Midrand lesing: 15 Januarie 2017
Vandag is ons baie bewus van wat ons eet. Ons is bedag op dinge soos ’n gebalanseerde dieet en ’n hele industrie het ontwikkel met dieet middels, aanvullers en instruksies oor wat goed is vir jou en wat nie. Inisiatiewe om organiese kos te eet, of die Banting debat meer onlangs dui daarop dat ons ons kos baie ernstig opneem. Ons tel die kalorië, vette, vitamines en ander bestanddele in ons kosse. Ons kry vandag ons kos vars en skoon op die rakke van die kruidenierswinkel. Daar kan ons kies tussen verskeie soorte brode, talle kaas soorte, groentes, vrugte, vleis en stysel. Ons kan selfs met die motor ry en deur die “drive through” kitskos plek se venster klaar voorbereide kos bestel. Min dinge in Suid-Afrika klop ’n lekker vleisbraai, met ’n knoffelbrood, slaaie, groente, pap en sous; en geliefdes om die tafel.

Kos is ook in die mens se godsdiens ingeweef. Rituele offers in die ou testament en ander godsdienste het graan, vrugte of ’n lewende dier vereis. Die geur en rook wat opgaan was verstaan dat die godheid hierdie offer aanvaar. Agterna is die offer deur die priesters geëet.

Die tafelgebed as onderig

Verskeie Duitse gravures van die sestiendeSemmilink 1 eeu, soos ’n Gravure van George Pencz (1534) 1 plaas die klem op onderrig van kinders aan tafel. Regs in Pencz se gravure staan ’n seuntjie met sy gevoude hande, en die bygaande gedig van Hans Sachs wat bedoel was om kinders tafelmaniere te
leer, sê onder andere: “Moenie begin eet voor die seën gevra is nie”.

In Protestantse christelike kringe het die tafelgebed by ete gedien as plek waar kinders in die godsdiens onderrig was. Weens die Protestantse geloof dat die kind “van nature verdorwe” is, was baie tyd aan kinders se religieuse opvoeding gespandeer 2. Deel van hierdie opvoeding was om kinders te leer bid. Hulle was geleer watter woorde om te gebruik, en ’n liggaamshouding met die hande teen mekaar gevou. Naas die bybel en kategismus is geestelike werke ook versprei waarin die gesin se
gedrag gekodifiseer was. Erasmus en Otto Brunfels se kinderboeke vir goeie maniere het Sachsse voorskrifte verder in die Nederlandse, Engelse en Franse kulture ingedra 3.

’n Skildery van Abraham Bosse (1635) dra ondertone van die Laaste Avondmaal, en wys die gesin in ’n Protestantse vertrek getroop van ornamente, behalwe in die middel, die ere plek, ’n afbelding van Eksodus 20: “Jy mag geen ander gode hê nie”. Nie minder prominent nie, is die pa, as hoof van die huis. Hy doen meer as bloot ’n tafelgebed. In die Franse teks onder die skildery 4 roep die pa sy kinders en sy vrou op in die godsdienstige instruksie. As mens mooikyk, is die ma na die dogters gedraai – sy rig hulle af.

Semmilink 2

Die gebruik is met Van Riebeeck se koms in die Kaapgevestig en tafelgebed en boekevat na ete was in die Kasteel behou. Met die Vryburgers is die gebruik verder inons Afrikaanse kultuur ingedra 5. Die Nederlandse Piëtisme en Engelse Puriteine het tot ’n “tweede Reformasie”gelei waar die gesin as “mini kerkie” toegespits was om kinders te onderrig om die stabiliteit en moraliteit van die samelewing te handhaaf.

In nog ’n skildery van Jan Steen “GraceSemmilink 3 before meat” (1665) 6 staan die seun met sy hoed af. Anders as by ons bid hulle met oop oë. Die kinders se vroom gebare wys hulle is goed opgevoed, en
dit word gekontrasteer met ’n hond onder in die skildery wat uit ’n skottel lek. Dit verwys waarskynlik na ’n verhaal van Plutarchus wat in die tyd in Europa bekend was; waarin die Spartaanse
wetgewer Lycurgus twee honde grootgemaak het. Die een het hy geleer jag, en die ander om te aas en lui te wees. Op ’n dag het hy die twee honde
bymekaar gesit met ’n bak vol kos en ’n haas. Die opgeleide hond het die haas gejaag en die lui hond het vir die bak kos gegaan. Lycurgus het verduidelikdat, alhoewel beide uit dieselfde werpsel kom, het gewoonte hulle gedrag beïnvloed. Plutarchus se gelykenis wou dus aantoon dat gewoonte, opleiding dus, die mag het om karakter te vorm, ongeag ingebore trekke. Baie Piëtiste het Plutarchus aangehaal om oor die belangrikheid van kinders se opvoeding te argumenteer. Die hond in die skildery is trouens ’n Duitse jaghond, en die plasing in antitese met die goed afgerigte kinders maak die hond ’n metafoor vir swak opvoeding7.

