1. INLEIDING

Ons almal ken seker Job se storie en het dit al baie gehoor. Sakkie Spangenberg sê die hele boek kan opgesom word in Job 1 en 2, en die laaste 6 verse. Hier is ‘n kort oorsig:

  • ‘n Vroom en opregte man voer ‘n ooglopend goeie lewe en het talle besittings.
  • Hy verloor alles (besittings, kinders ens.) a.g.v. ‘n ooreenkoms tussen Satan en Yahweh, en sy lyding verdiep in grade van intensiteit, selfs met bose swere aan sy lyf.
  • Sy vriende kom by hom en hulle voer elle-lange debatte oor sonde, boosheid, straf en die teologie van retribusie (God is verantwoordelik vir vergoeding en vergelding).
  • Job debatteer ook met Yahweh en ‘n klimaks word bereik wanneer Yahweh Job in twee toesprake antwoord wat bykans 60 vrae bevat.
  • Job sien iets wat hy nie voorheen van bewus was nie. Hy bekom insig en word nederig in oorgawe.
  • Sy lewe word herstel.

Uit hierdie storie hoor ons die gewone ou lesse van Job se geduld en getrouheid aan God ten spyte van sy lyding, asook sy nederigheid en oorgawe. Dit is vir my bietjie van ‘n afgesaagde perspektief.

Ek wil die storie vandag ietwat anders belig, wat dit ook meer relevant maak vir elkeen van ons se lewe vandag:

  • ‘n Persoon met ‘n eensydige lewensstyl wat vroom en opreg voorkom, maar met ‘n ongeïntegreerde skadukant.
  • Hy word gekonfronteer met sy teenoorgestelde skadukant en gaan deur die “donker nag van die siel” waar sy lyding in grade van intensiteit verdiep.
  • Hy voer ‘n aktiewe oor en weer debat met sy eie ou geloofsisteme en verouderde teologie (verteenwoordig deur sy vriende se teologie van retribusie), en ‘n anderse en nuwe bewustheid of sienswyse ontwikkel geleidelik by hom.
  • Deur sy rebellie teen sy God en uitdaging aan Yahweh, ontvang hy twee toesprake vanaf Yahweh wat bykans 60 vrae bevat. Dit gaan hoofsaaklik oor die selfonderhoudende en outonome aard van die skepping wat onafhanklik van die mens se bewuste wilskrag funksioneer, en niks met retribusie of geregtigheid te make het nie.
  • Hy kom tot heeltemal nuwe insigte oor ‘n sogenaamde Almagtige wat sigself nie met menslike moraliteit of etiese reels bemoei nie, maar wat eintlik amoreel is – niks te doen het met vergoeding en vergelding nie.
  • Job vind ‘n nuwe integrasie of heelheid in homself, beïndig sy routydperk/donker nag, hervat weer en herstel sy lewe.

Daar is baie min inligting oor die boek se agtergrond, outeurs en konteks. Meeste bybelwetenskaplikes dateer die samestelling tussen die 7e en 2e eeue V.H.E. Daar is ook aanduidings dat die boek ook nie alles op een slag geskryf is nie, maar historiese konstruksie en paneelkloppery ondergaan het. Daar was ook talle volksverhale in die naby-Oosterse en nie-bybelse literatuur van vroom hemelsgesinde mense wat ly en herstel voordat Job geskryf is:

David Clines (Prof. in Bybelstudies – Universiteit van Sheffield) meen egter dat die boek van Job tog onafhanklikheid besit en ‘n nuutheid/andersheid bring, alhoewel die sake wat dit belig nie uniek aan Israel was nie.1 Ek dink die sake wat dit belig universeel aan ons almal is en net so relevant vandag as altyd. Dit is een van daardie tydlose argetipiese stories of mites.

  1. AS ’N MITIESE VERHAAL

Die heel eerste sin van die boek gee dit ‘n mitiese of feeverhaal karakter: “Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job.” Geen tyd of feitelikheid nie, ietwat poëtiese en liriese taal. Ook nie ‘n spesifieke of identifiseerbare plek nie, alhoewel daar enkele verwysings in Genesis is na ‘n man met die naam Us, en in Jeremia en Klaagliedere ‘n plek Us. Maar die feitelike vaagheid plaas die storie meer op ‘n oer/argetipiese mitiese vlak, waar die verskillende karakters verskillende dele van die persoonlikheid of dieper psigiese samestelling kan uitmaak – Jung se “kollektiewe onbewuste” wat gemeenskaplik aan alle mense is. Deur mites en feeverhale kry ons toegang tot ryk material van die mens se dieper psige, menslike ontwikkeling, volwassewording en wat Jung “indiwiduasie” genoem het.

Een Jungiaanse manier om na mites of feeverhale te kyk is om weg te beweeg van die narratiewe opeenvolging van gebeure, maar om eerder die karakters en gebeure in een totale beeld te plaas, en jouself te verbeel dat alles op dieselfde tyd plaasvind – ‘n interaktiewe dinamiek van verskillende komponente in ‘n afhaklike verhouding met mekaar, en alles gebeur op een slag en bestaan gelyktydig.

Baie keer word die kernsaak van ‘n storie ook in die heel eerste paragraaf blootgelê. Ons kan baie vinnig herken wat ontbreek in die aanvanklike opset van die verhaal en wat verlos, opgemaak of voor gekompenseer moet word.

EERSTE PARAGRAAF(Eensydig) Wat Ontbreek?(Presiese Teenoorgestelde)
·         Vroom·         Opreg

·         Godvresend (konformerend)

·         Afgewyk van die kwaad

·         Ryk aan besittings

·         Die grootste (Eng. – greatest) van al die mense in die Ooste

 

·         Skuldig·         Sondig

·         Rebelleer teen God (opstand)

·         Die kwaad aangetrek

·         Arm aan besittings

·         Die nederigste van al die mense in die Ooste

 

Dit wat ontbreek moet nou in die verhaal na vore tree sodat eenheid of geheelheid herstel kan word. Dit is die universele struktuur van alle goeie stories.

