetenskap en godsdiens — veral waar dit kom by die groot knal en ewolusie?

· Wat van homoseksualiteit en die posisie van vroue?

Ek het die voorreg gehad om ʼn bietjie meer as ʼn jaar terug twee vroue wat met mekaar getroud is se kindjie te doop — die resultaat van kunsmatige inseminasie. Hulle het uit die VSA gekom. Die een was ʼn geoktrooieerde rekenmeester, Afrikaans en oorspronklik uit Suid-Afrika. Die ander was ʼn chemiese ingenieur, oorspronklik uit Duitsland. Die biologiese pa was ʼn gay vriend uit Oostenryk. Dit was vir my ʼn nuwe ervaring: een kind, met drie ouers, wat vier lande dek! En toe ek die kindjie doop, begin die twee ma’s onbedaarlik huil. Ek dink dit was oor die ervaring van verwerping wat hulle nog altyd beleef het. Niemand anders wat hulle gevra het, wou die doop hier in Suid-Afrika doen nie. Daar is geredeneer dat dit tradisionele gesinne sou ondermyn en ondergrawe. Ek dink hulle het ook gehuil oor die onvoorwaardelike aanvaarding en liefde wat ons met God assosieer, en wat hulle daardie Sondagoggend in die ritueel van die doop ervaar het. Ek het nie geweet wat om te doen nie, en ek het hulle toe sommer spontaan saam met die kindjie omhels en ʼn versie saam gehuil. Toe het ons almal beter gevoel.

Tien jaar terug het ons gesê ons sal dinge vir onsself uitmaak; ons sal ʼn ruimte vir oop gesprek skep; ons sal nie vir ander mense voorskryf wat en hoe hulle moet glo nie; ons sal ons ook nie deur enigiemand laat voorskryf oor hoe en wat ons self moet glo nie; ons sal ʼn klimaat van verdraagsaamheid handhaaf.

En mense het ons afgelag en gesê dis ʼn storm in ʼn teekoppie en gee dit agtien maande en dis uitgewoed. Hier is ons — tien jaar later. Kyk maar net na die boeke wat tans verskyn en dit is duidelik dat die NHN op die voorpunt was en steeds is van nuwe denke oor geloof en godsdiens en aanbidding en vernuwing binne die Christendom.

Daarom wil ek graag vanoggend hulde bring aan mense wat ʼn bydrae gelewer het tot hierdie beweging: Sakkie Spangenberg wat met die grootste integriteit ʼn dryfveer van die NHN gebly het. Dan is daar Piet Müller wat hoeveel mense vir my al gesê het, selfs as ek hulle die eerste keer ontmoet, hy het iewers van die bus afgeval. Pieter Botha en Pieter Craffert het met hulle uitstaande intellek en navorsing die beweging gedryf. Elke lid van die NHN, elke persoon wat die NHN gelei het, op die bestuur gedien het, finansieel en andersins ondersteun het. Baie dankie, en van my kant af, ʼn drukkie vir elkeen van julle.

2. Die einde van die tyd

My praatjie vanoggend gaan oor die boek Openbaring. Bevat dit voorspellings van hoe die einde van die tye gaan afloop? Of is dit bloot ʼn reaksie teenoor die trauma wat Christene aan die einde van die eerste eeu beleef het? Hierdie trauma was hoofsaaklik verdrukking deur die Romeinse Ryk, vervolging en die dreigende disintegrering van Christelike gemeenskappe.

Onderliggend aan hierdie tema is daar belangrike lewensvrae—vrae waarop die tradisionele Christendom pasklaar en skynbaar ewige antwoorde verskaf. Dit is vrae soos:

· Gebeur dinge met ʼn doel, of lukraak volgens natuurlike oorsake en gevolge?

· Is daar ʼn meesterplan, ʼn bloudruk vir my lewe, of word die gang van my lewe bepaal deur faktore soos my gene en die omgewing waarbinne ek groot geword het en funksioneer?

· Verloop die geskiedenis volgens ʼn goddelik vasgestelde tydlyn, of redelik lukraak volgens ʼn horde kousale faktore wat dit moeilik maak om die toekoms akkuraat te voorspel?

· Het Openbaring ʼn universele boodskap al ervaar baie mense die geskrif as geweldadig (selfs Jesus dra ʼn militêre uniform) en aanstootlik?

