MR Byeenkoms 12 Maart 2017

Dr Ben Barnard wys ter agtergrond daarop dat die feëverhaal die tweelingbroer van die mite is.  By die ondersoek na die verhaal van die Slapende Skone, ook genoem Doringrosie, moet ons die matriargale teenoor die patriargale bestel in gedagte hou.

Die oorgang na ‘n patriargale samelewing het waarskynlik ±2000 vC in die tyd van Abraham geskied. Sommige historici meen dat Abraham net ‘n mitologiese figuur was en dat ons sy verhaal moet lees as ‘n oorgangsmite.

Of daar ooit ‘n matriargale samelewing was, word bevraagteken, maar daar is geen onsekerheid dat vroeë samelewings gekenmerk is deur matriargale godsdiens en die oppergesag van die Godin nie. Matriargale godsdiens is aardgebonde, in lyn met die siklusse van die natuur, en gewoonlik fertiliteitsgodsdienste met ‘n moedergodin as oppergesag.

Die Bybel is ‘n geskrif wat in ‘n patriargale bestel ontstaan het. Dit neem afskeid van die natuur en gee aanleiding tot die desakralisasie van natuur (m.a.w. God is nie meer teenwoordig in die natuur nie). Dit maak die deur oop vir die ontwikkeling van die natuurwetenskappe, maar ook vir die misbruik van die aarde.

Die aardgodin word met die hemelgod vervang en die koesterende moeder ontwikkel in ‘n oorlogsugtige krygsheer (Jahwe, Baal). Rede seëvier bo intuïsie.

 

Ben verduidelik dan dat feëverhale nie sommer net vermaak vir kinders is nie: dit is verhale wat tap uit die kollektiewe onderbewussyn van die ganse mensdom en daarom vertel dit vir ons iets van menswees.

Hy haal Anne Baring aan:

“Fairy tales are very old. They invite us into the mysterious landscape of the soul. They speak with the voice of the soul and carry many levels of meaning.”

Wat die simboliek in Doringrosie betref, weet ons dat die verhaal dateer uit die Bronstydperk, ‘n tyd van ‘n matriargale bestel.  Fertiliteitsgodsdienste was aan die orde van die dag; mense was absoluut ingestel op die ritmes van die natuur en die siklusse daarvan het hul lewens bepaal.

Sommiges reken ons het hier te make met ‘n verhaal wat die veranderende seisoene uitbeeld. Wat algemeen aanvaar word, is dat ons hier met ‘n verhaal te doen het wat lewensoorgange uitbeeld. Met daardie prik van die naald verloor Doringrosie haar kinderlike naïwiteit en groei sy na wasdom toe. Die Freudeane was vinnig om te sê dat die druppel bloed op haar vinger verwys na haar eerste menstruasie.

In die tyd dat die Broers Grimm die verhaal aan Europa bekend gestel het (1812), is seksualiteit by vroue onderdruk. Die prinsessie verval in ‘n diep slaap wanneer haar seksuele ontwaking aanbreek.

Uit Ben se beskrywing van die karakters, onder andere die ouers, leer ons dat die aankondiging van die kind se geboorte (in hierdie geval deur die padda) verwys na die menslike siel en sy reis na bewussyn en selfkennis.

Soos telkens in die geval van enigste kinders, word sy oorbeskerm. Baie feëverhale voer redes aan om die ouers uit die weg te kry wat in die pad staan van hul kinders se ontwikkeling na wasdom en selfbewussyn.

Die padda is die ekwivalent van die slang in die Bybelse paradys, wat eintlik die begeleier, eerder as verleier, moes wees om die mens na ‘n hoër vlak van ontwikkeling te begelei.

Die goeie feë stem ooreen met die Griekse Moira of lotsgodinne wat die mens se lot bepaal. Hoewel daar slegs drie in die verhaal is, wat ooreenstem met die drie wysemanne in die Christusverhaal, was daar 12 in die oorspronklike verhaal. Dit stem ooreen met die 12 tekens van die Diereriem (oftewel die Zodiak), wat die stasies verteenwoordig waardeur die menslike siel moes beweeg om volledig te ontwikkel.

Die bose feë was die 13de en stem ooreen met Judas in die Christusverhaal.  Die antieke maankalender het uit 13 maande bestaan wat herinner aan die vergange era toe die Moedergodin aan bewind was. Patriargie het die 12-maande stelsel in werking gestel en die getal 13 is as die ongelukkige getal beskou; weer eens ‘n demonisering van die vroulike.