Die dinamika van gesinslewe vandag plaas hierdie Westerse piëteit onder druk, ook in toegewyde christelike gesinne. Etenstyd by die eetkamer tafel is vir baie gesinne onbereikbaar. Die besige skedules van gesinne met buitemuurse aktiwiteite laat min tyd vir ’n gemeenskaplike gesins ete. Soms eet die kinders sommer voor die TV terwyl die ouers nog ander take verrig en later eet. Selfs as die gesin saam eet, wil kinders soms vroeg loop om te
gaan bad of regmaak om te gaan slaap.

As Christelike waardes in ander opsigte verskuif, bly die tafelgebed saam met die doop en christelike huwelik behoue as teken van christenskap. ’n Opname9 by Nederlandse Rooms-
Katolieke wys slegs ses persent het die bybel gelees, 77% besoek ’n geestelike, en 87% gaan gereeld kerk toe. Meer as 90% is in die kerk getroud, geskool, het hulle kinders laat doop, en doen die tafelgebed, alhoewel slegs 78% by ander geleenthede bid.

Die patroon van vrees en bygeloof met ete

Die mens se godsdiens is soms gebaseer op angs en vrees. Vandag se tafelgebed waar die huis hoof “seën vra” omvat so tikkie vrees-bygeloof. Selfs in Julie 2016 het ek gehoor volwassenes dra aan kinders die ou bygeloof oor dat jou maag gaan brand as jy nie voor ete gebid het nie. Die patroon hier is ’n godsdiens wat op vrees gebaseer is, en die godheid moet gepaai en gesmeek word om onheil van jou lyf af weg te hou. Mens sou dalk verskeie staaltjies10 kan ophaal van ons voorouers se onhigiëniese lewensstyle, en hoe kos nie altyd vars kon gewees het sonder yskaste, inmaak tegnieke en so meer nie. Dit is nie onwaarskynlik nie, dat pes, siekte, of ’n omgekrapte maag, wat selfs in moderne skoon huise nog voorkom, die geslagte voor ons nog meer geteister het. Dit is begryplik dat ons
voorouers die nodigheid gevoel het om “seën te vra”. Maar deesdae is ons ingelig oor kieme, higiëne, en die oordraagbaarheid van siekte. As oupa aan die hoof van die tafel dan bid “Here, seën die kos aan ons liggame”, word dit met groot piëteit bedoel, maar die letterlike woorde is eintlik beledigend teenoor die sjef of moeder se kombuis higiëne. My eie gebrek aan kookkuns kan seën vra dalk raadsaam maak. Ons wetenskaplike ingesteldheid behoort te rebeleer teen die gedagte dat ’n enkele gebed die magiese krag het om “ongeseënde kos”, wat kwansuis nou skadelik sou wees, eensklaps in kos te verander wat vir jou liggaam geskik sou wees; so asof die godheid ex-cathedra, buite die natuur om, sou ingryp om die kos se chemiese samestelling eensklaps te verander.

Erkenning van afhanklikheid

Behalwe vrees, staan die gelowige ook afhanklik teenoor ’n Voorsienigheid wat na die mees basiese behoeftes soos kos omsien. In Afrikaans erken een tafelgebed die godheid as “gewer van alle goeie gawes”. Veral ouer landelike gemeenskappe wat direk van hulle eie oes af geleef het en deur droogte, misoeste, en ander rampe geraak was, het geleef in nederige erkenning dat die mens in afhanklikheid leef en nie oor alles in die lewe kan besluit nie. In beide die Joodse en Christelike tradisies word erkenning gegee dat ons gesondheid, ons sukses, nie volledig ons eie toedoen is nie. Joodse geleerdes mag dalk verwys na Deut 8:10, “You will eat and you will be satisfied, and bless HaShem, your God”. Dit gee erkenning aan ’n mag buite onsself, wat die aarde geskep het, waarin die gelowige haarself kan onderhou met middelle om te voed en te beskerm. Een Joodse tafelgebed wat ek kon opspoor, klink so: “Baruch atta Adonai, Elohenu melech ha-olam, hamotzi lechem min ha-aretz”. Geseënd is U, Adonai ons God, koning van die wêreld, wat brood uit die aarde voortbring. Die Moslem gebed Bismillahi wa ‘ala baraka-tillah (met Allah se naam en op die seëninge wat Allah gee, [eet ons]). So ook die tafelgebed in Gesang 568:2:

Heer, seën tog vandag se brood
En laat ons ander help in nood,
Laat ons bereid wees om te deel
Want U gee altyd weer soveel.

Die gebed is ’n erkenning van afhanklikheid.
Dankbaarheid
Die dankgebed by die maaltyd is ’n Christelike gebruik wat sy oorsprong het in die verhale van die bybelse evangelies waar Jesus die brood neem, dank en dan uitdeel om te eet. Die Oos-Ortodokse Bishop Platon van Kostroma verwoord dit so: “Met aandete, dink jouself in die prentjie van die hemelse Vader wat sy hand oopmaak om jou te voed, vergeet nooit die gebed voor ete nie, en los van die kos vir die armes. Na ete, beskou jouself as een van die vyf duisend wat wonderlik deur Jesus gevoed is, dank hom in jou hart en bid dat hy nie jou sonder
hemelse voedsel sal los nie, sy woord en sy mees kosbare liggaam en bloed”11.

Oormaat

Baie Christene neem die besef dat ander nie so bevoorreg is nie, ernstig op en werk hard om kos aan armes te voorsien. Dit is soms ook die gebruik om die tafelgebed af te sluit met: “wees ook met die wat minder het as ons”.
Vir baie is die gebed net ’n vlugtige, skuldige gedagte voor daar weggeval word aan die oorlaaide tafel met lekkernye. In die Victoriaanse tyd het Britse adellikes hulleself behoorlik te buite gegaan om die tafel. Die Duke of Wellington het blykbaar vir ontbyt twee duiwe, drie biefstukke, driekwart bottel Mozzelle, ’n glas sjampanje, twee glase port en ’n glas brandewyn verorber – dit op ’n dag wat sy eetlus weens ongesteldheid gedemp was12. Reverend Sydney Smith (1771-1845) het die gees van sy tyd gesnap en die dankgebed voor ete gekritiseer. Hy
reken as mens aan die adellikes se tafel sit, met die soppe en disse se geur stomend in jou neusgate, en die gaste se lippe klam van lus en keuse, is die seremonie onvanpas. “With the ravenous orgasm upon you, it seems impertinent to interpose a religious sentiment. It is a confusion of purpose to mutter out praises from a mouth that waters” 13. Hy reken die dankgebed het sy mooiheid aan die arm man se tafel, of ons jagter voorouers “when a belly-full was a windfall, and looked like a special providence.” Hy reken dit is ’n leë daad by die ryke, in wie se begrip die konsep om ’n ete kort te kom, nie bestaan nie. Hy vervolg dan: “I hear somebody exclaim,–Would you have Christians sit down at table, like hogs to their troughs, without remembering the Giver?–no—I would have them sit down as Christians, remembering the Giver, and less like hogs.”

