Soos belowe, het Deon in sy praatjie oor drome die nuutste navorsing uit die neurowetenskap, sielkunde en kliniese ervaring gekombineer om ‘n tikkie realisme te bring in die maniere wat mense met drome kan omgaan. Waarneming het bewys dat alle mense droom. Baie mense is nie daarvan bewus nie of vergeet gou weer die droom. ‘n Mens kan tot 22 keer ‘n nag droom, 90 minute van die nag, agt dae per jaar, 100 000 drome in ‘n leeftyd. Dit alleen behoort ‘n mens te motiveer om meer omtrent drome te verstaan.

Hy het verduidelik hoe die brein deur middel van ‘n soort terapeutiese proses met emosies van die dag omgaan. Dit gebeur tydens die onderbewuste toestand van droomaktiwiteit in die REM-fase van slaap. Hy haal Carl Jung aan: “Night after night our dreams practise philosophy on their own account.”

Drome bestaan uit pre-verbale, visuele ‘boodskappe’ wat in die instinktiewe, kreatiewe, simboliese gedeelte van die brein ontstaan. Die boodskappe ontstaan in die hipothalamus, deel van die voorbrein, wat net onder die thalamus geleë is. Dit beheer die outonome senuweestelsel en die aktiwiteite van die pituïtêre klier en ander onwillekeurige aktiwiteite soos emosies, slaap, liggaamsekwilibrium en herstel.

Kognitiewe prosessering van drome bevat die voordeel dat dit emosies versag en oplossingsmoontlikhede belig.  Deur die simbole in die verhaal van die droom agterna te interpreteer, kan mens bewustelik die oplossings probeer vind. Deon verduidelik die beginsel van “Holographic dreaming” wat iets van die Yin-Yang-beginsel van teenstellende kragte bevat, waar beide die detail van vraagstuk en antwoord in die kleinste moment of simboliek vervat is.

Wanneer die emosies van die droom egter so intens word dat die droombeelde van die onderbewuste breinarea na die prefrontale korteks of bewussynsarea ‘oorspoel’, gebeur dit soms dat die persoon wil vlug en dan wakker skrik. In so ‘n geval kan die detail van die droom grootliks vervaag of glad nie meer agterna herroep word nie.

‘n Droom se funksie is essensieel, dus, herinnering met emosionele affek (ontlading), tot herinnering oorbly met verminderde affek ‒ “a mental health activity” ‒ selfs al onthou ‘n mens nie die droom nie. Tog is Deon van mening dat, hoewel die droom opsigself ‘n helingsproses bevat, dit belangrik kan wees om praktiese maniere te vind om drome beter te onthou en kognitiewe prosessering makliker (en bewustelik effektief) te maak. Hy vergelyk dit met ‘n vliegsimulator waarin vlieëniers opleiding ondergaan sonder om werklik te vlieg. Interessant is die kliniese waarnemings wat aandui dat meer as 70% drome oor negatiewe emosies gaan en minder as 40% enige “magiese of spirituele” belewenisse bevat.

Deon illustreer effektief aan die hand van sketse en grafieke die neuro-netwerk van drome en verduidelik dat beide inhiberende en opwekkende neurone aktief is om die aangename of onaangename van die “droomverrassing” te verwerk. ‘n Droom is ‘n bewuswording van aspirasies en emosies deur simbole en beeldtaal, binne ruimte en plek. Deon verwys na voorbeelde van drome, onder andere een wat hy self gehad het waarin die beeld van ‘n blokkie snoekerkryt saam met ander beelde sterk en herhalend na vore gekom het. Hy het ‘n interessante verband kon lê tussen die herhalende simboliek van die snoekerkryt en ander ‒ van kleef, en laat gaan, begronding en vrylating, vashou en los, telkens beide vervat in dieselfde beeld ‒ en daaruit ‘n bevestigende boodskap vir sy spesifieke dilemma kon kry.

Deon behandel ten slotte ‘n stel nugtere vrae as praktiese hulpmiddel om die prosessering van drome te vergemaklik. Die vrae gaan oor (i) die “verhaal” van die droom (plek/omgewing, karakters/objekte/simbole en storielyn), (ii) die gedagtes en gevoelens (sensasies/aspirasies/waardes/geloofsisteme), (iii) die konteks of verband met die huidige lewensomstandighede ‒ of kortweg: TITEL, TEMA, EMOSIE/ASPIRASIE. Dan sluit hy af met verskillende opsies waarom die waarnemings te intepreteer waarvan een die treffende DROOM AS HOLOGRAM -manier is: “Elke aspek van die droom bevat die totale dilemma van die dromer se huidige lewe en weerspieël ‘n polariteit van teenoorgesteldes wat balans wil vind.”