Ek sal probeer verduidelik hoekom daar twee benaderings tot Openbaring is, die denkraamwerk van elke teorie ontleed en dit toepas op die sogenaamde eskatologiese of eindtydelike historiese lyn. Ten slotte sal ek ʼn moontlike raamwerk vir ʼn eietydse interpretasie verskaf en ʼn paar vrae vra oor tyd, en hoe ons dit beleef.

3. Waarom twee teorieë?

Waarom is daar twee teorieë, twee uiteenlopende maniere, om Openbaring te lees en te verstaan? Die boek self kan gelees word as voorspellings in die eng sin van die woord. In Openbaring 1:1, 3 staan daar (alle aanhalings is uit die NAB): “1…wat hier volg is deur Jesus Christus geopenbaar” oor “wat binnekort moet gebeur.” “3…want die eindtyd is naby.”

Sommige mense lees die “binnekort” as verwysend na die einde van die eerste eeu, ander mense as verwysend na later eeue, byvoorbeeld die een en twintigste eeu, asof dit vir die moderne leser geskryf is. Die teks nooi ook die leser uit om tussen die lyne te lees. So lees Openbaring 13:18, “Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Hulle wat die boek verstaan as geskryf vir lesers aan die einde van die eerste eeu, probeer die simbole uitlê as verwysend na persone en instansies van daardie tyd. Diegene wat die boek lees asof dit moderne lesers direk aanspreek, soek dit in die een en twintigste eeu. Die simbole in die boek is onsamehangend, nagmerrie-agtig en maak nie sin nie: daar is monsters uit die see; ’n messiaanse kryger; plae; sewe seëls; bakke van goddellike toorn; en ’n prostituut wat op ’n skarlaken dier ry. Dit nooi die leser uit om inhoud daaraan te gee, byna soos om ʼn droom te ontleed. Weer eens word dit óf eerste-eeus, of eindtydelik uitgelê.

Samevattend kan dus gesê word dat ʼn suiwer literêre benadering die boek lees as ʼn apokaliptiese teks. Dit reageer op katastrofiese trauma en los dit op deur geweldadige fiktiewe toekomstige scenarios te skep. ʼn Simboliese lees van die teks geniet voorrang en die teks word primêre verstaan teen die agtergrond van die einde van die eerste eeu.

Die evangeliesgesindes (my vertaling vir “Evangelicals”) lees die boek as voorspellings van God se bloudruk vir die geskiedenis wat die wederkoms van Jesus voorafgaan. Die afgryslike geweld in die boek verwys na gebeure van die eindtyd. Die boek moet volgens die verstaansbeginsel van scriptura sacra sui interpres (“die Heilige Skrif is sy eie verklaarder”) gelees word. Prakties beteken dit dat die Bybel in die geheel gesien word as ʼn faks van God af, en dat ander Bybelse tekste gapings invul wat in Openbaring mag voorkom.

4. ʼn Kort inleiding tot die boek Openbaring

Om die res van die argument te volg, is dit nodig om ʼn kort inleiding oor die ontstaan en inhoud van die boek te gee. Dit is geskryf teen ongeveer 95 n.C. en het onder kerke in Klein Asië sirkuleer in die vorm van ʼn omsendskrywe. Die outeur sê hy is op die eiland Patmos en daar is ʼn tradisie dat hy daarheen verban is deur die Romeinse owerhede (keiser Domitianus) as deel van die vervolging van Christene. Hy noem homself Johannes. Oorspronklik het mense gedink dit verwys na die apostel Johannes, ’n visserman uit Judea, die enigste apostel wat getuie was van Jesus se kruisiging. Meeste hedendaagse geleerdes reken dis ’n skuilnaam. Hy wou bloot aandui dat die boek geskryf is deur ʼn lid van ʼn groep Christene vir wie die Johannese geskrifte baie belangrik was. [Johannese geskrifte: Die Johannes-evangelie en die drie briewe van Johannes.]

