Opsomming

Die tradisionele Christelike meesterverhaal kan met drie woorde opgesom word: sondeval-verlossing-eindoordeel. Die Bybelboeke is selfs só gerangskik dat dit hierdie meesterverhaal ondersteun. Die Bybel begin immers met die verhaal van die skepping en die sondeval (Genesis 1–3), dit bevat vier evangelies (Matteus, Markus, Lukas, Johannes) waarin van die verlosser en sy verlossingsingswerk vertel word, en dit sluit met die boek Openbaring wat oor die eindtye en die eindoordeel handel.

In die lesing sal daarop gewys word dat die wetenskaplike studie van die Bybel die afgelope meer as 300 jaar die tradisionele meesterverhaal ondergrawe het: daar was nie ’n perfekte skepping nie en ook nie ’n sondeval nie. Hierdie sienings hang saam met hoe kerklike teoloë die Bybel destyds gelees en verstaan het. In die tussentyd het navorsing op die terreine van die Biologie en Geologie ook daartoe bygedra dat die tradisionele meesterverhaal vir vele Westerlinge nie meer sin maak nie en gevolglik nie meer sin aan hul lewens gee nie. Die finale vraag wat beantwoord sal word, is: Wat nou gemaak met die Bybel?

  1. Inleiding

Vyftig jaar gelede het biskop John A.T. Robinson ’n boek met die titel The New Reformation? (1965) gepubliseer. Hy was op daardie stadium ’n biskop van die Anglikaanse Kerk in Londen en het geargumenteer dat die Westerse Christendom onafwendbaar op ’n nuwe hervorming afstuur. Westerlinge se wêreldbeeld het verander en daarmee saam ook hul godsbeeld. Mense weet dat hulle nie in ’n drieverdiepingheelal woon nie. Hemel en hel is nie meer vir hulle aanwysbare en bewoonbare plekke nie. God is vir hulle ook nie meer ’n mensvormige wese wat in die hemel woon en wat alomteenwoordig, almagtig en alwetend is nie (James 1987). Verder het die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) hul geloof in die tradisionele kerklike leerstellings en kerklike etos ’n nekslag toegedien. Hierdie oorlog is grootliks gevoer deur Europese volke wat al vir eeue gekersten was. Die wreedhede wat gedurende die oorlog gepleeg is, is deur Christene gepleeg en nie deur heidene nie. Adolf Hitler was vas oortuig dat hy nie verkeerd optree deur Jode te elimineer nie. Hulle is sedert die tyd van keiser Theodosius die Grote (346–395) verantwoordelik gehou vir Jesus se kruisdood en moes telkens dit in Europa ontgeld omdat hulle as “Godmoordenaars” gebrandmerk is. Die Nazi’s het hulle onder andere op Martin Luther (1483–1546) vir hul optrede teenoor die Jode beroep en Hitler self skryf in sy boek Mein Kampf dat hy van oortuiging is dat hy in ooreenstemming met God se wil handel deur hom teen die Jode te verset (Saperstein 1989:40).

Toe die Nuwe Hervorming Netwerk in 2004 formeel gestig is, het die stigters (bewustelik of onbewustelik) aangesluit by die sienings van John A.T. Robinson en ander wat na hom gekom het. Hierdie navorsers het die oortuiging voorgedra dat Christene in die twintigste en een-en-twintigste eeu anders oor die Bybel, oor God en oor Jesus moet dink en praat. Onder diegene wat die standpunt huldig, tel Don Cupitt (2001), Cees den Heyer (1988, 2003), Robert Funk (1996), Lloyd Geering (1999, 2002), John Shelby Spong (1998, 2007) en Herman Wiersinga (1992) — om slegs enkeles te noem. Maar terwyl Robinson verkondig het dat Christene moet herbesin oor hoe hulle oor God dink en praat, het laasgenoemdes beklemtoon dat Christene ook sal moet herbesin oor hoe hulle oor Jesus praat. Vergelyk gerus die titel van Robinson se boek wat hy in 1963 gepubliseer het met die titel van Funk se boek wat hy in 1996 gepubliseer het. Die een se titel is Honest to God (Robinson 1963) en die ander een se titel is Honest to Jesus (Funk 1996).

Hierdie twee skrywers (Robinson en Funk) se oortuigings hou deels verband met ’n veranderde siening van die Bybel wat teen die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu in die Weste posgevat het. ’n Mens sou kon argumenteer dat daar eers ’n verskuiwing in mense se siening van die Bybel was voordat daar ’n ander siening van God en van Jesus na vore getree het. Dit is interessant dat die “Jesus Seminar” na etlike jare se bestudering van die uitsprake en handelinge van Jesus, tans fokus op God, die Christendom en die Bybel. In ’n onlangse advertensie van hul “God seminar” word die volgende gesê: “God emerges as a human creation through language, culture, and history, but this is problematic to religions, like Christianity, traditionally based on revelation” (in The Fourth R 2014 [vol 27, no 1]).

Die oomblik wanneer ’n mens afskeid neem van die idee dat God Hom deur die Bybel aan mense openbaar, staan jy voor die uitdaging van “Hoe weet jy dat wat jy oor God sê, steek hou? Hoe bewys jy jou aansprake en uitsprake oor God?”

Ek gee in hierdie lesing slegs aandag aan die veranderde siening van die Bybel en vertrou dat ander sprekers later in die jaar aandag sal gee aan die veranderde siening van God en van Jesus.