In Job se geval, en vir enigiemand vandag, is oormatige vroomheid en godsgehoorsaamheid baie eng lewenswyses, en vir volle volwassenheid om te ontwikkel moet baie ander aspekte van die persoonlikheid geïntegreer word.

  1. JOB SE SKADUKANT

Job se ekstreme vroomheid en welvaart het ‘n skaduwee van die volgende elemente, en onthou dit was alreeds teenwoordig voor sy verliese en lyding, dus gelyktydig met sy oënskynlike vroomheid:

  • ’n Diktatoriale magspeler: In verse 29;7-10 wys sy outoritêre patriargale houding duidelik: “Toe ek uitgegaan het na die poort, op na die stad toe, op die markplein my sitplek reggemaak het, het die seuns weggekruip as hulle my sien, en grysaards het hulle opgerig en bly staan. Vorste het hulle woorde ingehou en die hand op hul mond gelê. Die stem van edeles is teruggehou, en hul tong het gekleef aan hul verhemelte.” (29:17) “En ek het die tande van die kwaaddoeners stukkend gebreek en die buit uit sy gebit geslinger.” Hy gaan voort 29;21-25: “Na my het hulle geluister vol verwagting, en hulle het stil my raad aangehoor. Na my woorde het hulle nie weer gespreek nie.” So hier sien ons nou die skadukant van ‘n vroom, opregte en godvresende man wat afgewyk het van die kwaad. Hy was ‘n eensydige patriarg en diktatoriale magspeler met swak luistervaardighede en wat vrees by ander ingeboesem het. Dit klink ook of hy trots was daarop. Hierdie tipe ego-inflasie word ook ontbloot in sommige verse waar hy beginsellose oordele en karakter-aanvalle op die jongmense en hul vaders doen: (30;1-8 – “En nou lag hulle wat jonger is as ek, my uit – mense wie se vaders ek te min geag het om by my herdershonde te sit…Tussen die bossies skreeu hulle, onder brandnekels kruip hulle bymekaar…dwase, ja, eerlose mense…en nou het ek hulle spotlied geword”).

Hierdie is ‘n ander kant van Job wat ons nie baie van hoor nie. Dit wat gelyketyd bestaan onder die masker van vroomheid en soete gehoorsaamheid. ‘n Magspeler wat aggressief en veroordelend is, nie baie emosionele intelligensie het nie, en soos enige patriarg of diktator, baie gevoelig vir vernedering of skande is.

  • Vrees: Job leef in vrees vir sonde, skuld en straf. Na elke samekoms/partytjie wat sy kinders hou moet hy as gewoonte offerhandes deon vir sy kinders se potensiële sondes en straf. Vrees bestaan agter die skerms by ‘n nougesette vroom person, en obsessief-kompulsiewe gedrag is ‘n poging om die vrees te hanteer.

Vrees vir verlies en swaarkry is ook baiekeer onderliggend aan iemand wat oorvloed het, of wat oorvloed skep om die vrees tee te werk. Job erken in 3:25 – “As ek iets vreesliks vrees, kom dit oor my; en die ding waarvoor ek bang is kom na my toe.” Vrees is ‘n emosie van verkrimping en vermyding, met die aandag op die self en instinktiewe selfbeskerming. Agter die masker van ‘n selfversekerde outokraat skuil vrees vir verlies en skande, met die resultaat dat die person al hoe meer selfgesentreerd en kompulsief raak.

  • Rebellie: Oormatige godsgehoorsaamheid en onderdanigheid aan God, bou ‘n teenoorgestelde skadu van rebellie op, en dit kom duidelik regdeur die boek na vore.
  1. SATAN

Oormatige vroomheid of piëteit het baie eng en streng grense, en dit is wat Satan dan uitdaag. Satan is per definisie die wederparty, die teenstrydige, die opponent wat die ankerkant bring. In Jungiaaanse terme is dit die “Trickster” argetipe in elkeen van ons wat altyd in eensydige situasies die teenoorgestelde na vore bring, ter wille van bewustheid, geheelheid en balans (bv. na Jesus se doping: Hy’s nou die goeie redder en altruïs met ‘n wit simboliese duif. Dan kom die versoeking wat basies oor donker magsbeheptheid en selfgesentreerdheid gaan – Jesus se eie interne wederparty/Trickster.) Tussen hakies, die oomblik wat jy ‘n spirituele ervaring het of gehad het, is jy mees vatbaar vir magsbeheptheid en ego-inflasie. Satan die Trickster bring lig (“Lucifer”) waar daar eensydigheid, ontkenning of onbewustheid heers. Satan se uitdaging bring Job se skadu van vrees en rebellie teen God na vore, wat Job se vriende diep skok. Hulle kan nie so ‘n rebellie teen, en uitdaging van, God verdra nie, en daarom intensifiseer hulle die deugde van vroomheid en die retribusie leerstellings van God wat vergoed en vergeld, wat Job se rebellie en agitasie verdiep en uiteindelik Yahweh noodsaak om sy stem te laat hoor oor die skepping en die Almagtige. Alles hang saam in een prentjie, in een dinamiek.