Versoeking
Smith se Victoriaanse bitsigheid weerspieël iets van ’n ander ou Christelike denkpatroon, naamlik dat kos ’n sondige versoeking kan wees. Die ou kerkvaders van die Oos Ortodokse kerk het baie ernstig gewaak teen gulsigheid (gluttony). Dit is een van hulle agt prinsipiële sondes14, en een van die sewe dood sondes in die Rooms katolieke tradisie15. Die Katoliek Thomas Aquinas 16 het blykbaar die sondes geklassifiseer in die onderskeid: “Hastily, sumptuously, too much, greedily, daintily”:
Hastily – om kos vinnig en haastig in te stop;
Sumptuously – om kos te eet wat te weelderig, duur, of eksoties is;
Too much – om in oormaat te eet;
Greedily – om te gou of op die verkeerde tyd te eet;
Daintily – om kos te eet wat met allerei tierlantyntjies oordadiglik versier is.
Spreuke 23:2 word soms as “bewysplek” gebruik – volgens die King James vertaling moet jy ’n mes teen jou keel hou as die lus vir kos te groot word; of jouself bloot bedwing as jy die Afrikaanse 1983 vertaling lees.
Gebed in hierdie konteks is nie soseer ’n tafelgebed nie, as ’n pynlike bewustheid van menslike vatbaarheid vir begeerte en versoeking. Die ou vaders het vraatsigheid as die wortel van sonde beskou17 , naamlik dat Adam se lus vir die verbode vrug in die tuin die mens in skande gedompel het. Uiteraard kan ons vandag beswaar maak dat die verhaal eerder van Adam ongehoorsaamheid vertel. Die Oosterse kerkvaders het egter gereken: “For one does not fall into the power of the demon of unchastity, unless one has first fallen because of gluttony; nor is one’s anger aroused unless one is fighting for food or material possessions or the esteem of men18” Die kern van hulle argument was dus dat die selfdissipline om teen lus vir kos te stry, ’n skoling is in die dissipline om teen ander verleidings ook te stry. Vandag nog gebruik mense St Johannes Chrysostomos se riglyn om net genoeg te eet om jou honger te stil.
Vas
Om net kortliks verder af te wyk van die tafelgebed, was die vas gebruik gereken as ’n skoling of oefening om weerstand te bied teen begeerte en versoeking. Die vas-gebruik by christene (en ander godsdienste ook) het ten doel om ’n spirituele ervaring deur die hongerte te kry. Dit was as ’n deug gereken om uit te hou teen die honger – jy leer jou wilskrag staal teen die versoeking om kompulsief te eet – geestelike weerbaarheid. As jy teen die versoeking na kos kon uithou, het hulle gereken, kon jy dieselfde oefeninge van wilskrag en weerstand-bied
inspan teen ander versoekings soos wellus. Cassianus skryf in die Philokalia dat ’n dag se vas genoeg is, anders, as ’n gelowige na drie, vier, of sewe dae se vas, uitgeput en met verslapte geestelike waaksaamheid kos sien, kan dit weer tot oormaat lei. Hy sê ook: “To eat moderately and reasonably is to keep the body in health, not to deprive it of holiness”. Daarom moes die gelowige ophou eet terwyl hy nog honger is19.
Die honger tydens so vas periode moes ook ’n monnik of non herinner aan sy of haar hunkering vir die geestelike dinge. Later as kos weer ingeneem word, is dit ook ’n metafoor vir geestelike vervulling. Op die wyse was die vas gebruik en die ete ’n liggaamlik beleefde metafoor vir die geestelike lewe. Ete was nie alleen die inname van voedsel nie, maar ’n metaforiese godsdienstige herinneringsdaad. Die lewe word ’n sakrament – een outeur
verwys na die filosoof Heidegger wat onderskei tussen denken, danken, Andenken (herinnering/remembrance) en gedenken (herinnering/recollection)20.
Viering van die lewe
Die ete is ook ’n sosiale gebeurtenis – ons eet saam met ander. Daarom sluit baie christelike tafelgebede verwysings in na die konteks of okkasie wat met die ete saamgaan: Ouma wat nou tagtig word en wie se verjaardag met hierdie ete gevier word; of vriende van ver met wie nou saam geëet word. So word die tafelgebed ’n viering van die hede, en ’n erkenning van die wyses waarop ons op mekaar aangewese is vir die lewe21.
Die mens het oor sy bestaan aan die fees tafel sy oorwinnings, huwelike, gemeenskap, familie, en vriende gevier. Dit erken die lewe as ’n gawe, wat ons ook met mekaar deel. Soms het dit met oordaad gepaard gegaan soos die drank benewelde orgies van die ou Griekse Bacchus dienste; of die adellikes aan die koninklike tafel. Maar die lewe is gevier. ’n Film22, Babette’s feast, skets die toneel van ’n vreugdelose godsdienstige gemeenskappie
wat getransformeer word as hulle saam eet. Babette, ’n Franse diensmeisie, wen die lotery en gebruik die geld om voorraad te koop. Blote geluk het Babette die gawe gegee, en so is die ete ook ’n geskenk sonder enige meriete. Sy verwag nie eens waardering op haar daad nie. Die gaste is ingestel daarop om dit ook nie te waardeer nie. Hulle spreek onder mekaar af – “nie ’n woord oor die kos nie”. Soos hulle begin eet, word die mense egter getransformeer. Hulle kan nie help om die lekkerte te geniet nie, die luuksheid, die oordadigheid. Hulle ooreet, hulle lag, hulle geniet die lewe in hulle eie lewens en die lewe in mekaar. As die tafelhoof opstaan om ’n toespraak te lewer, is dit die ware “dankgebed”: “Daar kom ’n dag wanneer jou oë oopgaan, en ons het begin besef dat genade oneindig is. Ons moet dit net met selfvertroue afwag, en dit met dankbaarheid aanvaar. Genade bring geen voorwaarde nie. En kyk – alles wat ons gekies het, is aan ons gegee, en dit wat ons verwerp het, is ook aan ons gegee. Ja, ons kry selfs terug wat ons verwerp het. ”

