Inleiding: Elke mens is op ʼn reis êrens heen. Vir sommige is die eindbestemming die belangrikste, vir ander is die reis die avontuur. Sommige sien die lewe as ʼn struweling en as jy ʼn Boeddhis is, weet jy dat die rede daarvoor is omdat ons altyd iets wil hê. Om die struweling te ontkom is dit nodig dat ons moet ophou begeer en die 8 reëls nakom. Christene sou weer verkondig dat jy net in Jesus moet glo. Ander beskou die lewe as sinneloos en wil net eet en drink want more sterf ons. Meeste aanhangers van een of ander godsdiens of ideologie wil graag ander oortuig dat hulle siening van die werklikheid die enigste waarheid is en dat al die ander verkeerd is.

Maar, op hierdie reis wil ons ook weet wat alles beteken, hoekom dinge gebeur en hoekom ons hier is?

Ek is nie hier om julle van my siening te oortuig nie. Ek hang geen ghoeroe, of New Age Spiritualiteit, of Meester aan nie. Ek was nog nooit in Indië by ʼn Ashram of op ʼn “Retreat” nie. Ek kom in opstand teen die moderne “mistici” wat op ʼn vroeë ouderdom ʼn ontwaking ervaring gehad het en nou groot geld maak om ander te vertel wat om te doen om dieselfde ervaring te hê. Ek is ʼn doodgewone ou op reis en my avontuur wil ek aan niemand toewens nie. Al wat ek raakgeloop het, is ʼn moontlike kaart om te bepaal waar ek op die reis is.

In matriek het ek besluit om predikant te word om die “boodskap” aan kunstenaars te verkondig. Die eerste 3 maande op RAU was ek die fundamentalis en het niks verstaan wat aangaan nie. Na die April vakansie het alles in plek geval en kon ek nie “wetenskaplik” genoeg met die Bybel omgaan nie. My BD skripsie se titel was “ʼn Voorlopige Christelike ondersoek na die Afrikaanse Letterkunde sedert die Sestigers.” Die vyf jaar voltyds in die bediening was hel en toe is ek SAUK toe as Godsdiens televisie regisseur. Ek het godsdiens en ekologie programme gemaak en dit is waar my kop verder oopgegaan het. Ek het Sallie McFague ontdek veral haar “Body of God.” Later het Ken Wilber op my pad gekom dmv “Sex, Ecology, Spirituality.” Ek het in 2008 my MTh graad aan UP juis oor die waarde van AQAL vir die pastoraat verwerf. Ek werk tans as direkteur van die Oosrandse Beskermde Werkplek vir intellektueel gestremde volwassenes, waar ek AQAL probeer toepas maar met min sukses. Die probleem is dat die gestremdes op ʼn prerasionele fase funksioneer en om by hulle ego’s verby te kom, is baie moeilik.

Ek sou graag met die gesprek net een ding wil bereik, dat ons sal erken dat elke mens met hul eie reis besig is en dat dit kan en mag van mekaar verskil. Dit beteken ook nie dat die een reg en die ander verkeerd is nie. Ons moet net ruimte vir mekaar laat. In die gesprek staan ek stil by Ken Wilber se AQAL teorie, kyk na ander se navorsing oor ontwikkelingfases en na die kosmiese adres van god. Ek sal ʼn kort tydjie by mitologie stilstaan voordat ons afsluit met kort tonele uit twee verskillende flieks om iets van AQAL op ons ervaring van films toe te pas.

AQAL:

Ken Wilber, ʼn Amerikaanse integrale filosoof, het die afkorting AQAL gebruik om sy Integrale teorie mee op te som. AQAL (Wilber 2006:26) staan vir “all quadrants, all levels, all lines, all states, all types.”

In Sex, ecology, spirituality verdeel Wilber (2000a:197-198) die verstaan van die werklikheid in kwadrante met ʼn innerlike en ʼn uiterlike, ʼn enkelvoud en ʼn meervoud, wat die skone, die goeie en die waarheid verteenwoordig, kuns, moraliteit en wetenskap, of te wel, die ek, die ons en die dit/ditte.