Die skrywer van Openbaring interpreteer die geskiedenis as die uitspeel van die stryd tussen twee onsigbare magte: (1) die goddelike in die hemel en (2) die sataniese in die hel. Die oorlog verloop breedweg volgens ʼn tydlyn. Dit begin met sewe jaar van verdrukking met aardbewings van onder af en vuur uit die hemel van bo. Daarna volg die regering van die Dier wat die getal 666 gebruik om mense te onderdruk en te beheer. Sy regering word beëindig deur die slag van Armageddon waarin die meeste mense op aarde sal omkom—so erg dat die bloed so hoog as die stange van die perde sal loop (Openb. 14:20). Dit is die einde van die bekende wêreld. Hierna keer Jesus terug aarde toe om vir ʼn duisend jaar saam met sy uitverkorenes te regeer en die Satan word vir hierdie tydperk vasgeketting. Aan die einde van die duisend jaar word die Satan en sy trawante in die poel van vuur gegooi. Die Nuwe Jerusalem daal dan uit die hemel neer (Openb.21:9).

Die evangeliesgesindes lees hierdie tydlyn as voorspellings van hoe die laaste dae sal verloop. Hulle glo verder dat dit onvolledig is en saam met ander tekste in die Bybel gelees moet word om die gapings in te vul. Hiervolgens is daar ʼn vollediger tydlyn. Dit begin met die tyd van die belofte (Adam tot die jaar 33 n.C., die kruisgebeure rondom Jesus, en voorspellings van die koms van Jesus). Die eeu van die kerk (die jaar 33 n.C. tot tans) is die volgende tydperk. Die wegraping, die onverklaarbare verdwyning van miljoene mense, vorm die eindpunt van hierdie era (1 Tess. 4:14—18). Hierna volg sewe jaar van verdrukking (Openb. 4—19) ingelei deur die koms van die Antichris (wie se getal 666 is, Openb. 13:18). Die slag van Armageddon maak ʼn einde hieraan (Openb. 19:11—21) wanneer die magte van die gelowiges, aangevoer deur Jesus, die magte van die Antichris verslaan. Die Satan word vir ʼn duisend jaar geboei terwyl Jesus en dié mense wat getrou gebly het onder verdrukking, regeer. Die aarde word vernietig (Openb. 21:1), die Satan en sy volgelinge word in die poel van vuur gegooi, die Nuwe Jerusalem daal af uit die hemel uit (Openb. 21:9) en die gelowiges leef gelukkig vir ewig en altyd.

In wat volg, wil ek kortliks gesels oor die belangrikste punte op hierdie gerekonstrueerde tydlyn: die Wegraping, die Groot Verdrukking, die Antichris, die Slag van Armageddon, en die Duisendjarige Vrederyk.

5. Die wegraping

Die vernaamste teks wat gebruik word vir die leerstelling van die wegraping, is 1 Tessalonisense 4:16—17: 16Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.

Evangeliesgesindes argumenteer dat hierdie teks op die tydlyn van Openbaring geplaas moet word net voor die begin van die groot verdukking. God gebruik die wegraping om gelowige mense die ontsettende lyding wat gaan volg, te spaar. Die wat in Christus gesterf het, sal uit hulle grafte verrys, en gelowiges wat nog leef sal in die lug opvaar om Christus daar te ontmoet en saam met hom die hemel in te gaan. Op hierdie wyse sal miljoene mense onverklaarbaar verdwyn, terwyl ongelowiges agtergelaat word om die vreesaanjaende eindtydelike verdrukking van sewe jaar te beleef.

ʼn Meer literêre benadering vind dit onverantwoordelik om hierdie teks lukraak met Openbaring te kombineer. Wanneer mens die teksvers binne konteks verstaan word dit duidelik dat Paulus verwag dat Jesus nog binne sy tyd gaan kom (hy praat van “ons wat nog lewe”) en die teks veronderstel dat die oordeelsdag direk daarna sal volg. Sy lesers het natuurlik gevra, wat gaan gebeur met hulle familie en vriende wat intussen gesterf het. Paulus sê hulle sal opstaan. Hy sê dus niks anders nie as dat met Jesus se verwagte wederkoms dooies gaan opstaan, en mense wat nog lewe eensklaps onsterflike spirituele liggame gaan kry. Direk daarna volg die oordeelsdag.

6. Die groot verdrukking

Vir mense wat die tydlyn van Openbaring wil uitbrei deur dit met ander Bybelse tekste te versoen, is die vraag wanneer die groot verdrukking gaan begin. Hulle koppel dit met tekste uit die Ou Testament wat handel oor die herstel van Israel. So byvoorbeeld lees Jeremia 30:3: “Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek die lot van my volk Israel en Juda sal verander en hulle sal terugbring om die land te besit wat ek aan hulle voorvaders gegee het, sê die Here.”