“When we offer a blessing upon our food, we do not merely pronounce a few pious words, but rather commit ourselves to the nurture, protection, and celebration of the gifts of creation… Saying grace, if it is to be authentic and not simply ornamental, is something we work out and practice in the diverse dimensions of our days. Saying
grace has the potential to redefine us, to refocus our desires and redirect our practices, because it turns our attention and our minds to a world appreciated as gift and blessing.”23
’n Sekulêre patroon
Kos en die gebruik daarvan het sekulêr geraak. Die goddelike hand word nie meer algemeen erken in die produksie ketting van die landery na die kruidenierswinkel se rak nie. Die kru humor van die strokies karakter Homer Simpson, vat ons tydgees saam as hy by geleendheid ’n tafelgebed doen, en iets kwytraak in die lyn daarvan dat ons self vir ons kos betaal het, so dankie vir niks. Ons huidige kultuur is nie ingestel op gebed voor ete nie, en selfs Christene voel soms ongemaklik om in die restaurant of elders in die openbaar voor ete te dank. Uit skuldgevoel sal sommige gou die hoof buig in stilgebed en eers dan eet. Die van ons wat van die Christendom
weggedryf het, sien onsself as geëmansipeer, in beheer van ons eie lewens, en ons reken dit is ’n gebruik uit ’n vergange era om met die plafon te praat voor ons begin eet. Ons sien onsself nie meer as skepsels van ’n Skepper wat deur hom onderhou word nie. Baie van ons kos is verpak met handelsmerke en logos. Daar is min verwysing op ’n kartondosie langlewe melk na die plaas en koeie waar hierdie melk vandaan kom. Ons het die
konneksie met die landbou en die landery verloor24. Selfs in baie Christen gemeenskappe het die tafelgebed ’n formule geword – ’n tradisie wat maar voortgesit word, as Ma vir Pa aanjaag: “toe, dank gou, die kos word koud” en Pa prewel: “Seën Vader die spyse wat vir ons voorgesit is, en die hande wat dit voorberei het, Amen”, sonder dat iemand regtig dink oor die inhoud van die gebed. Dit is net ’n ritueel wat moet plaasvind voor iemand kan eet.
Talle forum gesprekke of artikels25 oor tafel gebed behandel die Amerikaanse Thanksgiving Dinner, en stuur dan af op ’n mini dillemma. By die geleentheid, net soos Kersfees in Suid- Afrika, of by die Afrikaanse familie ete, is dit ’n bly dag waarop ou familie bande opgetel word, waar die vrolikheid en dankbaarheid van ’n groot dag heers; en dan sal iemand aangewys word om die tafelgebed te doen. Die forum gesprekke bring dan ’n dillemma na vore:
die persoon wil nie bid nie, “because, I’m not religious”. Oupa as familie patriarg wys jou aan as die bidder, en jy wil nie hom of jou eie gewete teleurstel nie. 23