Die kern van Wilber se integrale teorie is dat daar ontwikkeling van die menslike bewussyn en perspektiewe plaasvind, van ʼn prerasionele, na die rasionele tot die postrasionele fases. Onder die prerasionele plaas Wilber die argaïese en die magiese vlak, wat beide egosentries is; asook die mitologiese, wat op sy beurt weer etnosentries is. Op die rasionele vlak vind hy die rasionele en pluralistiese vlakke wat albei wêreldsentries is. Die postrasionele vlak of mistieke ontwikkeling wat van die integrale tot die transpersoonlike en verder strek, is Kosmosentries, wat alles insluit. (Wilber gebruik die woord Kosmos om siel en Gees saam met die res van die kosmos in te sluit).  Alle mense begin by die argaïese en vorder tot so ver hulle wil of kan. Ons moet onthou dat die ontwikkeling by elke mens plaasvind maar het en vind ook in die geskiedenis van die mensdom plaas. Die Boeddha sou byvoorbeeld op die mitologiese vlak van Wilber gefunksioneer het.

 

Voordat ons in detail na die vlakke kyk wil ek net iets oor die lyne sê. Wilber het ook verskillende ontwikkelingslyne, of –golwe, of –strome geïdentifiseer.  Volgens Reynolds (2006:206) identifiseer Wilber ʼn kognitiewe, morele, emosionele, interpersoonlike, behoefte, selfidentiteit, estetiese, psigoseksuele, spirituele en waardelyne.  Andre Marquis in The integral intake. A guide to comprehensive idiographic assessment in integral psychotherapy (2008:105, verg. Wilber 2006:60) brei dit uit en wys daarop dat elkeen van die lyne ʼn lewensvraag is en toon ook tussen hakkies aan wie op watter lyn navorsing gedoen het:

 

  • Kognitief – waarvan is ek bewus? (Piaget, Kegan, Vygotsky);
  • Self – van die dinge waarvan ek bewus is, waarmee identifiseer ek myself? (Loevinger, Cook-Greuter);
  • Waardes – van die dinge waarvan ek bewus is, wat is vir my die mees waardevolle? (Graves, Beck en Cowan);
  • Moraliteit –  van die dinge waarvan ek bewus is, wat behoort ek te doen? (Kohlberg, Gilligan);
  • Estetika – van die dinge waarvan ek bewus is, wat is vir my die mooiste? (Housen);
  • Spiritueel – van die dinge waarvan ek bewus is, wat is vir my die grondslag van my lewe? (Fowler, Tillich);
  • Behoeftes – van die dinge waarvan ek bewus is, wat het ek nodig? (Maslow);
  • Kinestesies – hoe behoort ek dit fisies te doen? (Gardner);
  • Emosioneel – van die dinge waarvan ek bewus is, hoe voel ek daaroor? (Salovey, Meyer, Solomon, Goleman);
  • Interpersoonlik – van die dinge waarvan ek bewus is, hoe behoort ek sosiaal teenoor ander op te tree? (Selman, Perry).

Die ontwikkelingsvlakke wat Wilber gebruik vorm die basis van hierdie studie en dit is:

  1. Argaïes
  2. Magies

III.    Mitologies

  1. Rasioneel
  2. Pluralisties
  3. Integraal/holisties
  4. Psigies
  5. Subtiel

VII.   Transpersoonlik

  1. Kousaal
  2. Nie-dualisties

 

Kyk ons na ander navorsers sien ons dat Jim Marion, onder invloed van Wilber, vanuit ʼn christelike perspektief twee ekstra mistieke vlakke het:

  1. Argaïese bewussyn van babas
  2. Magiese bewussyn van kinders

III.    Mitiese bewussyn van preadolessensie

  1. Rasionele bewussyn
  2. Visie-logiese bewussyn
  3. Psigiese bewussyn

VII.   Subtiele bewussyn

VIII.  Oorsaaklike bewussyn (Christus-bewussyn)

  1. Nie-dualisties (Koninkryk van God)

 

Steve McIntosh, ʼn filosoof, se vlakke gaan die argaïese vlak verby aangesien kultuur eers op die volgende vlak begin.  Sy indeling is soos volg:

  1. Stambewussyn
  2. Krygerbewussyn

III.   Tradisionele bewussyn

  1. Modernistiese bewussyn
  2. Postmoderne bewussyn
  3. Integrale bewussyn

VII.  Post-integrale bewussyn

 

Spiral Dynamics gebruik kleure as hooftitel vir die vlakke maar as subtitels gebruik hulle die volgende:

  1. Instinktiewe BEIGE vMEME (SurvivalSense)
  2. Stam PERS vMEME (KinSpirits)

III.   Egosentriese ROOI vMEME (PowerGods)

  1. Doelgerigte BLOU vMEME (TruthForce)
  2. Strategiese ORANJE vMEME (StriveDrive)
  3. Relativistiese GROEN vMEME (HumanBond)

VII.  Sistemiese GEEL vMEME (FlexFlow) Hier begin die tweede laag.

VIII.  Holistiese TURKOOIS vMEME (GlobalView)

James Fowler deel sy siening van die ontwikkeling van geloof soos volg in:

  1. Intuitief-projektiewe (magiese),
  2. Mities-letterlik

III.    Sinkretisties-konvensioneel

  1. Individuasie-refleksief
  2. Konjunktief
  3. Universelende geloof.

Higginbotham (2009:143-7) het gevind dat die self (mens) deur ses verskillende verhoudings met mites ontwikkel. Hulle het nie ʼn vroeë stadium net na geboorte nie, aangesien die babas nog nie ʼn verhouding met mites kan hê nie of waarvan ons kennis dra nie. Hulle noem die verhouding soos volg:

  1. Mities Tasbare: Die self leer in hierdie verhouding van sy identiteit in die familie, die groep of nasie en ervaar alles deur die sintuie. Die mites verduidelik hoekom dinge gebeur en ook van die kragte agter die gebeure. Indien jy goed doen sal goeie dinge met jou gebeur, indien nie sal die slegte jou oorval. Die self ervaar alles konkreet en sorg net vir die eie ek en is egosentries.
  2. Mities Letterlik: Op hierdie vlak word die self bewus daarvan dat daar agter die heilige tasbare items ʼn storie is wat vertel dat die items heilig is. Die storie word beklemtoon. Die self bestudeer die storie en voel dat dit nooit die diepte van die mite kan deurbreek nie. Siende dat die godheid die mite aan die mens gegee het, word gevoel dat die reëls van die verhaal streng nagevolg moet word. Die self is nou deel van ʼn groter groep en sorg net vir diegene wat streng volgens die letter van die wet lewe. Hulle is etnosentries.
  3. Mities Rasioneel: Hier ontdek die self dat die letterlike interpretasie van die mite nie teen rasionele ondersoeke kan staande bly nie. Die self vind dat daar agter die mites ʼn doel lê wat die fokus van hierdie vlak word. Die self besef dat sekere universele waarhede op almal betrekking het en nie net op die klein groepie nie.
  4. Mities Globaal: Wanneer die mens (self) die universaliteit van die mites besef, is die self in staat om meer perspektiewe te handhaaf en kan dan insien hoekom vroeëre vlakke dinge glo en doen. Die persoon mag op hierdie vlak wêreldgodsdienste bestudeer en ontdek dat alle mites min of meer dieselfde storie vertel.
  5. Mities Argetipe: Op hierdie vlak word die storie minder belangrik en onderliggende patrone kry die klem. Die self  (Higginbotham 2009:146) “may identify spiritual realms where beings or elements of consciousness exist. It may form relationships with these spiritual realms or beings.” Die self beweeg buite die mitiese struktuur en betree die Wesens direk. Dit word vir die mens (self) moeilik om woordelikse uitdrukking aan die ervarings te gee.  Verder, voel die mens nie net dat hulle deel van die kreatiewe proses is nie, maar ook dat hulle die kreatiewe proses word.
  6. Mities Avatar: Die finale verhouding met mites is wanneer die self nie langer in terme van argetipe konsepte dink nie (Higginbotham 2009:147): “Here the self realizes that myth is a vehicle whose purpose is not to describe something external to people (such as God, angels, ethical rules, and so on), but to stimulate internal transformation[i] by directing people’s attention to some truth about themselves or reality.” Mense op hierdie vlak wil ander mense help om hulle bewussyn te transformeer om hulle ware Natuur in die goddelike te realiseer.