  1. ’n Ander siening van die Bybel

Dit is ’n algemeen bekende feit onder kritiese Bybelwetenskaplikes dat daar teen die einde van die negentiende en die begin van die twintigste eeu ’n veranderde siening van Bybel posgevat het. Oor hierdie saak het daar al heelwat boeke verskyn (Barr 1973, Grollenberg 1979, Den Heyer 1988, Noll 1991, Spangenberg 1998). Ek het in die boek Die Nuwe Hervorming (Muller 2002) ’n artikel oor die saak geskryf (Spangenberg 2002) en bespreek dus net kortliks wat hierdie veranderde siening van Bybel behels voordat ek een en ander oor Genesis 1–3, die eerste drie hoofstukke van die Bybel, sê.

  • ’n Goddelike of menslike geskrif?

Die Bybel is vir etlike eeue in die Westerse wêreld as dié belangrikste boek beskou. Dis immers die boek deur middel waarvan God sy wil aan die mensdom bekend maak en dis in hierdie boek waarin God sy heilsplan vir die ganse skepping openbaar (Heyns 1973). Die Protestantse Hervorming van die vyftiende en sestiende eeu het die belangrikheid van die Bybel vir leer en lewe nie net herbevestig nie, maar die lees en bestudering daarvan verdemokratiseer. Lesers was nie meer afhanklik van die Pous en die konsilies (kerkvergaderings) om God se stem te hoor nie — hulle kon deur middel van hul eie lees en bestudering daarvan God se wil vir hul lewens bepaal. Die vertaling van die Bybel in Europeërs se moedertale het hierdie verdemokratisering aansienlik aangehelp.

Maar dit was nie die enigste faktor ’n rol gespeel het nie. Die ontsluiting van die geskrewe materiaal wat in Egipte en die Nabye Ooste gedurende die agtiende en negentiende eeu ontdek is, het ook bygedra tot die veranderde siening van die Bybel. Voorts het dit bevestig dat die Ou-Testamentiese boeke veranker is in die wêreld van die Ou Nabye Ooste (Moorey  1991:2). Teen die einde van die negentiende eeu en aan die begin van die twintigste eeu het meer en meer Bybelwetenskaplikes beklemtoon dat die Bybelboeke deur gewone mense geskryf is en dat ons menslike perspektiewe daarin teëkom. Die boeke verkondig dus nie ewige en objektiewe waarhede oor God en die heelal nie, maar subjektiewe en tydgebonde oortuigings van mense wat tuis was in die ou Nabye Ooste. Dis egter nie al nie, dit weerspieël ook daardie mense se wêreldbeskouing.

Vir daardie mense het die heelal uit drie verdiepings bestaan, naamlik hemel, aarde en die wêreld onder die aarde (vgl. Eks 20:4, Openb 5:3). Ons weet vandag dat dit nie waar is nie, maar dat die heelal biljoene jare gelede ontstaan het. Voorts dat daar allerlei wetmatighede daarby betrokke was wat maak dat die heelal steeds uitdy. Ons weet dat die heelal uit biljoene sterre bestaan en dat die Melkweggalaksie slegs maar een van biljoene sterrestelsels is.

 

Die Bybel, so het dit ook gou geblyk, bevat heelwat foute wat uitwys dat dit nie deur ’n alwetende en tydlose goddelike persoon geskryf of gedikteer is nie. Lloyd Geering (2002:137) verwoord dit soos volg: “Since the modern revolution in understanding the Bible we are now able to go further than the Reformers and declare that the Bible also can err, and frequently does, for it was composed by humans.”

 

  • Één boek of ’n biblioteek van boeke?

 

Bybelwetenskaplikes het egter nie net beklemtoon dat mense vir die Bybel verantwoordelik is nie, maar dat die verskillende Bybelboeke “uit verskillende monde praat.” Daar is nie maar net één perspektief in die Bybel nie, maar ’n verskeidenheid van perspektiewe. Hierdie pespektiewe hang saam met die feit dat die Bybelboeke in verskillende tye geskryf is, of oor dekades en selfs eeue heen, gegroei het. Een van die voor die handliggende voorbeelde is die boek Psalms. Hierdie Bybelboek is nie deur koning Dawid in een sitting of selfs oor ’n paar jaar in Jerusalem geskryf nie. Die psalms daarin is deur ’n verskeidenheid skrywers geskryf en elkeen van hulle het in ’n ander tyd en ook op ’n ander plek geleef (Day 1990, Gillingham 1994). Sommige van die skrywers was heel waarskynlik priesters terwyl ander weer wysheidsleermeesters was. Sommige het in Jerusalem geleef en het oor die berg Sion en die tempel wat daar gebou is, gedig (Ps 48); ander het weer in ballingskap in Babilonië geleef en verwoord hul droefheid oor die vernietiging van Jerusalem en die tempel (Ps 137).

