“Die ‘Anderkant’ verteenwoordig ‘n geleidelike vervreemding van die Christelike heilsboodskap soos dit in kerke en op grond van die Bybel verkonding word.  Ek vra baie vrae oor die inhoud en morele grondslag van die Bybel.  Dit is ‘n pad van ontnugtering wat ek saam met baie mense geloop het – veral ontnugtering oor kerke se eenogigheid.”

So praat Martin oor sekere kernmomente van sy geloofsreis. Uit sy perspektief as “dubbele” sendelingskind, geskiedkundige en opvoedkundige belig hy die krake wat hy sedert sy jeug waarneem in die sogenaamde morele basis van die Christelike heilsboodskap. Dit is ‘n nugtere reis waarby ‘n stewige komponent van die gehoor aansluiting kon vind.

Reeds as jong aannemeling in die Lutherse Kerk het hy ‘n gemis beleef aan simboliek in die Lutherse vertolking van die Bybel. Hy vergelyk die Roomse interpretasie van die nagmaalsbrood en wyn met dié van die Lutherse en Gerefermeerde Kerke, waar die Roomse dit as werklik die liggaam en bloed van Christus beskou, teenoor die Lutheriane wat glo dat dit tydens gebruik verander in die liggaam en bloed van Christus, terwyl die Gereformeerdes hulle eerer verlaat op tekens. Wat is reg? Waarom sodanige verwarring in die ‘Woord van God’? Hy noem ander voorbeelde van ongerymdheid: Was die taalverwarring by Babel ‘n straf of ‘n seën? Het God Farao se hart verhard en was hy dus die oorsaak van die kindermoord? Was die ontstellende 19 uur lange kraamstryd van sy eersteling se geboorte ‘n liefdevolle God se bedoeling? Hy verwys na die sewe volumes van die “Smut’s Papers” en die kerke se verdediging van apartheid.

Algaande het sy besef gegroei: Die speelveld vir gelowiges is ongelyk, die interpretasies van Bybelse verhale naïef, die God/Gode van die Ou Testament is beklee met menslike emosies van stryd en oorwinning, van jaloesie en wraakoptredes en die historiese gegewens van die Nuwe Testament is eers 40 tot 140 jaar later neergepen (en dikwels in direkte rede herroep)! Die kindermoord in Bethlehem het geen aantekening in geskiedkundige geskrifte uit daardie tyd geregverdig nie, ‘n volkstelling soos beskryf was hoogs onwaarskynlik volgens die gebruike en die kruisverhale teenstrydig met mekaar.

Mense sê God is liefde; die Bybel sê God vereis slaafse gehoorsaamheid, die vrou is onderdanig aan die man, homoseksueles is sy eie skepsels wat hy verwerp, en doen verder vele maniere aan die hand hoe om slawe te ‘hanteer’. Dit is tog duidelik menslike sosiale waardes, gebonde aan ‘n spesifieke tydvak in die verre verlede.

Vir die kerke wil Martin eerder ‘n rasionele as ‘n emosionele greep op die waarheid propageer. Mense se woorde kan nie tot goddelike openbaring gemaak word nie. Hy doen ‘n beroep op mense wat nog die letterlike vertolkings van die ou verhale slaafs wil gehoorsaam: Hou op om namens God te wil praat.

Glo Martin nog aan ‘n persoonlike God? Nee, reken hy, want dan moet God ook pa staan vir al die lelike dinge . Sy raad ter afsluiting was: Leer julle kinders alternatiewe denke. Koester en respekteer die lewe en ons aarde.  Ten slotte haal hy Elizabeth Kübler-Ross aan:

“Something about the meaning of life changes when you realise… that it won’t last forever.”

Kopieë van Martin se boek, “Die Anderkant, ‘n Geloofsreis”, is gul ontvang.