Edgar Whisenant was ʼn vuurpylingenieur by NASA en ook ʼn ywerige evangeliesgesinde Bybelstudent. Hy is in 2001 oorlede in die ouderdom van agt en sestig jaar. Sy boek, 88 Reasons Why the Rapture Will Occur in 1988, het binne ʼn paar maande meer as twee miljoen eksemplare verkoop. Hy het die wegraping baie spesifiek voorspel as tussen 11—13 September 1988 tydens die Joodse Rosh Hashanah fees. Daarna sou die Groot Verdrukking van sewe jaar volg.

Hoe het hy by hierdie voorspellings uitgekom? Hy het die woorde van Jesus in Matteus 24:32—34 gebruik: 32“Leer dit van die vyeboom as voorbeeld: wanneer sy takke begin sag word en hy blare kry, weet julle die somer is naby. 33So moet julle ook wanneer julle al hierdie dinge sien, weet dat die tyd naby is, voor die deur. 34Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur.”

In talle Bybelse tekste is die vyeboom ʼn simbool vir die volk Israel. Die vyeboom wat bot (blare kry), verwys na die herstel van die staat Israel in 1948. Die wegraping moet dus binne ʼn geslag plaasvind. In die Bybel is ʼn geslag gelyk aan veertig jaar. Die jaar 1948 plus veertig jaar, gee vir jou 1988! Dis nie al nie. Hierdie datum word vir Whisenant gestaaf deur Levitikus 26:34—35 waar gestel word dat Israel sewevoudig gestraf sal word. Vir hom beteken sewevoudig sewe jaar (of 7 maal 360 dae in die Joodse kalender). Dit gee 2520 dae. Daar is plekke in die Bybel waar een dag geïnterpreteer kan word as een jaar. Gevolglik is die periode van Israel se straf tweeduisend vyfhonderd en twintig jaar. In die jaar 532 v.C. het die ballingskap geëindig. Dus moet ons 2520 as ʼn addisionele straf by hierdie datum tel. Die sommetjie is eenvoudig: -532 + 2520 = 1988. Voilà! Die datum word uit die Ou Testament bevestiging!

Die sewe jaar van verdrukking waarvan ons in Openbaring lees (Openb. 14–19) klop met tekste soos Matteus 24 waar daar van oorloë en gerugte van oorloë gepraat word, hongersnood, plae en aardbewings.

Ná die wegraping voorspel Whisenant ʼn groot verdrukking vir ʼn periode van sewe jaar. Dit sou sononder 3 Oktober 1988 begin. Ander evangeliesgesindes sien die katastrofiese weerpatrone wat ons ervaar, plae soos VIGS, natuurrampe en waansinnige leiers soos Osama bin Ladin as die vervulling van die profesie van die sewe jaar van verdrukking. Die aardbewing van 2004 in Suid-Asië wat die tsoenami’s tot gevolg gehad het en waarin 270,000 mense omgekom het, is as ʼn spesifieke vervulling van Openbaring 16:18 se aardbewing gesien. Op grond van Openbaring 8:10—11 waar daar na ʼn ster uit die hemel verwys word, word verwag dat ʼn groot asteroïede die aarde gaan tref. Wetenskaplikes het mos inderdaad gerapporteer dat die aarde al ʼn paar keer amper getref is. Meer as die helfte van die aarde se bevolking sal dan uitgewis word.

Hulle argumenteer verder dat die plae in kodetaal beskryf word. Die rook wat uit die onderaardse skag opstyg (Openb. 9:2) kan niks anders wees as die paddastoelwolk van ʼn atoombom nie. Die sprinkane wat uit die rook vlieg om mense te pynig is gevegshelikopters want die “gedreun van hulle vlerke” is soos “die gedreun van baie strydwaens.” Die angels in hulle sterte verwys na missiele.