  1. YAHWEH, SHADDAI, ELOHIM

Yahweh word in die proloog, in die dialoog tussen Job en Yahweh, en in die epiloog aan die einde gebruik. Yahweh word dus in die verhoudings- of gespreks aspekte van God gebruik. Maar regdeur die poësie gedeelte van die dialoog tussen Job en sy vriende word die meer onpersoonlike aspek van die skepper gebruik. (Eloah en Shaddai). In die boek van Job word die term “Shaddai” (Almagtige) bykans 30 keer gebruik, en Eloah (kragtig/sterk/magtige een) oor die 40 kere. Eloah is the enkelvoud van Elohim – die God van Genesis 1 waaroor ons laaskeer gepraat het, en volgens wie se beeld en gelykenis die mensdom geskape is. Soos ek in die Genesis praatjie gesê het, verkies ek die frase “een lewe wat leef” in plaas van God. Of dit nou Elohim, Eloah of Shaddai is, hierdie lewe manifesteer in ‘n magdom van asemrowende verskeidenheid in die skepping en natuur, soos ons in Yahweh se toespraak aan Job sal sien. Dit leef ook in en deur ons, en is ‘n teenstelling, ‘n teenstrydigheid, omvattend van al die moontlikhede. En dit is hierdie teenstrydigheid, kontras of komplimentêre verskille waarvan ons ‘n beeld en gelykenis besit. Ons is draers van ‘n “heilige konflik”, soos Jung sê (CW 11 para 659). Hierdie lewe (“Godheid”) is nie ‘n Summum Bonum (opperste of allerhoogste goedheid) nie. Dit manifesteer in lig en donker, skeiding en eenheid, bevestiging en afwysing, groei en verganklikheid, skepping en vernietiging. En dit is wat Job ook begin sien.

Die term Shaddai kan ook in sy wortel-ontleding beteken om te versorg en te vernietig. Shaddai wond en genees, soos in Deuteronómium. 32:39 “Ek maak dood en ek maak lewend…verbrysel en genees”, en in Hoséa. 6:1 – “Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind.” (ook Jesaja 30:26).

Ons sal binnekort sien dat as Yahweh uiteindelik vir Job antwoord, uit die storm, dan is dit hierdie skepping en natuurlike lewe wat leef wat Yahweh oor liries raak, en wat ek en jy ‘n deel aan het, in die natuur daar buite, binne ons liggame en psigiese samestelling. Ons het deel daaraan, maar baie min invloed daarop of doelbebewuste wilsbeheer daaroor. Soos die Zen gesegde sê: “A flower falls, even though we love it; and a weed grows, even though we do not love it.”~Dogen. Die lewe leef en gaan aan, maak nie saak hoe ons daaroor voel nie.

  1. VROOMHEID EN RETRIBUSIE TEOLGIE.

‘n Ander kant van ons is ons vroomheid en wetsgehoorsaamheid. Job se vroomheid en welvaart word aan die teologie van vergoeding en vergelding gekoppel, die geloof dat die “Almagtige” goedheid beloon en sonde of slegtheid straf. Job deel hierdie geloof met sy vriende. Die verteller basseer die hele storie op hierdie dogma/leerstelling. In die heel eerste paar verse word dit uitgespel: Vroomheid en gehoorsaamheid aan God bring voorspoed. Dit impliseer dat lyding, swaarkry en verlies veroorsaak word deur sonde en goddeloosheid, en dat dit God se straf is. Job se vriende pas hierdie dogma op hulle teologie toe, dat God die een is wat voorspoed vir gehoorsaamheid en deugsaamheid bring, en straf vir afwykings hiervan uitdeel. God is die regter en beoordelaar. Hier is ‘n paar enkele voorbeelde:

ELIPHAS 4:6-9 – “Is jou Godvrees nie jou hoop, jou vrome wandel nie jou verwagting nie?…wie het ooit onskuldig omgekom, en waar is opregtes verdelg? …die wat onreg ploeg…Deur die asem van God kom hulle om, en deur die geblaas van sy toorn word hulle vernietig. 

Die essensie van Eliphas s teologie: As jy godvresend is en met morele korrekteid optree sal jy God se guns geniet en God se verlossing vind.

 

BILDAD 8:3 – “Sou God die reg verdraai, of die almagtige die geregtigheid krenk?” 

Bildad is geskok en voel sy teologie word bedreig deur Job. Hoe kan mens ooit dink dat God die Almagtige geregtigheid kan verdraai of omkeer? God en onregverdigheid hoort nie bymekaar nie.

 

ZOPHAR 11:11 – “Want Hy ken die valse mense, en Hy sien die ongeregtigheid…”. Skuld sal gestraf word.11:13-17 – “…As jy jou hart berei en jou hande uitreik na Hom…en geen onreg in jou tente woon nie…(dan) helderder as die middag sal die lewe oprys.” Goeie gedrag word beloon.

 

ELIHU Elihu bring ‘n ietwat anders perspektief as hy sê dat daar betekenis in drome en pyn/lyding is, maar op die ou einde bly hy tog ook ‘n voorstander van retribusie teologie (vergoeding en vergelding).34;10-12 – “Vêr is …die Almagtige van onreg! Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk…Ja waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.”

34;21-26 – ”Want sy oë is op die weë van die mens, en Hy sien al sy voetstappe…”

 

Elihu maak die Almagtige ‘n mikro-bestuurder van mense se doen en late. Werkers van ongeregtigheid kan hulle nie wegsteek nie. God sal hulle verbrysel en straf.

 

Job se vriende is so verslaaf aan algemene formules en oplossings vir lewensprobleme dat hulle alle sin van die werklikheid verloor. Dogma verdoof empatie, en is blind teen enigiets wat nie by die geloof of vooropgestelde idees pas nie. David Clines noem dit ‘n wrede teologie, en dit help nie eintlik vir Job nie. Job reageer sarkasties op hulle mini preke as hy sê: 12:2 – “Waarlik ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit.” Op die oppervlakte lyk dit of hulle Job wil aanmoedig, maar op ‘n dieper vlak is dit ‘n veroordeling.