 

Een van die Bybelwetenskaplikes wat die Psalms intensief bestudeer en uitgewys het dat ons met verskillende soorte psalms te doen kry wat in verskillende omstandighede ontstaan het, was die Duitse Ou-Testamentikus Herman Gunkel (1862–1932). Ander geleerdes het by sy navorsing aangesluit en nog fyner as hy onderskei. Tans word daar ten minste dertien verskillende soorte psalms onderskei:

 

  1. Klaaglied van die enkeling (Ps 3, 5, 7, 13, 22, 25, 31, 39, 42–43, 51, 54–57, 64, 69–71, 120, 130, 140–142);
  2. Klaaglied van ’n groep (Ps 60, 74, 79, 80, 83, 85, 90, 126);
  3. Danklied van die enkeling (Ps 30, 32, 41, 65, 116, 138);
  4. Danklied van ’n groep (Ps 67, 124);
  5. Lofliedere (Ps 8, 29, 33, 100, 103, 114, 117, 135, 145–150);
  6. Sionsliedere (Ps 46, 48, 76, 87);
  7. Koningspsalms (Ps 2, 21, 45, 72, 89, 110);
  8. Tora-psalms (Ps 1, 19:7–13, 119);
  9. Wysheidspsalms (Ps 1, 32, 34, 37, 49, 73, 112, 127, 128);
  10. Psalms van vertroue (Ps 11, 16, 23, 62, 91, 121, 125, 139);
  11. Pelgrimsliedere (Ps 120–134);
  12. Intree-liturgie/ Poortliturgie (Ps 15, 24, vgl ook Ps 118:19–20);
  13. Geskiedenispsalms (Ps 68, 78, 135).

 

Wat ten opsigte van die Psalmboek geld, geld ook van die boek Spreuke (. In laasgenoemde boek, kom daar sewe versamelings van spreuke voor: Spreuke 1–9; 10–22:16; 22:17–24:22; 24:23–34; 25–29; 30; 31 (Murphy 1990:15–32, Martin 1995). Sommige navorsers onderskei in die laaste twee hoofstukke twee onderafdelings in elkeen. Volgens hulle is daar dus nege versamelings van spreuke in die boek Spreuke. Van hierdie versamelings word met skrywers aan die hof van koning Hiskia (715–687 vC) van Juda verbind (Spr 25:1). Ander kom weer baie ooreen met die Egiptiese wysheidsgeskrif “Die wysheid van Amenemope.” Vergelyk Spreuke 22:17–24:22. Die waarskynlike dat die Hebreeuse skrywer van die Egiptiese geskrif ontleen het (en nie vice versa nie) word algemeen aanvaar. In Spreuke 22:20 kom daar ’n Hebreeuse woord voor wat moeilik te verklaar en te vertaal is, maar na die ontdekking van die ooreenkoms, het geleerdes besef dat die betrokke woord (met geringe wysiging) as “dertig” vertaal kan word. Ons kry dus in hierdie gedeelte van die boek Spreuke met 30 kort versamelings te doen net soos in die geval van die Egiptiese wysheidsgeskrif (Martin  1995:72–74). Die vertalers van die 1983-Afrikaanse Bybel was teësinnig om so te vertaal, maar die vertalers van die Katolieke Bybel met die titel The New Jerusalem Bible (1985) het nie geskroom so dit só te vertaal nie. Ook hierdie Bybelboek het dus oor eeue heen ontstaan en die spreuke is nie deur God gedikteer nie, maar deur mense bedink.

 

’n Derde voorbeeld is die boek Jesaja wat profetiese uitsprake van ten minste drie verskillende profete bevat: Jesaja 1–39 (of Proto-Jesaja); Jesaja 40–55 (of Deutero-Jesaja), en Jesaja 56–66 (of Trito-Jesaja) (Barton 1995, Whybray 1983, Emerson 1992). Soms word hierdie dele getipeer as “Jesaja van Jerusalem”, en “Jesaja van die Ballingskap” en “Jesaja van die na-Ballingskaptyd”. Dan is daar nog die sogenaamde Jesaja apokalips wat in Jesaja 24–27 voorkom en waarskynlik heelwat later as die ander materiaal geskryf is. Hierdie dele is eers etlike jare ná die Babiloniese ballingskap (586–539 vC) bymekaar gevoeg om die boek soos ons dit tans ken, te vorm. Daar is egter steeds Christene wat nie hierdie feite rakende die boek Jesaja aanvaar nie. Hulle is van mening dat één profeet vir al die materiaal verantwoordelik is. Volgens hul siening, het die profeet wat gedurende die agste eeu vC geleef het Jesus se koms, lyding en sterwe haarfyn voorspel het. Jesaja 52:13–53:12 is maar een van die vele sogenaamde voorspellings van sy plaasvervangende sterwe aan die kruis. Kritiese studie van Jesaja het egter uitgewys dat dit nie waar is nie. Hieroor het ek ’n hoofstuk in die boek Jesus van Nasaret (Spangenberg 2009:73–96) geskryf.

 

Maar dis nie net die Ou-Testamentiese boeke wat duidelik verraai dat daar oor dekades en eeue heen aan hulle toegevoeg is nie, dit geld ook van die Nuwe-Testamentiese boeke. Neem as voorbeeld die Sinoptiese evangelies: Matteus, Markus en Lukas. Hierdie drie boeke hou duidelik met mekaar verband en dit word redelik algemeen aanvaar dat die skrywers van die Matteus- en Lukas-evangelie groot dele van die Markus-evangelie oorgeneem het. Voorts het die skrywers van die Matteus- en die Lukas-evangelie ook van materiaal van die Q-Spreuke-evangelie gebruik gemaak om hul evangelies saam te stel (Grollenberg 1979:243–365, Stanton 2002:3–96). Die Q-Spreuke-evangelies is ’n hipotetiese bron wat uit die ooreenstemmende dele in Matteus en Lukas (maar wat nie met Markus verband hou nie) saamgestel is. Hierdie nie-Markaanse uitsprake en spreuke van Jesus is waarskynlik eers mondeling oorgelewer en later op skrif gestel. Ons kan die verhouding tussen die Sinpotiese evangelies soos volg voorstel:

Sakkie s Die Nuwe Hervorming
’n Voorstelling van die ontlening wat in die Sinoptiese evangelies voorkom

 

Afgesien daarvan dat Matteus en Lukas van twee bronne gebruik gemaak het, bevat hulle ook eie materiaal wat uniek aan elkeen is. Hierdie materiaal word as die M- en L-materiaal getipeer. Die geboorteverhale is voorbeelde hiervan. Matteus se geboorteverhaal stem glad nie ooreen met die geboorteverhaal soos Lukas dit weergee nie.