Weiering
Die eerste gedagte is om ’n versoek wat teen jou gewete indruis, te weier, maar sensitiewe mense wil nie die feestelike atmosfeer met godsdiens twiste bederf of familie met jou sienings skok nie. As jou familie jou oortuigings ken, sal hulle jou ook nie vra om te bid nie. Maar sommige ateïste antwoord op sulke forums en artikels dat hulle nie hul vere op pof as die ritueel plaasvind nie. Hulle sit net met oop oë as die ander hulle oë sluit. Die ou wat hom uitvang, se oë is ook oop, en dalk ’n bondgenoot as gesprekke later sensitief kan raak. Soms het nie-gelowiges waardering vir die behoefte om met tradisies gewig te verleen aan die oomblik. As Ouma tagtig word, het die geleentheid ’n grootsheid wat vra vir meer as net: “Bon Appetit!”. Sommiges op forums verklaar dat hulle self ’n daaglikse ritueel by die huis uitvoer om met ete enkele dank-woorde te sê, al is dit sonder enige verwysing na die goddelike. Nog ’n gebruik wat voorkom is dat gesinslede die daaglikse dankie sê gebed
vervang het met ’n ritueeltjie waar elke lid in die gesin een ding noem wat hom of haar die dag dankbaar gemaak het – klein goedjies soos dankbaarheid teenoor die ma vir die kos se voorbereiding, of een kind wat dankbaar is dat die ander een met huiswerk gehelp het; of “dankie dis Vrydag!” Een tema wat ontbreek in die sekulêre danksegging is verwysings na of erkenning van die goddelike. Hieroor sal Christen en nie-christen uiteraard verskil, maar mens kan ’n sekulêre danksegging sensitief genoeg bewoord dat dit nie aanstoot gee as dit gebruik word waar mense van verskeie oortuigings dit aanhoor nie. Dit kan ’n roerende paar woorde wees wat gepas nadink oor die geleentheid. Die dankseggings wat ek hier onder aanhaal dra verbasend baie van die temas wat hierbo in die Christelike gebede voorgekom het. Die natuur word genoem; dank aan diegene wat alles voorberei het; ’n gedagte aan minder bevoorregtes; die kosbaarheid dat familie, vriende en geliefdes by die geleentheid saam kan wees. Soos die christelike gebed, is ’n paar woorde diep uit die hart, en kort genoeg dat die kos nie
koud word nie, gepas en voldoende om waardering vir die voorbereiding en vir die geselskap uit te druk. ’n Christen mag dalk een van die dankbetuigings hieronder opvolg met “In Jesus naam, Amen”, maar uit ervaring vind ek dit word aanvaar soos dit aangebied is.
Danksegging vir ’n formele geleentheid

Ek gee enkele sekulêre dankbetuigings vir ete, uit webwerwe en blogs26; wat ek in Afrikaans vertaal het. Die eerste is vir Thanksgiving bedoel, maar dit is ook geskik om by formele dinees voor ’n mikrofoon af te lees. Ek het hierdie danksegging met my eie vyftigste verjaardag voorgelees.

Vir dit wat ons nou gaan ontvang
laat ons werklik dankbaar wees
…teenoor die wat die saad gesaai het
…teenoor die wat die lande bewerk het
…teenoor die wat die oes ingesamel het

Vir dit wat ons nou gaan ontvang
laat ons werklik dankbaar wees
teenoor die wat dit voorberei het en die wat dit opgedien het.
In hierdie feestelikheid laat ons ook onthou
die wat geen fees het nie
die wat nie hierdie oorvloed kan deel nie
die wie se lewens meer as ons eie ontwrig is
deur oorlog, verdrukking en uitbuiting,
die wat honger, siek en koud is.
In ons deelname aan hierdie maaltyd
laat ons werklik dankbaar wees
vir die goeie dinge wat ons het
vir die warm gasvryheid
en vir hierdie goeie geselskap.

Die volgende is volgens die blad wat ek vertaal het, deur George Rodger, Skotland, by ’n troue se onthaal uitgespreek:

Laat ons goeie kos en goeie drank geniet,
En laat ons dank almal wie se se harde werk hier voor ons staan;
Laat ons goeie geselskap geniet,
En laat ons goeie geselskap wees vir mekaar;
Laat ons onsself geniet, sonder skuldgevoel,
Maat laat ons nie vergeet die wat minder bevoorreg is nie.

Hier is ’n vertaling waarvan die Engels aan Nicholas Walter toegeskryf is, ook uit dieselfde webwerf.

Laat ons drie maal dink terwyl ons vir die maaltyd saamkom.
Eerstens, laat ons dink aan die mense wat vandag saam met ons is, en die
meeste maak van die plesier om kos en drank saam te deel.
Dan, laat ons dink aan die mense wat die kos en drank gemaak het, dit vir ons
voorgesit het, wat op ons wag en gaan opruim en skoonmaak na ons.
Laastens, laat ons dink aan al die mense oor die wêreld, saam met ons lede van
die menslike familie, wat vandag nie ’n maaltyd sal hê nie.