Calfyn2 sê: “Some comforters have but one song to sing, and they have no regard to whom they sing it”

Die ongevoeligheid van hulle toesprake word deur Job beaam:

  • 6:25-27: “Hoe kragtig is opregte woorde, maar wat rig ‘n bestraffing uit, van julle afkomstig?” Moralisering en preke het dalk hul plek, maar banale veralgemenings en onbeduidende clichés (bybelversies?) te midde van pyn en lyding help niks en beteken niks, en is baiekeer ‘n subtiele bestraffing.
  • Job beskryf sy vriende as “treurige troosters…(met) winderige woorde.” (16:2-3)
  • (19:2,3) “Hoe lank sal julle my siel knel en met woorde verbrysel? Nou tien maal al doen julle my smaadheid aan, mishandel julle my sonder om julle te skaam.”
  1. JOB RAAK MEER BEWUS VAN DIE AMORELE ALMAGTIGE

Aanvanklik het Job ook aan sy vriende se vorm van teologie geglo, maar word geleidelik bewus van ‘n heel ander beginsel op die vlak van die Almagtige en die natuurlike skepping, en dit is ‘n beginsel van amoraliteit en die waardes wat daarmee saamgaan – nie konformering of sonde, goed of sleg, beloning en straf nie, maar funksionaliteit, oorlewing, selfonderhouding, diversiteit en sikliese verandering3 – soos ons binnekort met Yahweh se toespraak sal sien.

Byvoorbeeld, in hoofstuk 9 en 10 verwerp Job sy vriend Bildad se geloof dat God regverdig is. Gordis4 sê: “Throughout this speech Job becomes aware of the ‘cosmic injustice’, that he (God) doesn’t govern the world in a morally just way.”

  • “Hy…wat my wonde sonder oorsaak…vermeerder” (9:17)
  • “Die vrome en goddelose vernietig Hy” (9:22)

Hierdie Universum is Amoreel, nie immoreel nie, en dit is onmoontlik om regverdigheid uit ‘n wetlike oogpunt te verwag. Job probeer, maar besef dit is tevergeefs: “Hom wat ek nie kan antwoord nie, al was ek regverdig” (9:15).

In hoofstuk 12 is Job baie bewus van die teenoorgesteldes in die Godheid wat “dooskaduwee” uit lig uit kan bring (:22), nasies groot maak en hulle laat omkom, uitbrei en wegvoer (:23), die wat vasstaan tot ‘n val bring (:19), veragting uitstort oor die edeles (:21). Van orde kan Hy chaoties destruktief wees. Sy gedrag is vol teenoorgesteldes, nie net wat “goed” en mooi is nie.

En wanneer Job in hoofstuk 13:1 sê: “”Kyk, alles het my oog gesien, my oor gehoor en opgemerk”, is dit amper ‘n voorloper tot sy soortgelyke heel laaste stelling in die boek. Job het ‘n bewustheid ontwikkel van die werklike aard van die Almagtige – dat dit nie ‘n kalm en “goeie” goewerneur van ‘n heelal van orde is nie, maar iets buite die dogma en reëls van teologie, wat nie streng volgens vergoeding- en vergeldingsetiek optree nie. Dit is ook onmoontlik om wetlike regverdigheid van so ‘n entiteit te verwag, want dit funksioneer nie volgens die wette en regstelsel van die mensdom nie.

Job gaan voort met talle voorbeelde van hoe hy deur God benadeel is (Voltaire het ou Job op ‘n stadium ‘n “windbag” genoem!). In hoofstuk 19:6-7 sê hy kategories dat God hom onregverdig behandel het en dat daar geen regverdigheid by God is nie. Die amorele aard van God word nou ten volle besef. In reaksie op Job se beskrywing van God as, “…wat sy siel begeer, dit doen Hy” (23:13) en, “Hy sal volbring wat oor my besluit is” (23:14) (m.a.w. ek het geen invloed oor hierdie domain van die lewe nie) sê David Clines5: “This is not some cry of faith in praise of divine freedom and unfettered omnipotence; it is a bitter and hopeless conclusion that the moral governor of the universe is a giant Id, unaccountable and unarraingnable”. Id is ‘n Freudiaanse term vir psigiese energie wat onophoudelik net werk vir oorlewing, om drange, behoeftes en begeertes te probeer vervul. Dit is primitief, deel van die natuurlike/instinktuele, en het nie ‘n saak met etiese reëls, regulasies en regverdigheid nie.

  1. JAHWEH SE TOESPRAKE AAN JOB

Mens kry ‘n uitstekende gevoel van hierdie een lewe wat leef as ‘n massale Id wat niks met reg en geregtigheid te doen het nie, deur te luister na Jahweh se twee toesprake aan Job, waar die woorde reg en geregtigheid nooit gebruik word nie, ten spyte van die feit dat dit die hele tyd is wat Job van Jahweh gevra het.

Job het baie lank vir God gewag om hom te antwoord, en toe Jahweh dit uiteindelik doen is dit ‘n stem uit ‘n storm (“whirwind” – dwarrelwind, “hurricane” – orkaan). Die skrywer kon nie ‘n beter beeld as ‘n orkaan gekies het nie. Dit is seker een van die kragtigste natuurkragte, en is natuurlik propvol teenoorgesteldes. Die stem gee ook dan ‘n opdrag (38:3): “Gord dan soos ‘n man jou heupe (amper asof hy wou sê, ‘…want hier kom ‘n ding!’) – dan sal Ek jou ondervra, en onderrig (antwoord) jy my.”

Dit is ook interessant dat Yahweh vir Shadai/Almagtige gebruik as die een wat Job mee in dispuut is.