 

Die Markus-evangelie word tussen 60 nC en 70 nC gedateer, terwyl Matteus en Lukas respektiewelik rondom 85 nC en 90 nC gedateer word. Kritiese Bybelwetenskaplikes is dit eens dat die skrywers van hierdie evangelies nie ooggetuies van die gebeure tydens Jesus se leeftyd was nie. Ons het met ’n tweede en selfs derde geslag Christene te doen.

 

Die voorafgaande uiteensetting bevestig dat diegene wat hulle met die Nuwe Hervorming vereenselwig, die kritiese navorsing rondom die Bybel nie kan ignoreer nie. Hulle behoort die resultate van die kritiese studie van die Bybel ernstig op te neem en te verdiskonteer in hul gesprekke oor die Bybel en die moderne wêreld waarin ons leef. Die Bybel sal, na my mening, as belangrike boek in die Westerse samelewing nooit verdwyn nie. Ons behoort ons kinders daarom nie Bybelloos of Bybelveragtend groot te maak nie. Maak hulle veel eerder vertroud met die resultate van die kritiese studie van die Bybel. Dit is waarvoor ons ons ook behoort te beywer in soverre dit godsdiensonderrig op skool betref.

 

Dit bring ons uiteindelik uit by die meesterverhaal van die Westerse Christendom en die verhouding tussen die meesterverhaal en die Bybel.

 

  • Die meesterverhaal van die Westerse Christendom

 

Met die meesterverhaal van die Westerse Christendom bedoel ek die verlossingsverhaal wat Christene graag voorhou as die kernboodskap van die Bybel. Dit word soms saamgevat met die woorde sondeval–verlossing–eindoordeel (vgl Kennedy 2006:ix–x). Volgens hierdie siening staan alle mense skuldig voor die Drie-eenheid en kan hulle nie eendag deel hê aan die hemelse ryk as hulle nie aanvaar dat Jesus namens hulle onder God die Vader se toorn kom sterf het nie. Hierdie verhaal neem die trekke aan van ’n ideologie omdat dit voorgee dat net Christene presies weet wat in die verlede gebeur het en presies weet hoe die geskiedenis gaan afloop. Daar was ’n sondeval in die verlede en daar sal ’n dag van afrekening kom — en wee die mense wat nie in die verhaal geglo het nie.

 

Alhoewel Philip Kennedy (2006) die meesterverhaal met drie woorde opgesom, verkies ek van die meesterverhaal van die Christelike godsdiens te praat. Hierdie meesterverhaal het vyf hoofmomente wat soos volg deur middel van ’n diagram voorgestel kan word:

Die vyf hoofmomente van die Christelike meesterverhaal

(klokgewys te lees)

 

Ek het in ’n vroeëre Midrand-lesing met die titel “Wat kom in die plek van die staatsreligie van die Romeinse ryk, oftewel — kan ons ’n nuwe singewende verhaal ontwikkel?” (Spangenberg 2011) hierdie diagram bespreek daarom gaan ek nie weer uitvoerig daarop in nie. Ek bespreek net kortliks elkeen van die hoofmomente.

 

Die meesterverhaal begin met die kernwaarheid dat die Drie-eenheid die ganse kosmos gemaak het (pentagram 1: skepping). Maar hierdie kosmos is nie die huidige een nie. Dis die kosmos soos antieke mense dit verstaan het, die bekende drieverdiepingheelal. In hierdie kosmos is die aarde ’n baie belangrike skeppingswerk. Dis immers die woonplek vir mense — die kroon van die skepping. Alles wat geskep is, is geskep met die oog op die mens se bestaan en voortbestaan. Alles was geskep is, was aanvanklik perfek, mooi en sonder enige gebrek, maar met die intrede van die duiwel, en die verleiding van die vrou, het die prentjie totaal verander. Die volmaakte skepping verander binne ’n oogwink in ’n onvolmaakte skepping. Die vrou oortree die verbod om van die boom van kennis van goed en kwaad te eet en gee ook aan haar man daarvan. Só word ook Adam ’n ongehoorsame inwoner van die tuin van Eden.

 

Dit bring ons by die tweede hoofmoment van die meesterverhaal, naamlik die sondeval (pentagram 2: sondeval). Die sondeval versteur nie net Adam en Eva se verhouding met God nie, maar hul ganse nageslag. Elke kind wat hierna gebore is, is besmet met die erfsonde. Hulle word “in sonde ontvang en gebore en leef onder God se toorn.” Die sondeval lei voorts daartoe dat alle mense wat daarna gebore word, moet sterf. Die dood word beskou as die resultaat van Adam en Eva se ongehoorsaamheid.