 

Spiral Dynamics se Beck en Cowan (2006:6) het ses voorwaardes geïdentifiseer voordat permanente verandering kan plaasvind:

Eerstens; die potensiaal vir verandering moet teenwoordig wees.

Tweedens; indien daar enige onopgeloste probleme van die laer vlak teenwoordig is, kan groei na die volgende vlak nie plaasvind nie.

Derdens; daar moet ʼn voelbare dissonansie op die huidige vlak of vMEME wees voordat verandering verwelkom kan word.

Vierdens; daar moet genoegsame insig in die oorsake van die dissonansie en ʼn bewustheid van alternatiewe moontlike oplossings vir die ongelukkigheid teenwoordig wees.

Vyfdens; die spesifieke versperringe vir verandering moet korrek geïdentifiseer wees en dan geëlimineer, verbygegaan, geneutraliseer of in iets nuuts herontwerp word.

Sesdens; wanneer belangrike verandering plaasgevind het, volg ʼn tydperk van verwarring, lang leerprosesse en ongemaklike assimilasies terwyl konsolidasie plaasvind.   Indien daar nie ʼn ondersteunende kultuur tydens die transformasie is nie, sal die vMEME selde ontkiem, wat nog te sê van blom.

Kosmiese adres van God

Die navorsing toon dat daar ten minste ses ontwikkelingsvlakke is en drie perspektiewe, 1ste, 2de en derde persoon. Pas ons dit toe op ons verstaan van god dan bring dit ʼn ander siening van god na vore. Vir 2000 jaar het meeste Christene God net buite die mens, êrens daar bo in die hemel, gaan opsoek.  Opsigself is dit nie verkeerd nie, maar dit is slegs een uit 18 – 21 moontlike kosmiese adresse van God. Dit klink baie arrogant maar die term “Kosmiese adres van God” wil nie die woonplek van God opsoek nie maar eerder na die mens se geestelike ontwikkelingsvlak en uit watter perspektief, eerste, tweede of derde persoon, die mens ʼn verhouding met God het. Ons siening van God bepaal hoe ons in die wêreld lewe. Die Kosmiese adres van God is ʼn term wat Ken Wilber gebruik om aan te toon dat mense op agtien plus verskillende maniere God verstaan en beleef. (Wilber 2006:255) “So we need the altitude and the perspective of both the perceiver and the perceived. We can represent this simplistically as follows: Kosmic address = altitude + perspective.”  Die hoogte is die ontwikkelingsvlak van die waarnemer en die perspektief is 1ste, 2de of 3de persoon perspektief.