Hier volg net ‘n paar van die bykans 60 vrae wat Yahweh aan Job stel:

  • Job 38:4 Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het?
  • Job 38:5 Wie het sy afmetinge bepaal?
  • Job 38:7 Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?
  • Job 38:8 En wie het die see met deure afgesluit…
  • Job 38:9 Toe ek die wolk tot sy kleding gemaak het en die donkerheid tot sy windsel
  • Job 38:12 Het jy, solank as jy lewe, die more ontbied…?
  • Job 38:12 …die daggeraad sy plek aangewys…?
  • Job 38:16 Het jy gekom tot by die bronne van die see?
  • Job 38:17 Is die poorte van die dood vir jou ontbloot?
  • Job 38:17 En het jy die poorte van die doodskaduwee gesien?
  • Job 38:19 Waar is tog die weg van die woning van die lig?
  • Job 38:19 En die duisternis – waar is tog sy plek…?
  • Job 38:22 Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu?
  • Job 38:22 En het jy die skatkamers van die hael gesien…?
  • Job 38:24 Waar is tog die weg na die plek waar die lig gedeel word…?
  • Job 38:24…die oostewind hom uitsprei oor die aarde?
  • Job 38:25 Wie het ‘n kanaal gesplyt vir die stortvloed…?
  • Job 38:25…en ‘n pad vir die onweerstraal…?
  • Job 38:26 …om te laat reën op ‘n land waar geen mens is nie…?
  • Job 38:26-27 …op ‘n woestyn waar niemand woon nie; om woestheid en verwoesting te versadig…?
  • Job 38:27…om op die groeiplek jong gras te laat uitspruit?
  • Job 38:28 Het die reën ‘n vader? Of wie verwek die doudruppels?
  • Job 38:29 Uit wie se moederskoot kom die ys tevoorskyn?
  • Job 38:29 En die ryp van die hemel – wie baar dit?
  • Job 38:31 Kan jy die bande van die Sewester knoop?
  • Job 38:31 Of die toue van die Orion losmaak?
  • Job 38:32 Kan jy die Diereriem (sodiak/sterrestelsels) uitbring op sy tyd?
  • Job 38:32 En die Beer (sodiak) met sy kleintjies lei?
  • Job 38:33 Ken jy die wette van die hemel? Of kan sy heerskappy oor die aarde bestel?
  • Job 38:34 Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ‘n oorvloed van water jou oordek?
  • Job 38:35 Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons!
  • Job 38:37 Wie kan die wolke met wysheid tel?
  • Job 39:1 Kan jy prooi jag vir die leeuin?
  • Job 39:1 Of die honger van die jong leeus stilmaak?
  • Job 39:2 En hulle neerbuig in die lêplekke, klaar sit in die skuilplek om te loer?
  • Job 39:8 Wie het die wilde-esel so vry laat loop?
  • Job 39:12 Sal die buffel gewillig wees om jou te dien? Kan jy die buffel aan die ploegvoer bind met sy trektou?
  • Job 39:22 Gee jy aan die perd sterkte? Beklee jy sy nek met maanhare?
  • Job 39:23 Laat jy hom spring soos die springkaan? Sy trotse gesnuif is ‘n verskrikking.
  • Job 39:29 Sweef die valk opwaarts deur jou verstand…?
  • Job 39:30 Of vlieg die adelaar hoog op jou bevel en bou hy hoog sy nes?
  • Job 40:10 Kyk, daar is die seekoei (Behemoth) wat ek gemaak het saam met jou. :19 Sal mens hom gryp terwyl hy jou aankyk, met vangtoue sy neus deurboor?
  • Job 40:20 Kan jy die krokodil (Leviathan – mitiese seemonster) met ‘n hoek uittrek? En met ‘n tou sy tong afdruk? :24 Sal jy met hom soos ‘n voëltjie speel? En hom vasbind vir jou meisiekinders?
  • Job 40:27 Sit jou hand op hom; dink aan die geveg: jy sal dit nie weer doen nie.
  • Job 41:17 Raak iemand hom met die swaard – dit hou nie stand nie; geen spies, lans of assegaai nie
  • Job 41:18 Yster is vir hom soos strooi…
  • Job 41:22 Hy laat die diepte kook soos ‘n pot; die waterplas maak hy soos ‘n kokende salfpot…:24 Sy gelyke is daar op die aarde nie…

 

Hierdie is die langste teofanie in die Ou Testament, waar ‘n sg. goddelike wese sintuiglik verskyn en met die mens praat. En waaroor gaan dit? Die asemrowende verskeidenheid van die skepping en natuur, en die outonome self-onderhoudende aard daarvan, waarop die mens baie min invloed het.

‘n Mens se outomatiese en amper onvermydelike antwoorde behoort een van die volgende te wees.

  • Nee, ek was nie betrokke by daardie deel van die skepping nie. Ek was nie daar toe dit geskep was nie en ek het ook nie deelgeneem aan daardie skepping nie (bv. toe die aarde gefundeer was en sy afmetinge bepaal is, die vorming van doudruppels)
  • Ek weet niks of baie min van daardie aspekte van die skepping (bv. lig en donker, die wysheid van die Arend, die poorte van dood)
  • Nee, ek het nie daardie tipe mag nie. Ek kan nie dit doen nie (bv. die oseaan se perke insluit, grense vir wolke voorskryf, prooi jag vir die leeu, die perd sy mag gee en sy nek met maanhare beklee, bevel dat die arend vlieg en nes maak, reën bring op ‘n dorre woestyn, om gras te laat spruit en ryp te baar)
  • Nee, natuurlik kan ek nie daardie deel van die natuur beinvloed of beheer nie (bv. weerligstrale op hul pad stuur, praat met die wolke om te reën, maak ‘n stortvloed na jou luister, neem lig en donkerte na hul domain)
  • Ek is nie verantwoordelik vir daardie dinge wat in die skepping gebeur nie (bv. sneeu en hael)
  • Nee, ek het nie daardie tipe wysheid of intelligensie nie (bv. om ‘n arend te laat vlieg en sy vlerke uit te sprei)
  • Dit is onmootlik vir my om dit te doen (bv. die oggend te ontbied en die daggeraad sy plek aangewys, die bande van Pleiades te bind, die Beer sterrestelse met sy kleinthies lei, en Orion se belt losmaak)
  • Nee, ek kan nog nie die volle wette van die heelal bepaal of peil nie
  • Nee, ek het nog nie tot by die bronne van die see gereis nie
  • Absoluut nee! Ek kan nie met ‘n krokodil speel soos ‘n voeltjie nie, of hom vasbind vir my meisiekinders om mee te speel nie!