Dankseggings vir informele etes of by die huis
’n Kort stuk vir geleenthede waar eenvoudige woorde meer gepas is:

Ons is dankbaar vir die kos op hierdie tafel.
Ons is dankbaar vir hierdie tyd saam met mekaar.
Ons gedagtes gaan uit na familie en vriende;
Ons hoop hulle is veilig en gesond.

Hier is my vertaling van iets wat die Unitariese gemeenskap blykbaar soms gebruik:

Vir kos en vriende en familie
En al die goeie dinge wat ons sien,Mag ons altyd dankbaar wees.

Nog ’n eenvoudige dankbetuiging, wat blykbaar ook deur Unitariërs gebruik word:

Vir die maaltyd wat ons nou gaan eet,
vir die wat dit moontlik gemaak het,
en vir die met wie ons dit nou gaan deel,
is ons dankbaar.

’n Buddhistiese maaltyd gatha wat pragtig gepas is:

Ons ontvang die kos in dankbaarheid tot almal
Wat gehelp het om dit tot ons tafel te bring,
En belowe om op ons beurt te reageer op die in nood
Met wysheid en meegevoel.

Uit die boek Kom ons bid27 kom die danksegging van Gerhard Bothma. Ek sou dalk eerder die
meervoud (“ons”) in plaas van “ek” verkies:

Vir wat ek het om te eet en om te drink, is ek dankbaar.
Oor hierdie maaltyd en my tafelgenote is ek bly.
Ek wil my verheug in dit wat ek ontvang het.
Oor hulle saam met wie ek dit geniet, is ek bly.
Ek waardeer dit wat ek ontvang het om te eet en te drink.
Dis met dankbaarheid wat ek dit neem, eet en drink.

N Wirzba28 reken die danksegging is iets wat ons behoort te transformeer. ’n Eienskap van die denke van ons tyd is ons outonomie. Maar ons bly steeds van ander anfhanklik. Ons leef nooit alleen of op ons eie terme nie. Ons leef deur ander, sê hy, afhanklik van hulle gawes en opofferings. Daar is eintlik nie so-iets soos totale outonomie nie. Daarom sê hy ons danksegging transformeer ons. Dit maak ons nederig bewus van ons brose afhanklikheid en van ons verantwoordelikheid. As ons dank sê, praktiseer ons mindfulness, die bewussyn en waardering
van ons gemeenskap. As ons lewe sien as die gawe, is dankbaarheid ’n versugting na ’n beter wêreld, waarin ons ons verantwoordelikheid uitleef om vir die aarde te sorg en sy bronne verantwoordelik te benut. When we say grace, we do not merely say a few words over our food. Rather, we are transformed so that our eating of life is also a sympathetic participation in the ways of life. Thanksgiving becomes the means through which we elevate and hold before each other the sanctity and grace of the world (N Wirzba 2009: 210). 27 (

