Midrandbyeenkoms: Sondag 12 Junie 2016: Dr. Titus, tans die uitvoerende direkteur (Kultuur) van die ATKV, het die versweë leefwereld van bruin Suid-Afrikaners geskets.

Ter inleiding noem hy: daar is 3.4  miljoen bruin mense in die land wat Afrikaans as huistaal het, teenoor 2.7 miljoen blankes en 0.6 miljoen swart mense.  In die Wes-Kaap voel die bruinmense hulle hoofsaaklik tuis by die DA. Dr Titus wonder egter of die DA, wat dalk ‘n “kom wees soos ons” benadering het, die bruinmense se “slaai” benadering sal bevredig. Dr Titus verduidelik in ‘n slaai bly die ertjies, tamaties ensovoorts herkenbaar, maar in ‘n sop benadering word alles fyn gemeng en gaan afsonderlike identiteit verlore.

Die ANC se benadering is: die bruinmense is swartmense en hulle behoort by die ANC weens die verontregting van die verlede. Maar terselfdertyd maak die ANC dit baie duidelik in sy beleidsdokumente dat  “Blacks in general, but Africans in particular” die voordele van swart ekonomiese bemagtiging moet geniet. ‘n Nuwe hiërargie van pyn word geskep:  “ Jy het ‘n arm verloor maar ek het ‘n ma verloor, dus is ek meer benadeel as jy”. Hierdie houding, soos gemanifesteer in die indiensnemingspatroon van die owerheid veroorsaak dat nóg die regering, nóg die party (ANC) vertrou kan word nie.

Hermann Giliomee skryf in Rapport oor die skeidslyn wat in die vyftigs tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes ontstaan het. Giliomee vertel dat hy polities gevorm is deur Piet Cillié maar glo nie dat Cillié die skeidslyn eintlik wou afbreek nie. Dr Titus vra dan: Wat kan die geskiedenis ons leer van wat in ons universiteite aan die gang is? Hy vertel dan die verhaal van die wit skoolhoof wat die bruin onderwyser vra om hom van die bruin gemeenskap se geskiedenis en kultuur te vertel, waarop die onderwyser antwoord “ my geskiedenis is jou geskiedenis, my tradisies is jou tradisies, en dit sal my nie verbaas nie as sommige van my voorvaders ook jou voorvaders is nie.” Dr Titus sê dis jammer dat daar min van die Koi en die San se tradisies oorgebly het. In die verlede was almal skaam hieroor, amper soos Randall Wicombe se broer wat in die kas moes wegkruip wanneer die aanstaande blanke skoonfamilie kom kuier het. Maar nou is dit anders. Ons hoef nie skaam te wees oor ons afkoms as kinders van die Koi en San, die Muslim en slawe nie.

Dr Titus meld dat Afrikaans duidelik ‘n kreoolse (gemengde)  taal is, minder verwant aan Nederlands. Bruinmense het nie dieselfde geskiedenis en herkoms as Afrikaners nie: ons is twee groepe mense “divided by a common language”. Giliomee se stelling dat bruinmense na die Universiteit van Stellenbosch getrek moet word en in Afrikaans onderig moet word, word gekritiseer weens die moontlike skade wat dit aan US se internasionale rangorde kan doen. Dit blyk in elk geval dat die bruin studente van US Engels as onderrigtaal verkies.

Dr Titus voel erg beledig deur Piet Croucamp se melding van bruinmense as “die kinders van die lammervangers en die dopstelsel”. Die voorstoot van kleurlinge deur blankes as ‘n menseskild, asof hulle geen gevoelens het nie, is laakbaar. Croucamp praat van Afrikaans as  kombuistaal wat deur die bruinmense gepraat word. Croucamp verwys ook na Russell Botman as die “wederstrewige jolly hotnot”.  Dr Titus vra “how low can you go” want in die bruin gemeenskap is “hotnot” gelykstaande aan die “K” woord.

Die naelstring lesings van dr. Willa Boezak vertel dat jou “roots” is waar jou naelstring begrawe word; dus waar jy gebore is. Sarah Baartman is na vele geredekawel herbegrawe daar waar haar naelstring begrawe is. Deesdae is ‘n nuwe perspektief aan die ontwikkel. Daar word nou gevra, wie was Herrie die strandloper? Wat was sy taalvaardighede? Hoe het hy onderhandel? En vele ander soos David Stuurman.

Omdat verskeie Nederlands skepe selfs lank voor van Riebeeck se koms by die Kaap aangedoen het, was dit vir die Koi-mense noodsaaklik om met die seevaarders te kon kommunikeer, soos met.  Kaptein Leendert Jansen van die Haarlem wat in 1647 aan die Kaap gestrand het, skyf in sy dagboek van sy positiewe ervaringe in die jaar wat hulle saam met die Koi mense deurgebring het. Dit was een van die redes hoekom die VOIC Van Riebeeck gestuur het om die Nederlandse vesting daar te stig. Voor dit was die Koi’s as barbare ge-ag omdat De Almeida van Portugal deur hulle doodgemaak is oor ‘n geskil oor water. Die woordelys wat deur van Christo van Rensburg oor dié tydperk opgestel het, meld Koi name wat vandag nog gebruik word, soos Boegoe, Kanna en Dagga. Altesaam 36 Koi woorde was reeds opgeteken teen 1626.

Dit is ons almal se verantwoordelikheid om die diversiteit van Afrikaans te bevorder, nie net onder huistaalsprekers nie maar ook onder tweede- en derde taalsprekers. By die ATKV vind daar  spelkompetiesies plaas wat baie interesanthede uitbring. Twee jaar gelede het ‘n swart meisie net-net tweede geëindig. Sy het egter eers drie jaar te vore uit Zimbabwe geïmmigreer.

Dr. Titus vertel van die gesprek tussen Mnr. Mandela en Richard Dudley. Die doelwit was om Mnr Dudley, wat deur Mnr Mandela aangesien is as ‘n bruin leier, te oorreed om die bruin stem na die ANC te swaai. Mnr Dudley het toe die volgende gesê:

“… I am not a coloured person. … other people have classified me as that but I am not a coloured person. I am not a coloured leader. … [I have] for the past fifty years been associated with a political movement that does not accept these classifications, and has consistently fought to unify the people in this country and to establish a South Africa where these things are irrelevant. … I will never want people to vote as coloured persons. I will ask them not to give their support to a political party like the ANC”

Dr. Titus het het dit ter afsluiting gestel dat dit belangrik is om trots te wees op jou herkoms, op wie en wat jy is en op jou ouers. Die doel is nie om in te gee vir ‘n aparte stelsel nie. Jy mag maar jou ertjie wees; jy mag jou eie identiteit hê. Waar ons geskei is in die verlede oor ons verskille, is nou die geleentheid om ons verskille te gebruik as deel van die eenheid van die land. Bruin mense moet besef  “ons is ‘n klein onderdeel in hierdie magtige masjien. Belangrik miskien, maar steeds ‘n klein onderdeel”.