Die onvermydelike negatiewe antwoorde maak Job en die aanhoorder/leser besef dat die mens se mag, invloed en begrip maar baie beperk is teenoor die kragte van die skepping en natuur. ‘n Mens voel noodgedwonge meer nederig in die aangesig van hierdie “Id”, want dit is ‘n “Ander of Buite-Ek”, ‘n outonome, self-onderdhoudende en almagtige of eiemagtige domain. Maar jy besef ook, soos Job, dat jou vraag na reg en geregtigheid nie beantwoord is nie, want hierdie een lewe wat leef het niks met straf en vergoeding vir menslike dade te doen nie. Dit is amoreel. Soos John Milton gesê het: “God doth not need / Either man’s work or his own gifts”

Hierdie lewe is nie regverdig nie, maar dit maak nie minder asemrowend en pragtig nie. Miskien is hierdie “Ander”/Id/Almagtige lewe meer esteties as eties.

Goeie dade kom slegs na jou toe terug deur die mense wat daardeur geraak word, en baiekeer nie eers nie. Dieselfde met slegte dade. Daar is nie ‘n God met ‘n boekie waarin jou dade opgeskryf word vir eendag se meriete bepaling (soos ons in sondagskool vertel is) nie. As daar verkeerd gedoen word in die samelewing, rykdom en armoede is, help dit nie om ‘n appél aan God te rig nie. Dit stel ons kwyt van ons eie verantwoordelikheid. Die Almagtige lewe het baie minder bronne om maatskaplike problem op te los as wat mense het! Dit het nie ‘n RDP program, of ‘n stelsel om lenings by die bank te herstruktureer nie. Dit kan ook nie vir jou ‘n oortrokke fasiliteite by die bank reel, of NGO’s tot stand bring vir sosiale welsyn programme nie. Insgelyks kan dit nie ‘n stelsel skep en administreer om onderhoud vir enkel moeders van hulle ex-mans of vaders van hulle kinders te verhaal nie.

Job se vriend Elihu kom naby aan hierdie beginsel in 35:5-8: “Kyk op na die hemel en sien, en aanskou die wolke wat hoog bo u is. As u sondig, watter skade het dit vir Hom? En is u oortredinge baie, wat kan u Hom daarmee aandoen? As u regverdig is, wat gee u aan Hom? Of wat kan Hy uit u hand aanneem? U goddeloosheid raak net ‘n mens soos u, en u geregtigheid ‘n mensekind”

Clines6 sê dat wanneer jy die waardes van geregtigheid en moraliteit op die terrein van die Almagtige toepas, maak jy ‘n “value singularity” (waarde enkelvoudigheid) fout. Die twee domeins funksioneer op totaal verskillende vlakke met verskillende stelle waardes en beginsels, en vereis eintlik “value plurality” (waarde meervoudigheid). Daar is niks verkeerd met ‘n etiek van gehoorsaamheid nie, solank dit behoort aan die sosiaal-menslike vlak waar dit vandaan kom, met die doel om losbandige gedrag in ‘n kultureel-maatskaplike konteks te beheer. Die oomblik wat ons dit neem na die vlak van die Almagtige/Eiemagtige, en dit die verantwordelikheid van God of ‘n god maak, dan word godsdiens sinoniem met ‘n magtige en outoritêre bedreiging wat God en Sy straf en vergoeding gebruik om menslike gedrag te beheer. En omdat straf en vergoeding nie die beginsel is waarvolgens die Almagtige/Eiemagtige skepping funksioneer nie, kan ons slegs tot een slotsom kom oor die mense wat dit vir hierdie doel wil gebruik, en dit is dat hulle magsbehep, moreel onvolwasse of delusioneel is.

Hierdie een groot lewe wat lewe, kan net lewe, en selfstandig sorg vir sy eie transformasie en herlewing. Dit het geen saak met kleinlike menslike sisteme en sosiaal-maatskaplike sake nie. As jy beheer wil hê oor mense en menslike gedrag in die samelewing, maak sosiale reëls, skep wetgewing, gebruik die reg, maar moenie dit die verantwoordelikheid van die Almagtige maak om toe te pas en af te dwing nie.

“If society believes that prosperity and health are signs of divine approval and certificates of moral integrity, the society is labouring under a vast illusion” (Clines7).

  1. DIE ONTWERP VAN DIE SKEPPING

Die ontwerp van die skepping wat Yahweh hier voorstel funksioneer op ‘n heel ander vlak as die moreel-etiese, en Yahweh se toespraak belig hierdie beginsels:

  • Dit is outonoom en self-onderrhoudend. Bevoegd genoeg om sy eie sake te hanteer sonder menslike inmenging. Dit onderhou en voed sigself. Die rabbynse etimologie vir “Shaddai” is “the self-sufficient one”. “Shad” beteken bors in Hebreeus en word ook baie in Genesis gebruik om versorging, vrugbaarheid en vermeerdering aan te toon
  • Dit manifesteer in pragtige diversiteit, van die kleinste waarneembare detail (die sneeuvlokkie) tot die grootste kosmiese prag (die sterrestelsel). En elken van sy elemente het sy eie missie en eienaardigheid. 90% van ons liggaam bestaan uit bakterie, virusesse, parasiete en swamme…100 triljoene daarvan. En elk van hierdie lewende entiteite het sy eie evolusionêre agenda vir oorlewing en voortbestaan (“The human microbiome”).
  • Hierdie eiemagtige lewe is transformatief, voortdurend in verandering, “Impermanent” soos die Buddhiste sê (onduursaam/tydelik).
  • Is ‘n bron van verwondering en ontsag vir enigiemand wat dit aanskou, insluitend Yahweh, wat liries oor ‘n krokodil raak.
  • Dit is “goed”in die funksionele sin van die woord, soos in Genesis 1. Daar is geen problem daarmee nie, en dit benodig niks om dit reg te stel nie. Maar dit is nie “goed” in die morele sin van die word nie. Dit is ook nie “sleg” in die morele sin van die woord nie.
  • Dit verskyn of manifesteer in visuele beelde met gevoel, affek en impak, en sonder abstrakte en teoretiese veralgemenings.
  • Dit het niks met menslike wette en regstelsels te make nie, maar die menslike waarnemer word uitgenooi om bewus te wees daarvan, dit in te neem en te luister daarna. Hierdie domain vra vir menslike oplettendheid (mindfulness) nie menslike eiewysheid nie. Hierdie almagtige lewe, die “Totale Ander” funksioneer nie volgens die beginsel van retribusie nie: Soos Matitiahu Tsevat (in Clines8) sê: “No retribution is provided for in the blueprint of the world, nor does it exist anywhere in it. None is planned for the nonhuman world, and none for the human world. Divine justice is not an element of reality. It is a figment existing only in the misguided philosophy with which you have been inculcated.”

In die Jungiaanse Sielkunde heers daar ‘n groot debat huidiglik om eerder die onbewuste die outonome psige te noem. Die rede is dat hierdie instinktuele en argetipiese lewe op ‘n vlak funksioneer wat grootliks onafhanklik van die willekeurige en bewuste deel van ons funksioneer. Jung beskryf ook die dieper onbewuste lae van die psige as ‘n “powerful objective-psychic factor” that “commands from within”. (CW 17 PARA 300, 304). Dit is objektief in die sin dat dit afgeskei is van die subjektiewe en persoonlike ego vlakke. Dit is ‘n onafhanklike mag of energie op sy eie. Hiedie instinktuele en argetipiese psige “…pursue their (own) inherent goals” en is “…pure un-vitiated (onbesoedelde) nature”, m.a.w. self-onderhoudend en outonoom, onafhanklik van bewuste beplanning en willekeurige beheer. (CW 9 PART I PARA 91, CW 8 PARA 404, 412).

Ek kan soortgelyke tipe vrae as Jahweh vra, maar oor die outonome psige:

  • Skep en vorm jy bewustelik elke beeld wat in jou nagdrome verskyn?
  • Word jy soms beweeg deur diepe gevoel of emosie? Het jy hierdie gevoel doelbewus gaan haal en na die oppervlakte gebring?

Insgelyks kan mens ook dosyne vrae oor die liggaam se outonome senuweestelsel en imuunsisteem vra:

  • Beheer jy elke hartslag elke sekonde van die dag? (4000 van hulle per uur en 100 000 per dag)
  • Koordineer jy waar die vitamines en minerale na ete heen gestuur word om jou selle en organe te voed?
  • Hou jy toesig oor die omskakeling van glikogeen na glukose vir energie-vrystelling?
  • Bestuur jy enige van die 10 triljoen selvernuwings deur mitose wat in jou leeftyd plaasvind?
  • Orkestreer jy die weg van die witbloedselle na die bakterie of virusse?

Die Almagtige Natuur, die outonome liggaam en outonome psige is:

  • Onafhanklik en self-onderhoudend
  • Voortdurend in beweging, aanpassing, oorlewing en verandering
  • ‘n Bron van verwondering
  • Amoreel

Mens kan basies drie dinge doen in die aangesig van die natuur-skepping en die outonome psige, en ek dink dit is wat Job gedoen het:

  1. Word bewus daarvan. Neem dit fyn waar. Bring bewustheid na dit toe. (Mindfulness)
  2. Betrek dit in aktiewe oor en weer dialoog. Jung gebruik ‘n tegniek “Active Imagination” waar jy in ‘n houding van bewuste oorgawe of bewuste “laat wees” gesprek voer met die onbewuste d.m.v. kuns, spontane beweging, fantasie, verbale of skriftelike dialoog, droom prosessering ens.
  3. Oorgee, laat wees en aanvaar.
  1. JOB SE ANTWOORD AAN DIE EINDE

Dit is duidelik in die laaste hoofstuk dat Job tot ‘n nuwe insig gekom het: “Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog u gesien.” (42:5)

Job wou gehad het dat God sy saak vir geregtigheid moes aanhoor, maar geregtigheid is nie een keer deur Yahweh genoem in sy twee lang toesprake aan Job nie. Job het die afwesigheid hiervan opgemerk en dit was Job se nuwe insig of openbaring, dat die Almagtige amoreel is. Die lewe het twee duidelike kategorieë, “dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie” (42:3), en menslik-maatskaplike geregtigheid. Job besef dat jy nie die twee kan vermeng en menslik-maatskaplike geregtigheid van die vlak van misterie en wonder kan verwag nie.

Job trek dan sy saak teen God terug (42:6), maar Clines9 reken dat Job se laaste woorde nie heeltemal korrek vertaal is nie. In Afrikaans “Daarom heroep ek en het berou in stof en as”, en in die NKJ weergawe, “Therefor I abhor myself, And repent in dust and ashes.” Na ‘n baie deeglike ontleding van die Hebreeus stel Clines eerder die volgende vertaling voor: “So I submit (melt/flow), and I accept consolation (I am consoled/comforted) for my dust and ashes”.

