DIE OSSEWA-BRANDWAG EN HAAR VROUE

(Opsomming deur Sam J Basch)

Daar is groot wanpersepsies oor die Ossewa-Brandwag (OB).  ‘n Algemene siening was dat hulle militante, verregse Afrikaners was wat ‘n staatsgreep in Suid-Afrika wou bewerkstellig en hul hoop op ‘n Duitse oorwinning in Europa gevestig het.

“Dis alles presies die waarheid,” volgens Charl Blignaut, bekroonde geskiedkundige verbonde aan die Noordwes-Universiteit.  “Maar daar is ‘n caveat:  die waarheid is meer genuanseerd.  Binne die konteks van daardie tydvak het hulle bloot nasionaal-sosialisme vir hul eie doeleindes van Afrikaner-nasionalisme gebruik.”

Die OB was ‘n massavolksbeweging met intellektuele leierskap, wat hom vir spesifieke kwessies van sy tyd beywer het.  Hy sê tot soveel as 400 000 Afrikaners was lede – ‘n beduidende aantal as die land se bevolking van daardie tyd in ag geneem word.

Baie Afrikaners se oogmerk was destyds die herstel van die ou Boere-republiekse ideaal, wat met die Anglo-Boereoorlog tot niet gegaan het.  Daarom het die intens emosionele opwelling van die landwye Groot Trek-eeufeesvierings in 1938 direk tot die OB se ontstaan gelei.

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd kon die Afrikaner weer verenig en trots voel.

As kultuurbeweging was die OB se doelwit dan aanvanklik die bestendiging van die Eeufeesvieringe en tegelyk die handhawing van die Afrikaanse taal en Afrikanertradisie, die uitbou van Afrikaners se godsdienstige, kulturele en materiële belange, en die kweek van vaderlandsliefde en nasietrots.

Die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in September 1939, enkele maande ná die OB se stigting, het die kultuurbeweging feitlik oornag die karakter van ‘n versetbeweging laat aanneem.  Afrikaners was bitter omdat die Smuts-regering aan die kant van Groot Brittanje tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het.  Vir baie van hulle moes die OB ‘n “tweede” 1914-Rebellie lei.

In hierdie konteks het bekende Afrikanervroue, soos Erika Theron, Anna Neethling-Pohl, die skrywer MER en Emmie du Toit Steyn, dogter van oud-president MT Steyn, lydende verset aangevuur.  Deur protestoptogte, petisies en selfs ondergrondse optrede het hulle die regering probeer ondermyn.

Dog, die sabotasie en geweld wat dikwels aan die OB toegedig was, moet eerder voor die deur van die militante Stormjaers gelê word.  Die Kommandant-generaal, dr JFJ (Hans) van Rensburg (‘n voormalige Administrateur van die Vrystaat wat in 1941 tot OB-leier verkies is) was egter een van die intelligentsia binne die OB, wat volgens Blignaut nooit geweld voorgestaan het en ook nooit soos menige ander OB-lede geïnterneer was nie.

Volgens Charl was Anna Neethling-Pohl taamlik radikaal en kon selfs die Stormjaers se eed geneem het.  Sy was die vurige dryfveer wat in Junie 1940 in vyf dae ‘n protesoptog van byna 10 000 vroue na die Uniegebou gereël het.  Ander vroue elders in die land het telegramme van steun gestuur en byna 150 000 handtekeninge is aan Smuts oorhandig.

Soos Neethling-Pohl was baie ander vroue besonder kreatief in die herberg en versorg van voortvlugtiges wat deur die regering gesoek is.  Vroue het ook op verskeie maniere geld vir die OB Noodhulpfonds ingesamel waarmee geïnterneerdes se families onderhou is.  Dit was nie slegs opwindende tye nie;  families het swaar gekry en so is die gender-rolle omgekeer waar vroue die broodwinners begin word het.

Weliswaar het die OB die Unie-bestel verwerp en was openlik anti-Brits en pro-Duits.  “Maar sy leiers het op alle terreine intellektuele oplossings gesoek deur beleide oor maatskaplike-, ekonomiese-, opvoedkundige- en ander kwessies te formuleer wat die Afrikaner ten nouste geraak het, veral om armoede te bekamp,” sê Blignaut.

Sy navorsing oor ses jaar het Charl Blignaut waarskynlik dié kenner oor die OB en veral die vroue se rol in die beweging se verset gemaak.  Die vroue is dikwels in eenvormige wit geklee – simbolies van die reinheid van die Afrikaner-volksmoeder, maar tegelyk ook ‘n uniform wat strydig met die Smuts-regering se noodmaatreëls was.

Hierdie geskiedenis moet in die konteks van die tyd gesien word:  ‘n byna obsessiewe wroeging oor Britse dominansie, magsverlies en Afrikanerverdeeldheid voor en tydens die oorlog.

“Dis moeilik om die OB in ‘n ‘boksie’ te pas;  ek sou sy ideologie beskryf as ‘Afrikaner-nasionalisties, Calvinisties, Nasionaal-sosialisties,” was Charl se slotsom.  Vanweë die verdeeldheid, kon dit waarvoor die OB gestaan het vir baie Afrikaners ‘n verleentheid wees.  “Maar dis hoog tyd dat ons nie meer hieroor skaam sal wees nie.”

Charl wat tans aan sy doktorale proefskrif werk, het genoem dat ‘n beduidende gedeelte van die OB-dokumentasie reeds gedigitaliseer is wat dit vir navorsers meer toeganklik maak.  Baie foto’s en meer as 3 000 artefakte is tot onlangs by die Noordwes-Universiteit bewaar.  Dit is intussen na die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument verskuif waar dit op aanvraag vir navorsers beskikbaar gemaak kan word.IMG_7744-Charl Blignaut 3 Apr2016

Vroue-wag Kamp Gebied A