Natuurlike stem nie almal met hierdie tydlyn of interpretasie saam nie. Die Ou Testamentiese tekste wat verwys na die herstel van Israel het niks te doen met 1948 nie, maar met die terugkeer uit die Babiloniese Ballingskap. Dit het lank terug reeds plaasgevind. Die rampe waarna in Openbaring verwys word, is ʼn simboliese weergawe van die trauma wat Christene ervaar het aan die einde van die eerste eeu n.C. In die jaar 79 was daar byvoorbeeld die uitbarsting van die vulkaan Vesuvius in Italië waarin na beraming sestien duisend mense in die dorpies Pompeii en Herculaneum omgekom het. Daar was ook die teregstelling van Christene deur Keiser Nero. Toe Rome in die jaar 64 afgebrand het, het hy die Christene die skuld daarvoor gegee en ʼn klomp laat teregstel. In die jaar 70 is die tempel in Jerusalem verwoes. In Openbaring 6 word die trauma van oorlog en ekonomiese depressie en grootskaalse sterftes gekoppel aan vier perde, wit, rooi, swart en vaal. Hierdie perde kan geassosieer word met ʼn ryk oos van Rome, die Partiërs, wat vanaf die eerste eeu v.C. tot in die derde eeu n.C. in oorlog met Rome gewikkel was. Dit wil dus voorkom asof die tydperk van verdrukking volledig verklaar kan word in terme van gebeure aan die einde van die eerste eeu. Elke tyd het maar sy trauma. Dink maar aan die Groot Griep epidemie van 1918. Baie familie het legendes oor een of twee ouers, of kinders wat dood is, hertroues wat plaasgevind het, gesinne wat hersaamgestel is, en boererate van sakkies knoffel wat aan klere vasgespeld is en wat die griep afgeweer het.

7. Die Antichris / Die dier / Die valse profeet

Die verwagting is in elk geval dat die sewe jaar van verdrukking die koms van die Antichris sal voorafgaan. Hierdie term word nie in Openbaring gebruik nie, maar in ander Bybelse tekste soos 2 Tessalonisense 2:1—4, 1 Johannes 2:18, 22, 1 Johannes 4:3; 2, en Johannes 1:7. Terme soos die “wettelose mens” en die “verleier” word ook gebruik. Die betrokke teks is Openbaring 13:18, “Hier is wysheid nodig. Wie verstand het, kan die getal van die dier ontsyfer, want dit is ’n mens se getal. Sy getal is ses honderd ses en sestig.”

Die teks self nooi die leser uit om gematria te gebruik, dit wil sê om numeriese waardes aan Griekse, Hebreeuse of Latynse letters toe te ken. Dit was ʼn gewilde speletjie in die eerste eeu. In die ruïnes van Pompeii is byvoorbeeld ʼn grafiti gevind wat lees: “Ek is verlief op haar wie se nommer 545 is.” (philô hê arithmo Phi Mu Epsilo — φιλω η αριθµο φµε.)

In die geskiedenis is die getal 666 al op verskillende persone toegepas. In die dertiende eeu byvoorbeeld het Pous Innoccentius III verklaar dat dit na Mohammed verwys. In die sewentiende eeu het Martin Luther gesê dit verwys na die Pous van Rome, wat op sy beurt presies aangedui het dat dit net Martin Luther kan wees. In die Tweede Boereoorlog was daar mense wat dit op Koningin Victoria van toepassing gemaak het. Hitler was ook ʼn kandidaat en is ʼn goeie voorbeeld om te demonstreer hoe gematria werk. As jy die waarde van 100 aan A toeken, 101 aan B en 102 aan C ensomeer, dan lyk Hitler se naam soos volg: H (107); I (108); T (119); L (111); E (104); R (117). Die som is dan: 107 + 108 + 119 + 111 + 104 + 117 = 666! Afhangende van die getalswaardes wat jy toeken, kan jy die getal 666 op letterlik enigiemand van toepassing maak.

Evangeliesgesindes beskryf die Antichris as die populêrste persoon op aarde. Hy is reeds gebore en sal die hele wêreld regeer. Hy sal die getal 666 (Openb. 13:16—17) gebruik om elke mens te beheer sodat jy nie kan handel dryf sonder hierdie teken nie. Daar word verwag dat hy die grootste leër in die geskiedenis van die mensdom op die vlakte van Armageddon in Palestina sal mobiliseer.

Geleerdes wat ʼn literêre benadering volg wys daarop dat die naam van Keiser Nero soos dit op munte uit die eerste eeu verskyn in Grieks die getalswaarde van 666 het. Sommige vroeë en baie betroubare manuskripte het die getal 616, die totaal van die getalswaarde as mens Romeinse letters gebruik. Nero is as die dier beskou omdat hy die eerste groot vervolging van Christene in 64 begin het deur die blaam vir die brand in Rome op hulle te plaas. Ook hierdie verwysing in Openbaring kan volledig binne die konteks van die einde van die eerste eeu uitgelê word.