So Job gee oor (smelt/vloei), is buigbaar en aanvaar vertroosting of vind berusting vir sy stof en as. Stof en as is die sigbare beeld of simbool van sy toestand van rou en droefheid. So die storie los nie vir Job in misrabele troosteloosheid of self-vernedering nie. Hy is nie die oorwinnaar of die verloorder nie. Hy het geleer dat hy nie geregtigheid by God sal vind nie, en dat daar ‘n hele wêreld anderkant geregtigheid en bokant sy begrip en invloed bestaan. Met hierdie besef word Job meer nederig en beskeie. Hy is nie nederig omdat die godsdiens hom vertel om te wees nie. Hy is nederig omdat hy ‘n deel van die lewe gesien het wat verwondering verwek, en nie ten volle deur die rede of verstand begryp of beheer kan word nie. Hy het sy skadukant geïntegreer en is ten volle bewus van die eintlike aard van die outonome selfonderhoudende skepping. Uit ‘n Jungiaanse oogpunt, vind hy ook meer geheelheid of onverdeeldheid (Jungiaanse Indiwiduasie).

  1. EPILOOG

In die laaste hoofstuk kom ons terug van die klem op die almagtige skepping en natuur na ‘n alledaagse huislike vlak: besoeke en ondersteuning van familie, die nuwe kudde bestuur, mooi name vir sy dogters uitdink en hulle ook deel van die erfporsie maak saam met die broers. Hy is meer regverdig en nie so patriargaal as voorheen nie – die vroulike element is geïntegreer.

Sy familie en vriende bring ook elk ‘n geldstuk (Eng.: “piece of silver”) en ‘n goue ring saam. Die goue ring is simbolies van Eenheid of geheelheid (Jungiaanse Indiwiduasie). Groot vrae oor die betekenis van die universum en geregtigheid verdwyn nou en word vervang met wat belangrik vir ‘n goeie alledaagse menslike bestaan is – menslike regverdigheid, tyd met familie en vriende, bestuur jou sake en bring balans waar dinge te eensydig is.

  1. WAT VAN “ONSKULDIGE” LYDING?

Wat staan mens te doen as jy volgens jou onnodig of onskuldig ly/swaarkry?

  1. Is jy rêrig so onskuldig? Kyk bietjie of daar nie dalk eensydigheid, oormaat, afskeping of versteurde balans êrens in jou lewe bestaan nie. Hoe lyk jou skadukant?
  2. Gaan in ‘n oop, ekspressiewe en passievolle debat met al jou sub-persoonlikhede, insluitend die outonome ander of buite-ek. Raak bewus van alle kante.
  3. Ontwikkel en hou by jou eie beginsels, waardes en riglyne. Moenie dit ‘n god se verantwoordelik maak nie. Soos die Buddha sy seun geadviseer het: Voordat jy iets doen, gaan dit skadelik wees? Terwyl jy iets doen, is dit skakdelik? Nadat jy iets gedoen het, was dit skadelik?
  4. Bestuur die dinge wat jy kan verander, aanvaar die dinge wat jy nie kan verander of affekteer nie, en wees wys genoeg om die verskil te ken. (“Serenity Prayer”)
  5. En laastens, soos die Rooi Indiane sê, “Wanneer laas het jy tyd met familie en vriende deurgebring, gesing, gedans, stories vertel of stil gestaan in verwondering teenoor die prag en selfonderhoudende mag van die skepping?”

VERWYSINGS

  1. Clines, D J A, Word Biblical Commentary, Vol. 17, Job 1-20, Thomas Nelson, Nashville, 1989 (Introduction).
  2. Clines, D J A, Word Biblical Commentary, Vol. 17, Job 1-20, Thomas Nelson, Nashville, 1989 (Testimonia).
  3. Clines, D J A, “Job’s God: A Surfeit of Theologies?”, Keynote presentation at Australian and New Zealand Association of Theological Schools Conference, Perth, 2005 (p.8).
  4. Gordis, R, The Book of God and Man. A Study of Job. Chicago Univ. Press, Chicago, 1965, p. 80.
  5. Clines, D J A, Word Biblical Commentary, Vol. 18A, Job 21-37, Thomas Nelson, Nashville, 1989, p. 616.
  6. Clines, D J A, “Job’s God: A Surfeit of Theologies?”, Keynote presentation at Australian and New Zealand Association of Theological Schools Conference, Perth, 2005
  7. Clines, D J A, Word Biblical Commentary, Vol. 18A, Job 21-37, Thomas Nelson, Nashville, 1989, p. 618.
  8. Clines, D J A, Word Biblical Commentary, Vol. 18B, Job 38-42, Thomas Nelson, Nashville, 1989, p. 1092.
  9. Clines, D J A, Word Biblical Commentary, Vol. 18B, Job 38-42, Thomas Nelson, Nashville, 1989, p. 1218.

 

ANDER BRONNE

  • Brutsche, D C, “The Book of Job: Encountering Inner Multiplicity”, ARAS Connections, Issue 4, 2012.
  • Clines, D J A, “Job’s Fifth friend: An Ethical Critique of the Book of Job”, Paper read at the Society of Biblical Literature International Meeting, Helsinki, 1999.
  • Hiles,D, “Jung, William Blake and our answer to Job”, Paper presented to Collegium Jungianum Brunense, Brno, CZ, 2001.
  • Jaffe, A, The Myth of Meaning in the work of C G Jung, Daimon, Zurich, 1984.
  • Jung, C G, Answer to Job, CW 11 (Collected Works 11), Routledge and Kegan Paul, London, 1952.
  • Spiegelman, M J, “C G Jung’s Answer to Job: A Half Century Later”, Journal of Jungian Theory and Practice, Vol 8, No. 1, 2006.