Die verbode vrug wat ons ook in die Paradysverhaal ken, was die pa se verbod op die spinwiel. Dit is ook ‘n bekende mitologiese tema.

Die spinwiel verwys weer eens na die vroulike. In die Griekse mitologie is Omphale, koningin van Lydia, met haar spinwiel beskou as die skepper van die menslike lot en spin sy die mens se toekoms soos ‘n ingewikkelde tapeserie. Die wiel se sirkelvorm verwys  na die lewenssiklus van geboorte, dood en wedergeboorte.

Doringrosie se ervaring met die spinwiel was haar inisiasie tot wasdom. Dit is ‘n toets was sy nie slaag nie en verval in die diep slaap.

Die slaap is ook ‘n vorm van hibernasie, die lang winterslaap van die natuur. Doringrosie word met ‘n kus opgewek, ‘n insident wat herinner aan voorvalle in die Bybel, waar Jesus die dogtertjie van Jaïrus en ook Lasarus opgewek het.

Die doringheining is enigiets wat ons verhoed om met die vroulike sy van die lewe en die kosmos kontak te maak (emosies, instink, eros, eenheid met die natuur). Hierdie verhaal vra dus dat die post-moderne mens sy pad deur die doringbos van rasionaliteit moet vind wat deur natuurwetenskappe opgerig is om met sy innerlike self in kontak te kom.

Nietzsche verwoord dit mooi:

“I have left the house of scholars and slammed the door behind me. Too long did my soul sit hungry at their table.”

Die prins in die verhaal is die argetipe van die manlike prinsiep:  die rasionele, bewuste mens wat sy wêreld ondersoek en probeer verstaan. Daar is niks hiermee verkeerd nie, mits die rasionele sy van menswees nie uitgeleef word ten koste van die emosionele nie. In sielkundige taal is hy op soek na die vroulike teenpool van homself wat aan die slaap / onbewus is (sy anima).

Die huwelik tussen Doringrosie en haar prins verteenwoordig die reünie van die manlike en vroulike; dit staan bekend as die hieros gamos, of heilige huwelik. Vir die gnostici suggereer die huwelik die hereniging van die rede en die siel.

Ben het dit saamgevat in enkele punte: dat die verhaal wentel om die feit dat Doringrosie in haar ontwakende vroulikheid belemmer word deur ‘n patriargale oorbeskermende vader. Daar is ook die geveg tussen die geslagte, verteenwoordig deur die patriargale stelsel terwyl die goeie feë dit teenstaan. Sosiale kritiek word uitgespreek oor die rol van die vrou in die gemeenskap.

Wat die dood van God betref, wys Ben daarop dat daar toenemend aanduidings is dat die verlosser van die mens vroulik is, met ander woorde ‘n teruggryp na die Moedergod. Dit is selfs te sien in die Hollywood-film oor die Doringrosie-verhaal waarin die ‘bose’ feë Maleficent (ook die naam van die rolprent) met háár kus die prinsessie opwek.

Hy verwys na ‘n verskeidenheid van literatuurbronne wat ‘n terugkeer na ‘n matriargale samelewing en godsdiens voorstaan. Naomi Goldenberg skryf:

“When a symbol as pervasive as that of the father-god begins to die, tremendous anxiety is generated. Other images arise to take its place almost immediately. Candidates for different god-images are already being nominated either to replace the father-god or to provide him with a female retinue.”

‘n Nuwe spiritualiateit is besig om te ontwaak. Hoe ons die aarde hanteer, word nou ‘n refleksie van hoe ons God hanteer.

Die verhaal van Doringrosie kon deur eeue aanpas by omstandighede en het oorleef. Of ons dieselfde van godsdiens kan sê, is ‘n ope vraag. Charles Darwin se harde wet geld steeds: diegene wat nie aanpas nie, word uitgerangeer.

Dr Ben Barnard het al verskeie boeke gepubliseer.  Sy eerste Engelse titel, Revisiting Eve: New Perspectives on the stories of the Bible, verskyn binnekort.

DVDs van lesings
Mollie en Maryke Kruger sal hierdie lesing ook binnekort by hul groot verskeidenheid van video-opnames by die Midrandbyeenkomste beskikbaar hê. Diegene wat die lesings misgeloop het, of wat die inhoud graag weer wil bekyk, kan die DVDs gerus aanskaf. Die koste beloop R70 vir die eerste DVD, met afslag vir bykomende eksemplare.