Midrandpraatjie Sondag 17 Januarie 2016

Pieter het in hierdie aanbieding die (verrassende?) stelling gemaak dat daar geen argeologiese getuienis van die tyd van Jesus is nie. Hy praat dus eerder oor die argeologie van die wêreld van Jesus.

Hoe weet ons dan of Jesus bestaan het? Is die nuus oor Jesus die Redder ‘n leuen wat versprei is deur ‘n onderdrukte groep Jode wat na ‘n Verlosser gesmag het, of is dit kwaadwillige sameswering om te wil voorgee dat Jesus en dus die Messias nooit bestaan het nie?

Hy verduidelik: Geskiedenis as wetenskap is uiters kompleks. Die geskiedenis berus op die data. Maar data is geen getuienis nie. Data ‘word’ getuienis deur interpretasie en interpretasie geskied altyd binne raamwerke van tyd, inligting en oortuigings. Geskiedenis het dus altyd ‘n objektiewe en ‘n subjektiewe of geloofskant. Met groeiende kennis en interpretasie is data, veral uit die antieke tyd, dus immer ‘n verskuiwende baken. Die historiese Jesus as Messias is nie met ‘data’ bewysbaar nie. Maar, om hierdie aspekte te ontken is ‘n miskenning van die subjektiewe kant van getuienis.

Pieter reken dus t.o.v. hierdie onderwerp sal dit die grootste samesweringsteorie ooit wees om te beweer daar was nooit ‘n Jesus nie. Terselfdertyd kan Christen Apologete ook nie die vroeë Christelike geskiedenis met argeologie bewys nie. Trouens, die Kerk in die vierde eeu het die Nuwe Testament uit die literêre tradisie saamgestel.

Pieter het voortgegaan deur op sy gewone passievolle manier vyf besondere vondse, wat wel uit die wêreld van daardie tyd dateer, bekend te stel. Vroeë vondse, hoofsaaklik deur Fransiskane en Jesuïete gevind, was spesifiek in opdrag van die vroeë Kerk na bewyse vir wonderwerke. Dit het niks noemenswaardig opgelewer nie. Latere opgrawings, in opdrag van die Israeliese regering, het veel meer opgelewer:

(i) Die Skelet van Jehohanan ben Hagqal in die gebruiklike kneukelkissie, met sy hakskeenbeen wat met ‘n spyker deurboor is, in ‘n museum in Jerusalem (saam met die Pilatus Inskripsie waarmee Pilatus op klip Siberius loof vir sy bevordering van etiek in die Senaat deur die magte en dienstydperke van uitvoerende lede in te perk.) Jehohanan is ongeveer in 50 nC gekruisig.

(ii) Die See van Galilea Boot (The Jesus Boat) uit sederhout en eik, is in 1986 deur twee vissermanne van Ginosar gevind en deur is m.b.v. kundige prosesse herwin. C14 datering het bepaal dat die boot van die jare 50-80 nC is.

(iii) Romeinse en Bizantynse huise se fondasies is in 1960 in die Palestynse platteland gevind, asook in die Joodse deel van Jerusalem, onder andere ‘n huis van ‘n hoëpriester en ‘n handelaar, Katros.

(iv) Klip waterhouers vir reinheidswater uit die Herodiaanse tyd: Die reinheidskultuur was in dié tyd aan die orde van die dag. (Reinheid en onreinheid was beskou as twee kragte waartussen menslike lewe gehandhaaf moes word.) Klip was rein omdat dit deur God gemaak is en sulke houers het water rein gehou vir menslike reinigingsrites. Onreinheid is hoofsaaklik veroorsaak deur die aanraking van onreine dinge, soos velsiektes, bloed en die dooies. Daarom was vroue tydens menstruasie as besonder onrein beskou. Vir reiniging voor tempelbesoeke het die huise dikwels baddens wat uit klip was, gehad wat groot genoeg was vir totale onderdompeling.

(v) Babatha (104-132) se grot: In die Babatha argief bevat 35 briewe of dokumente, ‘n leersak en twee deurgeloopte sandale van hierdie Joodse vrou. Daaruit blyk dat sy waarskynlik die eerste vroulike ergenaam van haar tyd was wat van haar pa grond en die reg om haar wingerd nat te lei geërf het. Die dokumente dui die ingewikkelde regspad aan wat sy moes aandurf. Sy was getroud met Yeshua en was drie tale magtig; haar eie, asook Grieks en Aramees.

Belangstellendes kan gerus meer oor hierdie interessante vondse uit die wêreld van Jesus gaan oplees.