Wanneer mense van die eerste, tweede en derde persoon perspektiewe praat bedoel ons met die 1ste persoon perspektief die persoon wat praat, die “ek”. Met die 2de  persoon perspektief bedoel ons die persoon met wie ons praat, die “jy en jou” en die 3de persoon perspektief die persoon of ding waarvan die twee mense praat, die “sy, hy of dit.” Wanneer ons ervarings van God in die derde persoon het dan sien ons God as die Natuur, as dit wat ons kan bestudeer en vereer. Baie ekoloë sien God as die wonderlike en delikate ekosfeer of selfs Gaia.  Hulle beskou die mens as die indringer wat plek vir die natuur moet maak.  Die kosmiese adres van God vir die “natuurkinders” is die derde persoon perspektief op die rasionele en pluralistiese vlakke.  Die tweede persoon perspektief op God is vir ons almal bekend.  Ons aanbid God as die Een met wie om praat en spreek Hom aan as “U.”  God bly altyd buite die mens en gryp in wanneer ons Hom/Haar daartoe vra.  Angus Buchan verabsoluteer die tweede persoon perspektief op die mitologiese vlak met sy patriargale orde en absolute “waarhede.”

Die eerste persoon perspektief is wanneer ons eenheid met God ervaar en erken. Mistici van alle godsdienste het hierdie belewenis alhoewel nie alle kontemplatiewe Christene hierdie eenheid wil erken nie.  Wanneer Jesus sê, “Ek en die Vader is een,” dan bedoel hy dat alle mense van hierdie eenheid kan praat maar baie min mense ervaar die eenwees met God.  Meester Eckhart, ʼn Duitse Middeleeuse mistikus, het hierdie eenheid soos volg uitgedruk: “Die oog waarmee ek God waarneem is dieselfde oog waarmee God my sien.”  En ook: “Die een wat ken en die een wat geken word is Een.  Eenvoudige mense verbeel hulle dat hulle God daar moet sien staan en hulle hier.  Dis nie so nie.  Ek en God, ons is een in kennis.”

Indien Meester Eckhart vandag hierdie uitsprake sou maak sou nie net sy boeke “in die hel” gebrand het nie, maar sou hy ook heelwaarskynlik op die spreekwoordelike brandstapel beland het. Meeste kerkleiers en teoloë kom nie elke dag in aanraking met die soort taalgebruik en siening van God nie. Identifikasie of eenwording met God is vir meeste Protestantse Christene, wat God as die Gans Andere sien, onaanvaarbaar.  Moderne mistici soos Thomas Keating, Albert LaChance, en ander gebruik, seker uit vrees of omdat hulle nog op die mities letterlik of rasionele fases is, steeds taal wat op laer vlakke is, om die ervaring van God op die mistieke vlak te beskryf. Tog is hierdie belewenis van eenheid met God nie vreemd in die Christelike tradisie nie. Gedurende die Middeleeue, die tyd van Meester Eckhart, was daar ʼn hele aantal Christen mistici wat hulle eenheidservarings op skrif gestel het om ander die pad na hierdie eenheid aan te dui.  Theresa van Avila, Bernard van Clairvaux, Johannes van die Kruis, Francis van Assisi, en Hildegard van Bingen is ʼn aantal bekende kerklik historiese name.  Bernard McGinn noem in sy boek “The essential writings of Christian Mysticism; “om een met God te word is dikwels beskryf as die belangrikste kenmerk van mistici maar dat die wyse waarop hulle God se direkte teenwoordigheid beskryf verskil.”

Ongelukkig bied die kerk glad nie of baie selde geleenthede of maniere vir Christene wat na die mistieke vlakke toe wil beweeg, aan.  Alan Watts het reeds in 1971 in sy nuwe voorwoord van die heruitgawe van sy 1947 boek Behold the Spirit (1971:xxi) gewaarsku, “if Christian groups cannot or will not provide mystical religion, the work will be (and is already being) done by Hindus, Buddhists, Sufis, unaffiliated gurus, and growth centres.  Churchmen can no longer afford to laugh these things off as cultish vagaries for goofy and esoteric minorities – as if any intensive practice of religion had ever, anywhere at any time, been of interest to the majority of people.” Verder voer Watts in Behold the Spirit (1971:xiii) aan dat; “A Christianity which is not basically mystical must become either a political ideology or a mindless fundamentalism.”  Hoeveel kerke is reeds vandag nie, as gevolg van hulle weiering om die eenheid met God te erken, in politieke ideologieë of in gevaarlike fundamentalisme vasgevang nie?