 

Maar daar eindig die verhaal egter nie. Jesus Christus se kruisdood en opstanding (pentagram 3: Jesus Christus & verlossing) reken af met die sonde en die dood. Jesus dra met sy kruisdood die straf wat alle mense toekom. Hý sterf namens álle mense en in hulle plek onder God die Vader se toorn. Jesus versoen mense weer met God en herstel sodoende die breuk wat tussen God die Vader en die mensdom ontstaan het. Maar meer nog, Hy oorwin die dood deurdat Hy uit die graf opstaan. Die opstanding van Jesus Christus word voorgehou as die eerste teken van die herstelde skepping (pentagram 4: opstanding & hemelvaart).

 

Maar voor ons by daardie hoofmoment kom, is dit noodsaaklik om vir ’n oomblik stil te staan by die leerstelling dat Jesus waarlik God en waarlik mens moes wees om as verlosser te kan optree. In Sondag 5 (vrae en antwoorde 12–19) van die Heidelbergse Kategismus beklemtoon die opstellers dat nie enige persoon namens alle mense aan die kruis kon sterf nie. Dáárdie persoon moes ware God en ware mens wees. Hy moes nie deel hê aan die erfsonde en die erfsmet nie, maar moes tog ’n mens soos alle ander mense wees. Jesus Christus is deur die Heilige Gees in ’n maagd verwek sodat Hy volledig mens kon wees — uitgesonder natuurlik die sonde! Hy moes ook goddelik wees, want anders sou Hy nie die dood kon oorwin nie.

 

Wat ons in ag moet neem, is dat die mense van daardie tyd geglo het dat vroue slegs maar as houers optree vir die “saadbabatjie” wat mans in hulle inplant. Hulle het nie geweet dat vroue ook bydra tot die verwekking van kinders nie. Hierdie oortuiging is eers uitgedaag toe ontdek is dat vroue eierselle het wat deur mans se sperms bevrug moet word. Dit was hierdie ontdekking wat daartoe gelei het dat die Katolieke Kerk Maria ook skielik as sondeloos verklaar het.

 

Aangesien die Heilige Gees vir Maria ’n “saadbabatjie” gegee het, is hierdie kind nie met die erfsonde besmet nie. Hy word dus nie “in sonde ontvang en gebore” soos die res van die mensdom nie. Hy is dus sondeloos! Hy kon as die ware middelaar tussen God en die mens optree; die straf vir almal se sondes (erfsonde én werklike sondes) dra, en uiteindelik die dood oorwin. Jesus keer dus die gevolge van die sondeval om en herstel sodoende die skepping tot sy oorspronklike toestand — ’n skepping waar dood afwesig is en ongekende harmonie en vrede heers.

 

Kom ons by die opstanding (pentagram 4: opstanding & hemelvaart) dan verkondig hierdie gebeurtenis: “God se somer kom” (Theron 1984:32–33). Die skepping sal egter eers finaal herstel word wanneer Jesus Christus na hierdie aarde terugkeer (pentagram 5: wederkoms & eindoordeel) daarom sing Afrikaanssprekende Christene graag die lied “Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry …” (Lied 602 in die Liedboek van die Kerk). Wanneer Jesus Christus terugkeer, sal God hom as regter aanstel om alle mense te oordeel. Diegene wat nie Jesus Christus en sy verlossing aanvaar het nie, sal die ewige straf in die hel tegemoet gaan. Diegene wat egter die verlossing aanvaar het, sal ’n wonderlike toekoms tegemoet gaan. Hulle sal die nuwe Jerusalem bewoon wat vanuit die hemel na die nuwe aarde sal neerdaal.

 

  • Die Bybel en die meesterverhaal

 

Die meesterverhaal van die Westerse Christendom staan natuurlik nie só in die Bybel nie. Die verhaal berus op interpretasies van Bybelgedeeltes. Soos die Christelike meesterverhaal met verloop van tyd ontwikkel het, só is van die Bybelboeke ook daarby aangepas. Neem as voorbeeld 1 Johannes 5:7 “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.” Hierdie teks wat as dié bewysteks vir die Drie-eenheid beskou is, kom nie in van die oudste Griekse manuskripte van die Johannesbrief voor nie. Dit kom wel in ’n latere weergawe van die Latynse vertaling voor. Desiderius Erasmus (1469–1536) het aanvanklik die teks weggelaat in sy eerste weergawe van die Griekse Nuwe Testament, maar sommige kerkleiers het by hom aangedring om die teks in herdrukke op te neem.  Erasmus het hom bereid verklaar om dit te doen indien iemand hom ’n ou Griekse manuskrip bring wat dit bevat. Nodeloos om te sê dat iemand sodanige teks wel geskep het op grond van ’n Latynse vertaling en Erasmus het dit teen sy sin en beterwete in die derde uitgawe van sy Griekse Nuwe Testament (1522) weergegee (Thierry 1982:43–44, 87).