Die Antichris, so word verwag, sal in die Slag van Armageddon verslaan word.

8. Die slag van Armageddon

Volgens Openbaring 16:16 is dit die finale geveg tussen die magte van die bose en die magte van die lig. Dit sal plaasvind op die Vlakte van Megiddo in Palestina waar die Egiptenare in 1479 v.C. ʼn groot geveg met die Kanaäniete gehad het. Volgens die evangeliesgesinde interpretasie sal die Christelike leër aangevoer deur die Messias bestaan uit ongelowiges wat na die wegraping tot bekering gekom het.

ʼn Meer literêre benadering argumenteer dat hierdie maar die tipiese slot is van ʼn grusame verhaal, waar ʼn deus ex machina, ʼn god uit ʼn masjien, op die verhoog van die wêreld neergelaat word en ʼn goeie afloop verskaf. Hierdie messias sal die Romeinse onderdrukkers verslaan. Dit het toe nie gebeur nie, en gevolglik soek mense steeds na alternatiewe interpretasies.

9. Die duisendjarige vrederyk (Millennialisme/Chilliasme)

Ná die Slag van Armageddon word ʼn duisendjarige vrederyk voorspel op grond van Openbaring 20:4b—6 (vgl. Ook Eusebius Hist. Eccl. III.39.12 wat sê dat die tweede-eeuse kerkvader, Papias, ʼn millennium van vrede verwag het): “…Hulle het lewend geword en saam met Christus duisend jaar lank regeer. Dit is die eerste opstanding. Die ander dooies het nie lewend geword voordat die duisend jaar om was nie. … Oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam sal hulle met Hom die duisend jaar lank regeer.” (Openb. 20:4b—6.

Die leerstuk van millennialisme is ook aangehang deur die kerkvader Irenaeus, die beweging van die Montaniste, Joachim van Fiore, ʼn Italiaanse monnik van die twaalfde eeu wat ʼn kloosterorde gestig het, en die sogenaamde Radikale Hervormers van die sestiende eeu.

Weer eens is dit moontlik om die millennium van vrede eerder te verklaar as ʼn simboliese aanduiding van die permanente regering van Jesus as alternatief vir imperialisme, die onderdrukkende Romeinse Ryk. Omdat die tempel in Jerusalem verwoes is, asook Jerusalem self, is ʼn nuwe Jerusalem verwag. Die Satan word vasgeketting vir hierdie duisend jaar en, na die oordeelsdag, saam met al sy trawante in ʼn vuurpoel gegooi waar hulle dag en nag gepynig sal word tot in alle ewigheid (Openb. 20:10). Dit is gewoon die ontknoping van ʼn spannende storie waar die goeie uiteindelik seëvier.

10.Positiewe en negatiewe lesings van Openbaring

In die tydperk 1856 tot 1857 het daar ʼn afgryslike gebeurtenis in die Ooste van Suid-Afrika plaasgevind. Dit was ʼn reaksie van die Xhosas teen blanke kolonisasie. Nongqawuse, ʼn jong meisie, bygestaan deur haar oom, Mhlakaza, het sekere voorspellings gemaak. Dit is duidelik dat hierdie voorspellings gegrond was op idees in Openbaring. Hulle het deur sendelinge daarmee in kontak gekom. Die twee het verkondig dat die Xhosa nasie al hulle vee moes slag, alle graanvoorrade moes vernietig, en niks plant nie. Op Woensdag die 19e Februarie 1857 sou die son rooi word. Hulle voorvaders sou dan uit die dood opstaan en die setlaars in die see dryf. Die graanvoorrade sou dan aangevul word, gesonde en beter beeste sou die krale vul, die blindes sou sien, die lammes loop, en mense sou nie langer hoef te werk nie. ʼn Goue eeu van vrede sou dan vir die Xhosas aanbreek.

Dit het natuurlik nie gebeur nie. Ongeveer ʼn half miljoen vee is geslag. Hongersnood was die gevolg en omtrent tagtig duisend mense is dood. Sir John Grey het probeer om met sopkombuise te help. Mhlakaza het self in die hongersnood omgekom, en Nongqawuse is vir ʼn ruk lank na Robbeneiland verban. ʼn Sendeling het die ramp soos volg beskryf:

“Famine has effaced all human likeness. Young men of twenty lost their voices and chirruped like birds. Children were wrinkled and withered and gray. Men and women presented the appearance of baboons, and like baboons searched under stones for insects to devour.”