Wat is mitologie?

Joseph Campbell (2001:1,2), ʼn kenner van wêreld mites, gee sy definisie van mites in Thou art that: transforming religious metaphor, soos volg: “No, myth is not a lie. A whole mythology is an organization of symbolic images and narratives, metaphorical of the possibilities of human experience and the fulfillment of a given culture at a given time.” Hy verduidelik verder: “Mythology is a system that endows the mind and the sentiments with a sense of participation in a field of meaning” (Campbell 2001:8). Dit beteken dat mense vanuit hulle omgewing stories skep om sin van hulle lewens en ervarings te maak, om te ervaar dat hulle lewe. Mense wat in die reënwoude bly se mitologieë is anders as nomadiese veeboere of landbouers van Afrika. Hulle verhoudings met die natuur en gode sal ook verskil. Die mites hang ook af op watter vlak van ontwikkeling die gemeenskap is.

Campbell gebruik die term “metaphorical” in sy definisie. Die mens kan slegs deur metafore oor die Onsienlike praat. Sallie McFague (1987:33-4) in Models of God: theology for an ecological, nuclear age, verduidelik metafoor soos volg: “Metaphor always has the character of ‘is’ and ‘is not’: an assertion is made but as a likely account rather than a definition. That is to say, ‘God is mother,’ is not to assert identity between the terms ‘God’ and ‘mother,’ but to suggest that we consider what we do not know how to talk about – relating to God – through the metaphor of mother.” Die kerk het egter die metafoor direk gaan vertaal wat eintlik ʼn verwarring tussen denotasie en konnotasie is. Campbell (2002:53) het in “Flight of the wild gander: explorations in the mythological dimension” dit betreur. Wanneer mitologie verkeerdelik as direkte geskiedenis of wetenskap gelees word, verander simbole in feite, metafore word dogma, en kerkgroepe baklei onder mekaar omdat hulle verkeerdelik hulle eie simboliese tekens as die hoogste werklikheid verstaan. Dit is egter nie net kerke wat baklei vir hulle waarhede nie; dink maar aan die stryd tussen Islam en Judaïsme, Sjinese Imperialisme en Tibettaanse Boeddhisme, Islam en Christene. Mense is bereid om dood en vernietiging te saai terwille van hulle sogenaamde “feite.”

Campbell beklemtoon die funksies van mites in meeste van sy werke. Hy (Campbell 2001:2-5) som die vier funksies soos volg op:

  1. Die metaforiese of mistieke funksie – die eerste funksie van mites is om verwondering vir die lewe – goed of kwaad – te skep waardeur die mens op drie maniere kan deelneem: om van die lewe te onttrek, of om deel te neem, of om iets te doen om die situasie te korrigeer
  2. Die kosmologiese funksie – die tweede funksie is om ʼn bestendige beeld van die wêreld voor te stel wat sin maak vir mense van hulle tyd. Die Bybelse kosmologie is sonder die insigte van die hedendaagse wetenskap en maak dus vir die moderne mens nie sin nie
  3. Die sosiologiese funksie – die derde funksie is om ʼn spesifieke morele orde te bevestig en te ondersteun. Alle mites kom uit sekere kulture en moet in die taal en simbole van die kultuur praat. Die mense word ook gevorm deur rites wat ʼn uitlewing van die mites is
  4. Die psigologiese (pedagogiese) funksie – die vierde funksie is om die individu deur die verskillende fases van die lewe te vergesel: “to help persons grasp the unfolding of life with integrity” (Campbell 2001:5).