 

Maar wat mense nie altyd besef nie, is dat die rangskikking van die Bybelboeke ook verband hou met die meesterverhaal. Om die waarheid te sê, dit weerspieël dieselfde patroon. Dit begin met die skepping en die sondeval (Genesis). Daarna volg die voorspellings van die koms van die verlosser (die profeteboeke), die geboorte en lewe van die verlosser self (die evangelies) en die uiteindelike wederkoms en eindoordeel (die boek Openbaring). Ons kan dit soos volg voorstel deur middel van ’n diagram voorstel:

sakie s Die Nuwe Hervorming 001
Die Bybelboeke en die meesterverhaal

Die basislyn in die diagram gee die Bybelboeke weer (voorgestel deur middel van groepering van boeke). En die stippellyne met pyle, stel die meesterverhaal voor. Die kritiese Bybelwetenskap het die uitwys van hierdie patroon in die Bybel egter bevraagteken, maar daar het in die sewentigerjare van die vorige eeu ’n benadering in die VSA ontstaan wat bekend staan as die “kanoniese benadering” tot die lees en interpretasie van die Bybel. Hierdie metode is egter ’n verkapte manier om die Bybelboeke aan die hand van die meesterverhaal te lees (Spangenberg 2012:410–418).

 

  1. Die Nuwe Hervorming en Genesis 13

Daar was vir etlike eeue onkrities aanvaar dat Moses die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf het. Die eerste vyf boeke is daarom in Martin Luther se Duitse vertaling weergegee as: Die eerste boek van Moses genaamd Genesis; die tweede boek van Moses genaamd Eksodus, die derde boek van Moses genaamd Levitikus, die vierde boek van Moses genaamd Numeri, en die vyfde boek van Moses genaamd Deuteronomium. Maar die siening dat Moses die skrywer is, is deur navorsing as ongegrond bewys (Deist 1976, Houtman 1980). Hieroor kan daar nie meer gekibbel word nie. Verder is dit ’n uitgemaakte saak dat gewone mense Genesis 1–3 geskryf het. Die inligting wat die hoofstukke bevat, is nie op een of ander manier deur ’n goddelike ingrype aan Joodse skrywers meegedeel nie. Genesis 1–3 maak deel uit van ou Israel se literatuurskat en dit moet as sodanig gelees en bestudeer word. Hierdie literatuur is verder ingebed in die groter literatuurskat van die ou Nabye Ooste en daarom is dit raadsaam om kennis te neem van ander skeppingsverhale wat in die ou Nabye Ooste in omloop was en moontlik ’n invloed op hierdie hoofstukke kon gehad het. ’n Vergelykende studie bring altyd verrassende insigte na vore en herinner lesers daaraan dat die literatuur wat hulle lees vanuit ’n ander kulturele omgewing en wêreld kom.

 

’n Volgende feit wat vasstaan, is dat daar twee afsonderlike verhale in Genesis 1–3 is. Hierdie feit is al in die agtiende eeu deur ’n Franse medikus met die naam van Jean Astruc (1684–1766) uitgewys. Hy het daarop gewys dat Moses(!) van verskillende bronne gebruik gemaak het om die Pentateug te skryf. Hy het tot hierdie gevolgtrekking gekom op grond van die verskillende benamings wat vir God gebruik word (Deist 1976:28). Latere navorsing het daartoe gelei dat Ou-Testamentici beklemtoon het dat Moses nie die skrywer van die Pentateug was nie en dat die twee skeppingsverhale aan twee aparte bronne toegeskryf kan word. Hierdie bronne kom uit verskillende periodes in Israel se geskiedenis. Die twee skeppingsverhale word respektiewelik aan die P- en die J-bron toegeskryf. Volgens ouer navorsers dateer die J-bron uit die tyd van Koning Dawid (1000–950 vC), en die P-bron uit die tyd van die Babiloniese ballingskap (586–539 vC). Tans is daar navorsers wat die J-bron as ’n hersinskim van ouer navorsers beskou terwyl ander dit weer saam met die P-bron ná die Babiloniese ballingskap dateer. Alhoewel sommige navorsers verkies om liefs van ’n skeppingsverhaal (Gen. 1) en ’n tuinverhaal (Gen. 2–3) te praat, is hulle dit eens dat ons wel hier met twee aparte verhale te doen het.

 

Die volgende gegewens het tot die onderskeiding van die twee verhale gelei: (1) Daar is ’n duidelike breuklyn in Genesis 2:4. Die eerste gedeelte van die vers sluit met die woorde: “Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is” (Gen. 2:4a) terwyl die tweede gedeelte met die volgende woorde begin: “Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het …” (Gen. 2:4b). Dit behoort lesers op te val dat die woorde “die hemel en die aarde” in die tweede gedeelte van die vers omgeruil is en lees “die aarde en die hemel”. (2) Die eerste perikoop vertel van ’n skepping in sewe dae, of liewer ’n skepping in ses dae en ’n rusdag wat daarop gevolg het. In die tweede perikoop speel dae geen rol nie. (3) Die name van die godkarakters verskil. In Genesis 1:1–2:4a is dit slegs “God” (ɛlōhîm) en Genesis 2:4b–3:24 is dit die “HERE God” (Jahweh ɛlōhîm). (4) Die eerste verhaal wek die indruk van ’n chaotiese watermassa aan die begin van die skepping (Gen. 1:1–2), terwyl die tweede verhaal te kenne gee dat daar sprake is van ’n droë landskap aan die begin van die skepping (Gen. 2:4b–5). (5) Die volgorde van die objekte wat gemaak is, verskil aansienlik. In die eerste verhaal is dit aarde, plante, voëls, visse, landdiere en die mens. In die tweede verhaal is dit die man, die tuin, die diere en die vrou. Die onderskeid tussen man en vrou staan in die tweede verhaal op die voorgrond (Houtman 1980:213–215).