Aangehaalde werke
Aquinas, T. (n.d.). Summa Theologica.
Bryson, B. (2010). At home. London: Black Swan.
Coetzee, A. (n.d.). Die wortels en kenmerke van die Afrikaanse lewensstyl. Retrieved 2016,
from http://www.koersjournal.org.za/index.php/koers/article/viewFile/1327/1433
Franits, W. (1986). The Family Saying Grace: A Theme in Dutch Art of the Seventeenth
Century. Simiolus: Netherlands Quarterly for the History of Art, 16(1), 36-49.
Retrieved 2016, from http://www.jstor.org/stable/3780613
Goldstein, C. (2014). Print Culture in Early Modern France: Abraham Bosse and the Purposes
of Print. Cambridge: Cambridge university Press. Retrieved 2016, from
books.google.co.za
Lamb, C., & M, L. (1832). The Works of Charles and Mary Lamb — Volume 2 / Elia and The
Last Essays of Elia. Project Gutenberg. Retrieved from
http://www.gutenberg.org/ebooks/10343
Muller, P. (Ed.). (2016). Kom ons bid. Gebede vir vandag. Monumentpark: Malan media.
Ochs, E., & Sohet, M. (2006). The cultural structuring of mealtime socialisation. New
directions for child and adolescent development(111). Retrieved from
http://s3.amazonaws.com/academia.edu.documents/11327496/06mealtime.pdf?A
WSAccessKeyId=AKIAJ56TQJRTWSMTNPEA&Expires=1469372641&Signature=xQv%2
ByZooviBtxv9scXJ%2FYyaJv3w%3D&response-contentdisposition=
inline%3B%20filename%3DThe_cultural_structuring_of_meal
Rigby, C. (2015). Why do we say grace over a meal. Retrieved from
http://religionblog.dallasnews.com/2012/11/texas-faith-why-do-we-say-grace-overa-
meal-including-at-thanksgiving.html/
Sengers, E. (2003). “Al zijn wij katholiek, wij zijn Nederlanders” opkomst en verval van de
katholieke kerk in Nederland sinds 1795 vanuit rational choice perspectief. Doktorale
proefskrif. Utrecht: Utrecht Katolieke Teologiese Universiteit. Retrieved 2016, from
http://dspace.library.uu.nl/bitstream/handle/1874/602/full.pdf?sequence=1
St Nikodemos, & St Makarios. (1782). Philokalia (versamleing tekste van die vierde en vyfde
eeu se ‘geestelike meesters’). Kopie van Internet afgelaai.
Wirzba, N. (2009). Saying Grace: Transforming people, transforming the world. JSRNC, 3(2),
195-212. Retrieved 2016, from
http://s3.amazonaws.com/academia.edu.documents/36518608/Wirzba_-
_Saying_Grace__Transformation.pdf?AWSAccessKeyId=AKIAJ56TQJRTWSMTNPEA&E
xpires=1469372911&Signature=by5MDtYlQoo3e1alB1ygrfyGV%2Bw%3D&responsecontent-
disposition=inline%3B%20filename%3DSaying_
Webwerwe besoek (2015):
http://secularseasons.org/celebrations/graces.html
http://www.faithstreet.com/onfaith/2014/11/19/7-tips-for-atheists-at-thanksgivingdinner/
35105
http://secularseasons.org/celebrations/graces.html,
http://parents.berkeley.edu/recommend/religion/ grace.html

1 (Franits, 1986), 36
2 (Franits, 1986), 43
3 (Franits, 1986), 37
4 (Goldstein, 2014), p.89: “Chers Enfans ayez soing de bien vous conformer / Au saint vouloir de Dieu enbannisant le vice / Et de ses mandementz tousiours vous informer [Take care to conform / To God’s holy will by banishing vice / And by his commands be informed]”
5 (Coetzee, n.d.)

6 (Franits, 1986), 45
7 (Franits, 1986), 47
8 (Ochs & Sohet, 2006)
9 (Sengers, 2003) 8 Die proefskrif haal ’n bron van 1987 aan, en die tabel se opskrif dui op 1960 in hakies. Dit is dus ’n baie ou bron, en dui nie noodwendig op praktyke vandag nie. Mens kan moontlik verdere sekularisering verwag.

10 (Bryson, 2010) 106-133 gee enkele anekdotes uit vorige eeue in Engelland.

11 Aangehaal deur ’n Oosterse web blad http://www.antiochian.org/node/25372, met verwysing na Daily Prayers for Orthodox Christians (Norcross, Georgia: St. Mary’s of Egypt Orthodox Church, 1997), p. 103.
12 (Bryson, 2010), 128
13 (Lamb & M, 1832) “Grace before meat”

14 vgl Johannes Cassianus in die Philokalia (St Nikodemos & St Makarios, 1782)
15 https://en.wikipedia.org/wiki/Seven_deadly_sins
16 (Aquinas), [I-II, Q. 72, Art. 9].
17 Vgl die Philokalia, vgl ook Francine Prose se “Gluttony: the seven deadly sins”.
18 Philokalia [VI] 38. Sien ook Philokalia, [VI] 226, “the vice of gluttony can lead to that of unchastity”, [V4]281: “To eat again after reaching the point of satiety is to open the door of gluttony, through which unchastity comes in.”

19 Philokalia [VI] 73
20 (Wirzba, 2009) 196: “Eating is not simply a physical act. It is also a spiritual practice whereby the deep and sacramental significance of life is daily learned”. Die deel oor Heidegger is op p.204.
21 (Wirzba, 2009), 205
22 Soos vertel deur (Rigby, 2015)

23 (Wirzba, 2009), 196, 199
24 (Wirzba, 2009): 198
25 Sien bronnelys, onder webwerwe 2015.

26 Sien webwerwe 2015 in bronnelys

27 (Muller, 2016)
28 (Wirzba, 2009) 208-209