Mense het hulle selfs tot kannibalisme gewend om aan die lewe te bly en van die ouers het hulle kinders geëet. As ʼn direkte gevolg van hierdie ramp het duisende oorlewendes oor die oosgrens gestroom en begin om as plaasarbeiders te werk.

As alternatief vir ʼn letterlike verstaan van Openbaring en ʼn reeks totaal onsuksesvolle pogings om gebeure in die boek aan die moderne geskiedenis te koppel, is ʼn meer simboliese verstaan moontlik. Openbaring het in die verlede kreatiewe denke, letterkunde en kuns op ʼn konstruktiewe manier gevoed. Dante se Inferno waar die mens se spirituele reis van geboorte tot in die hiernamaal uitgebeeld word, is ʼn goeie voorbeeld. Omdat Openbaring geskep is as ʼn reaksie teen die trauma van imperialisme, lees baie mense dit vandag om teen vorme van imperialisme in ons eie tyd te reageer. Daar is baie voorbeelde van hoe vrye handel onderdruk word (byvoorbeeld die manier waarop swart bemagtiging in Suid-Afrika toegepas word). Openbaring kan dus vrugbaar gebruik word om te praat oor hoe ʼn ideale samelewing behoort te funksioneer. Beginsels van godsdiensvryheid, vrye handel, die versorging van die armes, eerlike landsbestuur en selfs natuurbewaring kan in die teks aangedui word. Dit sou ons bewus kon maak nie net van die bose in elke eeu nie, maar ook van die boosheid in onsself.

In Openbaring word ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde beskryf. Dit is ’n stad sonder ’n kerk of tempel, want God is oral teenwoordig. Daar is geen trane, geen dood, geen rou, en geen pyn nie. Alles word nuut. Reg en geregtigheid geskied en daar is ʼn oordeel oor moordenaars, verkragters en bedrieërs.

Laurika Rauch in haar liedjie, Hot Gates (die Engelse vertaling van Thermopylae waar ʼn groot geveg tussen die Grieke en die Perse in die vyfde eeu v.C. plaasgevind het) verwys na beelde uit Openbaring om sensitiwiteit vir ʼn nuwe toekoms te skep. Die hele liedjie bestaan uit plekname soos Jerigo, Hiroshima, Amajuba, Dunkirk, en Sharpeville waar daar groot trauma en lyding ervaar is. Sy sing van die vuur van Openbaring asook die ruiters wat vernietiging bring. Die lirieke eindig op ʼn positiewe noot met die koor:

There’s another song that will be sung

There’s another bell that must be rung

There’s another city I’ve been told

Where the streets are paved with gold

 

11. Bevraagtekening van die Christelike tradisie

Ons kom uit ʼn tradisie wat sterk gegrond is op apokaliptiese verwagtings. Die Apostoliese Geloofsbelydenis volg ʼn basiese eskatologiese tydlyn van die skepping tot by Jesus, sy wederkoms en die oordeelsdag. Dit is dalk tyd om nuut te dink oor vrae soos:

· Is die eskatologiese tydsiening nie manlik, fallies, lineêr-penetrerend en geweldadig nie?

· Moet ons nie ruimte maak vir ’n meer vroulike sikliese siening van tyd nie? Die wêreld vergaan baie keer. Die wêreld word baie keer gebore.

· Moet ons die bose na die toekoms ekstrapoleer en in angs en bewing leef en smag na ’n nuwe De la Rey om ons te kom verlos?

· Of kan ons in gesprek tree oor ’n nuwe Suid-Afrika en ’n nuwe wêreld, hoe dit sal uitsien, en hoe ons kan deelneem om dit te verwesenlik en eerder die goeie in die verlede en hede die toekoms in ekstrapoleer?

· Gebeur dinge met ’n doel of lukraak? Selfs as dit lukraak gebeur, maak dit sin om te leef asof alles wat met ons gebeur ’n kosmiese komplot is om ons welsyn te bevorder?

· Werk alles mee ten goede, of het ons eerder die vermoë om die beste te maak van hoe ook al die lewe se roeletwiel vir ons draai?

· Stem ons saam met Martin Luther? Hy is gevra wat hy sal doen as hy weet die wêreld sou die volgende dag vergaan. Hy het geantwoord: “Ek sal nog steeds vanmiddag my appelboompie plant.”