 

Nog ’n feit wat vasstaan, is dat Genesis 1–3 ’n ander verstaan van die heelal aan lesers kommunikeer as die een waarmee hulle daagliks saamleef. Ons kry in hierdie hoofstukke met die antieke ou Nabye Oosterse drieverdiepingheelal te doen. Dit kom weliswaar duideliker na vore in Genesis 1:1–2:4a as in Genesis 2:4b–3:24. In Genesis 1:6–9 lees ons van die skeiding van die water bo die hemelgewelf van die water onder die hemelgewelf. Die water onder die hemel word dan afgeblokkeer sodat die droë grond sigbaar kon word. In Genesis 1:26–28 lees ons van die skepping van die mens wat moet heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, en die diere wat op die aarde voorkom. Hierdie drieverdiepingheelal word op verskeie ander plekke in die Ou en selfs Nuwe Testament vermeld. Die skrywers van hierdie verhale het aanvaar dat hulle in ’n drieverdiepingheelal woon. Ons weet dat ons deel is van ’n uitdyende heelal. Wie nie met die verskille rekening hou nie, neem die Bybel maklik op sigwaarde en harmonieer dit maklik met die wêreld waarin ons leef. Lesers van die Ou Testament moet dus ’n historiese bewussyn ontwikkel en moet gedurigdeur die andersheid van die wêreld waarin die Bybelskrywers geleef het, in ag neem. George Pattison (1998: 35–36) maak hieroor ’n baie gevatte opmerking wanneer hy sê:

 

I cannot collapse the distance separating the past from the present. The first and the twenty-first centuries are divided by precisely twenty centuries, twenty centuries of continual and colossal change. The person who speaks in the one cannot be heard by the person who inhabits the other without the help of an interpreter. The past is not another world, but it is another country.

 

Wanneer lesers hierdie verhale lees, is dit belangrik om sekerheid te kry oor watter soort verhaal of verhale voor ’n mens lê. Een van die belangrikste vrae wat lesers hulleself moet afvra wanneer hulle ’n stuk literatuur lees, is nie “Hoe moet ek verstaan?” nie, maar “Wat is dit wat ek moet verstaan?” Hierdie stelling was een van die belangrikste stellings wat Ferdinand Deist aan sy studente gekommunikeer het. Nie al die verhale in die Ou Testament, het hy beklemtoon, kan as “geskiedskrywing” deurgaan nie. Lesers moet sensitief wees vir die soort literatuur wat voor hulle lê en wat hulle lees en bestudeer. Om Genesis 1:1–2:4a en Genesis 2:4b–3:24 tot ’n bepaalde literatuursoort te klassifiseer, is egter nie so maklik nie. Hoewel meeste navorsers tans erken dat dit nie as “geskiedskrywing” geklassifiseer kan word nie, bestaan daar nie konsensus oor die genre nie. Om te volstaan met die beskrywing dat die twee verhale Ou Nabye Oosterse skeppingsverhale is, is nie genoegsaam nie. Verhale kan in ’n verskeidenheid vorme verpak word en dit geld ook van die skeppingsverhale.

 

Verskeie navorsers het die etiologiese elemente in die skeppingsverhale al uitgewys. Wat hiermee bedoel word, is dat beide verhale die oorsprong van bepaalde kulturele en sosiale gebruike probeer verduidelik. Neem as voorbeeld die slot van die eerste skeppingsverhaal (Gen. 2:1–4a):

 

So is dan voltooi die hemel en die aarde met al hul bybehore.

God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy maak het,

en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy maak het.

En God het die sewende dag geseën en dit geheilig,

omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskep het

deur dit te maak.

 

Dit is so duidelik soos daglig dat hierdie skeppingsverhaal die oorsprong van die Sabbat met die skepping in verband wil bring. Die Sabbat, so word lesers meegedeel, is so oud soos die berge, oftewel so oud soos die skepping self! Let ’n mens op die struktuur van die verhaal, staan die sewende dag duidelik uit. Die ses skeppingsdae word in twee kategorieë van drie dae verdeel. Die eerste kategorie beskryf die maak van bepaalde “ruimtes”, terwyl die tweede kategorie die maak van die “inwoners” van daardie ruimtes beskryf:

 

DAG RUIMTES DAG “INWONERS”
Dag 1 Lig Dag 4 Son, maan en sterre
Dag 2 Hemel en see Dag 5 Voëls en visse
Dag 3aDag 3b Droë grondLandplante Dag 6aDag 6b DiereDie mens
Dag 7Op hierdie dag het God gerus van die werk wat Hy die vorige dae verrig het.

 

In die proses om die oorsprong van die Sabbat te verduidelik, kom uiteindelik ook die oorsprong van die hemelliggame, nag en dag, asook die natuur met sy land, see, plante, diere en mense aan die orde. Alles is ordelik en reg geskep. Steven McKenzie (2005:31) klassifiseer die eerste skeppingsverhaal as ’n etiologiese skeppingsverhaal, terwyl John Rogerson dit as ’n Israelitiese mite sien. Hy definieer mite soos volg (Rogerson 1992:481): “Myths are sacred stories set in a time different from that of the narrator(s), expressing an understanding of reality that justifies some of the institutions of the society of the narrator(s).” Hierdie definisie sluit nou aan by die vorige een (etiologiese skeppingsverhaal). Dit gaan in beide definisies om ’n verklaring vir en regverdiging van instellings en gebruike uit die tyd van die skrywer, maar etiologie is nie ’n literêre kategorie nie. Dis hoogtens ’n beskrywing van ’n bepaalde perspektief in ’n vertelling, daarom is die benaming “mite” die beter een.