In sy navorsing oor die Primitiewe, Oosterse, Westerse en kreatiewe mitologieë het Campbell agtergekom dat die verhale meestal handel oor ʼn held wat op reis gaan, opsoek na “’n skat” wat hy of sy na die stam, volk of die wêreld tot almal se voordeel kan terugbring. Soos meeste stories het die held se reis ook ʼn begin, middel en einde. In The hero with a thousand faces verdeel Campbell (2008:28-9) die reis in drie dele: Die eerste deel is verwydering of vertrek en het vyf stasies:

  1. Die Oproep tot die Avontuur, of die tekens van die held se roeping
  2. Die Weiering van die Oproep, of die nadele van die vlug weg van die gode of opdrag, soos Jona weg van Jahwe se opdrag gevlug het
  3. Bonatuurlike Hulp, onverwagse hulp aan die een wat die avontuur onderneem
  4. Die Oorsteek van die Oorgang
  5. Die Maag van die Walvis, of die reis in die nagtelike ruim, dink aan Jona in die maag van die vis

Die tweede seksie of die teenslae en oorwinnings van inisiasie, het ses stadia:

  1. Die Toetse Onderweg, of die gevaarlike aspekte van die gode
  2. Die Ontmoeting met die Godin, (Magna Mater), of die vreugde van verlore jeug
  3. Vrou as Verleidster, of die erkenning en pyn van Oedipus
  4. Versoening met die Vader
  5. Apoteose, of die verhoging tot goddelike status
  6. Die Groot Skat

Die derde deel of Die terugkeer en herintegrasie met die gemeenskap sluit af met ses stasies:

  1. Weiering om Terug te Keer, of om die wêreld te ontken
  2. Die Magiese Vlug, of die ontsnapping van Prometheus
  3. Redding van Buite
  4. Die Oorsteek van die Oorgang, of die terugkeer na die gewone lewe
  5. Die Meester van Twee Wêrelde
  6. Vryheid om te Lewe, die Natuur en funksie van die “groot skat”

Christopher Vogler, ʼn Hollywood draaiboekkonsultant, het ʼn groot verskeidenheid van draaiboeke geanaliseer en die held se reis soortgelyk aan Campbell se struktuur in baie films raakgesien. In The writer’s journey: mythic structures for writers, 3de uitgawe, sê Vogler die volgende oor die held:

 

In psychological terms, the archetype of the hero represents what Freud called the ego – that part of the personality that separates from the mother that considers itself distinct from the rest of the human race. Ultimately, a Hero is one who is able to transcend the bounds and illusions of the ego, but at first, Heroes are all ego; the I, the one, that personal identity who thinks it is separate from the rest of the group. The journey of many Heroes is the story of that separation from the family or tribe, equivalent to a child’s sense of separation from the mother. The Hero archetype represents the ego’s search for identity and wholeness (Vogler 2007:29-30).

Mens kan sê dat mites ʼn narratiewe struktuur van betekenis is en dat mense mites skep om hulle te help om sin van hulle bestaan te maak asook om die betekenis wat dit aan die lewe gee te verduidelik. Wanneer ons op die verskillende vlakke na mites kyk, beoordeel ons dit ook verskillend. Die een interpretasie van mites is nie meer reg as die ander nie. Dit hang net af op watter vlak jy daarna kyk.

Om mee af te sluit kan ons na uittreksels uit twee verskillende rolprente kyk. Die eerste van in die misdaad genre en die tweede in die wetenskapsfiksie kategorie. Die waarde van Wilber se AQAL kaart vir film is dat dit ons ʼn model gee waarvolgens ons die film as geheel kan beoordeel. Ons kan die narratiewe tegnieke van film soos skote, spesiale effekte, redigering, rolverdeling, toneelspel, mise-en-scène, met ander woorde, die uiterlik-sigbare elemente van film beoordeel. Dit val in die regter-boonste kwadrant – uiterlik enkelvoud. Ons kan ʼn film in die kollektiewe meervoud, die regter-onderste kwadrant volgens genre, konvensies, ikone, ensovoorts indeel.

Die linkerkantse, of te wel die innerlike, het meer met die filosofie, etiek en spiritualiteit van die betrokke film te doen. Die dimensie word dikwels deur resensente en kritici geïgnoreer.