 

Genesis 1 is heel waarskynlik in die Babiloniese ballingskap geskryf om die invoering van die Sabbatviering in daardie tyd te legitimeer. Hierdie skeppingsverhaal polemiseer moontlik ook teen die Babiloniese godsdiens met sy verering van hemelliggame, maar dit is nie die hoofmotief van die verhaal nie.

 

Na my mening is Genesis 2:4b–3:24 ook ’n Israelitiese mite. In hierdie geval, val die fokus nie op ’n godsdienstige instelling nie, maar op die mens. Om slegs enkele sake te noem: (1) mans is verantwoordelik vir landbou-aktiwiteit (Gen. 2:5); (2) daar kan ’n liefdesband tussen ’n man en ’n vrou ontstaan (Gen. 2:22–25); (3) daar is ’n neiging by mense om hulle self te verontskuldig wanneer hulle met verkeerde handelinge gekonfronteer word (Gen. 3:12–13); (4) die mens koester ’n vrees vir slange (Gen. 3:15); (5) geboorte gaan met pyn gepaard (Gen. 3:16); (6) mense moet hard werk om ’n bestaan te maak (Gen. 3:17). Die skrywer wat waarskynlik gedurende die tyd van Dawid en Salomo geleef het, sit sy mensbeskouing hier op tafel met die doel om mense se strewe na kundigheid en wysheid te onderstreep, maar hulle ook te waarsku teen oordrewe oormoed: mense beskik nie oor ewige lewe nie.

 

Genesis 2:4b–3:24 beskryf nie die oorsprong van sonde en dood soos konserwatiewe teoloë meen nie. Die Hebreeuse woord vir “sonde” kom nêrens in die verhaal voor nie, en die sin “want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer” (Gen. 3:19b), kommunikeer bloot dat Adam van die begin af sterflik was. Die motivering moet in samehang met die “boom van lewe” gelees en verstaan word. Adam en Eva kon van die vrugte van die “boom van lewe” geëet en sodoende oor ewige lewe beskik het, maar die slang het hulle die vrug van die boom van kennis aangebied. Aan die einde van die verhaal beskik Adam en Eva dus oor “goddelike kennis” maar nie oor “goddelike lewe” nie. Die slang is nie in hierdie verhaal ’n bose karakter nie. Allermins! Hy is ’n slim karakter, want hy help Adam en Eva om wysheid te bekom.

 

Met hierdie kort mededeling van die navorsingsresultate van die kritiese bestudering van Genesis 1–3, wil ek slegs illustreer hoedat diegene wat hulle met die Nuwe Hervorming identifiseer, anders met die Bybel en die gegewens daarin omgaan. Hulle laat hulle nie meer deur kerklike leerstellings en die meesterverhaal voorskryf nie. Dat dit konsekwensies inhou vir hoe ’n mens oor God en Jesus nadink, staan soos ’n paal bo water, maar daarvan kan ’n mens nie wegskram nie.

 

  1. Waarom nog die Bybel lees?

Daar is mense wat hulle tuisvoel binne die Nuwe Hervorming Netwerk maar wat reken dat ons gerus maar die Bybel en die verhale daarin, links kan laat lê. Volgens hulle oordeel het hierdie verhale, gedigte, spreuke en profetiese uitsprake niks meer vir ons te sê nie. Dis soos om nog met potlode (of met ’n lei en griffel) te skryf terwyl ons vandag rekenaars en tablette het waarmee ons ons skryfwerk kan doen. Laasgenoemde mag wel waar wees, maar rekenaars en tablette is nie so deel van die Westerse kultuur en samelewing soos die Bybel nie. Niemand sal wil beweer dat ’n mens nie die Westerse samelewing kan verstaan as jy nie ook iets van mense se gebruik van rekenaar verstaan nie. Rekenaars en tablette kom dwarsoor die wêreld voor en is nie uniek aan die Westerse samelewing nie. Daarteenoor is die Bybel en die verhale daarin, verweef met die Westerse geskiedenis en kultuur. Neem die volgende gedig van Martjie Bosman (2002:63) as voorbeeld:

 

DIE GROEN VINGER VAN GOD

die groen vinger van God beweeg

oor die kors van die bruin klont Aarde

druk ’n skeurdal in die vlak mere riviere

trek ’n bergreeks op uit die klei

teken fynbos ligweg rooistompie en heide

die bont byvreter teen die nuwe rivierwal

die groot ou gryse die lawwe bobbejaan goed

les bes die regoploper mens baie goed

die hand van God bou ’n muur

later ook ’n brug klouter die mens daaroor

trap die blom skiet die bok brand die boom

die vinger van God skryf teen die muur

 

Hierdie gedig bevat heelwat motiewe uit die Bybel en die digter vermeng dit met ons moderne verstaan van die heelal en van evolusie om sodoende iets oor die ekologiese krisis te kommunikeer. Maar diegene wat nie bekend is met die eerste skeppingsverhaal in die Bybel nie, sal moeilik die woorde “goed” en “baie goed” na die skepping van die “lawwe bobbejaan” en die “regoploper mens” verstaan. Meer nog, diegene wat nie bekend is met die verhaal van die feesmaal van koning Belsassar in Daniël 5 nie, sal moeilik die slotreël wat sinspeel op ’n komende oordeel, verstaan.